Anita verbly kinderharte
Dié weeskind se hand staan vir niks verkeerd nie en sy streef om 'n verskil in kinders se lewens maak.
Tanja Bause
“Net ryk mense kan laat slaap, want hulle ken wat hulle gaan eet. Ons moes as kinders 04:00 opstaan om te bid en dan het ons aan die werk gespring. Eerstens moes ons die erf vee. My ouma het altyd gesê: 'Werk raak nie klaar nie, skep vir jouself werk en hou jouself besig,” sê Anita Gereses (45) van die informele buurt Okahandjapark.
Anita is op Gobabis gebore en haar ouma het haar gaan haal toe sy sowat vier maande oud was en Windhoek toe gebring. Sy het vir Anita grootgemaak.
“My ouma is dood toe ek tien jaar oud was en toe is ek tussen die familie rondgeskuif – van die een na die ander – soos dit nou maar met 'n weeskind gaan. Elke keer wanneer ek geskuif is, moes ek na 'n ander skool gaan. Ek was in skole op Omaruru, Okahandja en in Windhoek. Ek het matriek by die Hoërskool Augustinium in Windhoek klaargemaak.”
Anita het altyd haar beste op skool gegee.
“Ek wou nie druip nie, want ek was nie seker of die mense my dan nog sal toelaat om skool toe te gaan en of hulle my verder sal help nie. Ek het altyd probeer om die beste in die klas te doen sodat my familie trots op my kon wees.”
Sy wou verder gaan studeer, maar weens omstandighede en te min geld kon sy nie en het dus ná skool by 'n koffiekroeg in 'n inkoopsentrum in Windhoek begin werk.
LOOPBAAN
Anita het vir jare by verskeie koffiekroeë en lodges gewerk. Sy was van 'n kelnerin tot 'n ontvangsdame.
Sy het sale versier, skoongemaak en met gaste gewerk.
In 2019 het sy siek begin raak en was vir lang tye in die hospitaal en moes haar galblaas onder meer verwyder word. In 2020 het sy weens die Covid-19-pandemie se impak op die toerismebedryf haar werk verloor.
“Ek doen nou alles en enigiets, want my ouma het my geleer werk is werk en geen werk is benede jou nie. Ek werk as 'n tuinier, help by die kerk om brode te bak, versier sale en maak mense se huise skoon.”
KINDERS EN KERSPARTYTJIES
Anita het vyf kinders. Haar seun het in 'n tragiese ongeluk gesterf toe 'n voertuig hom omgery het. Sy sorg ook vir tien kinders van die gemeenskap.
“Ek help die ouers met toiletware en skryfbehoeftes. Die kinders kom eet ook by my en dan gaan hulle huis toe. Die nood is baie groot en ek help soos ek kan en as ek geld het.”
Die afgelope agt jaar hou sy 'n Kerspartytjie vir sowat 150 kinders.
“As 'n weeskind het ek baie Kersfeeste geen geskenke gekry nie. Mense koop vir hul eie kinders en ek was ook maar net daar en is eenkant toe geskuif. Dit is hoekom ek besluit het om die partytjie vir die kinders te hou, want in die informele nedersetting is daar baie kinders wat ook nie geskenke kry nie omdat hul ouers nie geld het nie.”
Op Kersdag staan Anita vroeg op en dan begin sy om haar huis te versier terwyl Kersliedere op die radio speel.
“Die kinders is altyd baie opgewonde en vroeg in die oggend hoor jy hulle soos voëltjies buite die huis roep 'Ousie Anita' en dan kruip hulle kamma weg.”
Anita en die kinders begin die dag met speel, sing en lag. Sy het altyd vir middagete kos gekook, maar die laaste twee jaar kry die kinders 'n worsbroodjie en 'n koeldrank.
Verlede jaar het Anita 200 kinders en 20 bejaardes na die partytjie genooi.
“Ek sit altyd 'n advertensie gedurende die jaar in die Republikein waar ek mense vra dat hulle hul ou geskenksakkies vir my gee. Ek maak die sakkies gedurende die jaar bymekaar. Die dag voor Kersfees sit ek tjips, stokkielekkers en kolwyntjies in die sakkies. Elke kind kry so 'n sakkie wat hulle huis toe kan vat.”
Die kinders kom en gaan heeldag en sommige kom eers laataand by haar aan.
“Soms voel dit asof daar net meer en meer kinders kom, dan kyk groot kinderoë vir jou en sagte stemmetjies wat sê: 'Ousie Anita ek het nog nie gekry nie'. Dan hardloop ek vinnig by my huis in, gryp 'n geskenksak en soek rond vir 'n lekker en 'n kolwyntjie. Elke kind wat by my huis aankom, kry 'n geskenksakkie met lekkergoed. Ek stuur nie 'n kind met leë hande weg nie.
“Ek weet hoe dit voel as jy sien hoe ander kinders geskenke kry en jy word oorgesien. Ek sal dit nooit aan 'n kind doen nie.”
Volgens Anita is dit soms moeilik om die kinders die aand huis toe te stuur ná die dag se vieringe, want hulle wil nog bietjie speel en sing.
“Van die kinders hang hul geskenksakkies in hul sinkhuis op. Die sakkies moet gesien word, so dit word as versiering opgehang. Dis baie oulik en dit raak 'n mens se hart om dit te sien. Dis so maklik om 'n kind se hart bly te maak.”
Volgens Anita raak die nood in die gemeenskap al hoe groter en erger.
“Met die Covid-19-pandemie het baie vroue wat voorheen as huishulpe gewerk het hul werk verloor. Baie omdat die werkgewer se salaris verminder is en die geld nou min is, of hul werkgewers dood is. Al dié vroue sit nou by die huis en hulle was baie kere die enigste broodwinners.”
GEMEENSKAP
Anita help waar sy kan in die gemeenskap – as haar finansies dit toelaat.
“Ek het altyd 'n paar pakkies sanitêre doekies by my huis. Meisies gaan nie skool toe nie en dit is nie goed nie. Hulle weet dat hulle 'n pakkie doekies by my kan kom haal wanneer hulle dit nodig het. Ek weet hoe dit voel wanneer jy menstrueer en jy het geen sanitêre doekies nie. Ek het as 'n jong meisie my tannie se sykouse gebruik net sodat ek skool toe kan gaan.
“Ek onthou nou nog hoe ek die hele dag eintlik nie kon konsentreer nie, omdat ek die heel tyd bang was die sykouse is nie genoeg nie en mense sal sien dat dit daai tyd van die maand was.”
Anita sê baie vroue kan weens armoede nie taxigeld bekostig wanneer hulle swanger is nie. Die vroue wag dan totdat dit amper te laat is en kraam in die bosse, of in ander mense se huise.
“Ek het onlangs vroegoggend met die kinders langs die pad gestaan en vir 'n taxi gewag. 'n Vrou het by ons aangekom, haar handsak by my neergesit en bos toe gegaan. Die taxi het gekom en ek wou nie haar sak daar los nie en het vir my kind gesê om dit vir haar te gee. My kind het aangehardloop gekom en gesê: “Mamma kom kyk, daar is 'n baba. Die vrou het net daar in die bosse gekraam.”
'n Ovahimba-vrou het voor Anita se huis gekraam.
“Ons het die ouma geroep om die naelstring af te knip. Ouma ken van dit en het dit al baie gedoen. Dit is die wonderlike ding van die lokasie; hier vat ons mekaar se hande as iemand in nood verkeer en help mekaar met wat en soos ons kan.”
Anita is gek oor lees en sy bring boeke en tydskrifte huis toe en wanneer sy dit klaar gelees het, gee sy dit vir die volgende vrou om te lees.
“Baie van die vroue sit die hele dag in die tombohuis met hul kinders. Wat eet die kinders? Dis baie hartseer. Van die vroue was klere by die tombohuise en word dan in 'n skaal tombo betaal. Hulle werk, maar kan nie kos op die tafel sit nie, want hulle word nie in kontant betaal nie. Ek gee vir hulle tydskrifte en dan kan hulle by die huis bly en lees. As jy iets het om te doen dan bly jy tuis.”
Anita het haar eie blomtuin begin waarop sy baie trots is.
“My ouma het altyd gesê: 'Sorg vir jou omgewing. Al is jy arm. Solank jou omgewing netjies is, lyk jy ryk'.”

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie