Angolese president vandag hier
Angolese president vandag hier

Angolese president vandag hier

Die president van een van Namibië se buurlande sal tydens 'n amptelike besoek hier onder meer Cassingadag-vieringe bywoon.
Denver Kisting
Denver Kisting – Me. Grace Uushona, die Namibiese ambassadeur in Angola, het gisteroggend gesê dié twee lande kan meer op die handelsfront doen.

Tydens ’n ontbytprogram op NBC het Uushona gesê wedersydse handel is op die agenda vir die drie dag lange staatbesoek van president João Manuel Gonçalves Lourenço.

Lourenço kom vandag in Namibië aan en sal môre die 40ste herdenking van die Cassinga-slagting by Heldeakker buite Windhoek bywoon.

In ’n bondige verklaring wys die presidensie by monde van sy woordvoerder, dr. Alfredo Hengari, daarop dat dié Lourenço se eerste besoek aan Namibië is sedert hy in September verlede jaar aan bewind gekom het.

Hengari sê naas “sake van gemeenskaplike belang” sal die Ausspannplatz-sirkel ook tydens die ampsbesoek hernoem word na dr. Antonio Agostinho Neto-vierkant ter ere van die eerste Angolese staatshoof.

Hengari sê voorts ’n staatsdinee is vir vanaand beplan.

Môre se verrigtinge by Heldeakker gaan opnuut die gebeure van 4 Mei 1978 onder die soeklig plaas toe honderde Namibiërs en Angolese burgers deur Suid-Afrikaanse apartheidsmagte by die Cassinga-vlugtelingkamp in Angola om die lewe gebring is.

Uushona is ’n oorlewende van dié aanval en het tydens gisteroggend se program die pynlike herinneringe van daardie dag herroep.

Sy sê sy ervaar vier dekades ná die aanval steeds fisieke ongemak weens beserings wat sy destyds opgedoen het.

Tydens dieselfde TV-program het die permanente sekretaris in die ministerie van inligting en kommunikasietegnologie, mnr. Mbeuta Ua-Ndjarakana, gesê daar moet onthou word dat Namibiërs nie hul vryheid “op ’n silwer skinkbord gekry het nie”.

Derhalwe is dit belangrik om aan te hou om ’n dag soos Cassingadag, wat jaarliks ’n openbare vakansiedag is, te herdenk, sê hy.

Volgens hom het die regering voorsiening gemaak vir etlike duisende mense om môre se verrigtinge aan die buitewyke van die hoofstad by te woon.

Die eerste groep mense behoort reeds môre om 06:00 per munisipale bus by Heldeakker aan te kom aangesien hulle na verwagting reeds om 05:00 by die gewone optelpunte oral in die stad opgelaai word, het hy gesê.

Pres. Lourenço en sy afvaardiging vertrek weer Saterdag terug Luanda toe.

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer