Annerie maak Namibiërs trots

“Ek sal dalk nie ’n kroon kan terugbring nie, maar ek sal hulpbronne terugbring.”
Yandi Du Plessis
Ten spyte van die teleurstellende nuus dat sy nie in Maart na die eindronde van die Mej Wêreld-skoonheidskompetisie sal terugkeer nie, is Namibië se verteenwoordiger, Annerie Maré, steeds besig om haar land trots te maak.

“Ek was meer hartseer oor die feit dat my projek nie die resultate opgelewer het waarvoor ek gehoop en gewerk het nie. Dit het my egter nie van stryk gebring nie, en my missie bly om Namibië te help om ’n florerende uitvoerproduk na die wêreld te word. Ek besef ek kan dit nie op my eie doen nie, maar dat dit as ’n nasie aangepak moet word,” sê sy.

Terwyl sy op die finale datums van die Mej. Wêreld-kompetisie gewag het, het Annerie besluit om tot Maart vanjaar in die Verenigde State (VSA) te bly, waar sy besig is by die Eagles Wings Educational Girls Home – ’n projek wat sy ook ’n paar jaar gelede in Namibië begin het.

“Ek sal ook voortgaan om bewustheid te skep vir my Beauty with Purpose-projek, en spesifiek die Ons Water, My Ontwikkeling-inisiatief wat daarop fokus om vroue en kinders met basiese landbouvaardighede toe te rus, om sodoende gemeenskappe te help met tuinmaak en die verkryging van skoon water.”

Annerie sê intussen het sy ’n vol program.

“Ek het al by skole, plase en by die grootste universiteit in Wes-Virginië gepraat, en met professore en studente in die landboudepartement vergader en gesels oor die kwessies wat ons in Namibië in die gesig staar en die oplossings wat beskikbaar is.”

Oor haar kompetisie-ervaring sê Annerie dit was die grootste eer om die geleentheid te hê om Namibië op die wêreldverhoog te verteenwoordig.

“Daar is talle wonderlike en waardevolle lewenslesse wat ek vir altyd saam met my sal dra ná hierdie ervaring,” vertel sy.

“Met my kennis en begrip van skoonheidswedstryde, wil ek graag toekomstige, jong skoonheidskoninginne mentor wat in nasionale en internasionale kompetisies gaan meeding. Om ’n motiveerder en inspirasie vir die volgende generasie te wees, is uiters belangrik om te help om verandering mee te bring aan Namibiërs se basiese behoeftes,” sê sy.

“Ek wil hulle daaraan herinner dat niks onmoontlik is nie en dat jy enigiets kan bereik as jy vat wat in jou hand is, al lyk dit aanvanklik na ’n klein begin. Ons is dalk ’n klein land, maar ons is so dapper soos leeus!”

Sy sê die Mej. Wêreld-kompetisie het haar lewe in soveel aspekte verander.

“Die voorreg om pragtige ambassadeurs van meer as 100 lande te leer ken, het my laat besef watter eer dit was om my nasie op ’n globale platform te verteenwoordig.

“Hierdie reis is soveel groter as ekself. Dit gaan oor my invloed vir my nasie op die wêreld – om ’n welwillendheidsambassadeur vir Namibië en ons mense te wees, om werklike verandering teweeg te bring.”

So, wat hou die toekoms vir Annerie in?

“Ek gaan saam met verskeie toerisme-organisasies werk om ons nasie met die wêreld te deel. Ek sal ook voortgaan om met jongmense te werk en hulle te help om hul doel in die lewe te vind, met die fokus op geestesgesondheid en lewensvaardighede. Dan sal ek aanhou werk aan Eagles Wings Girls Namibia en Heal the Land.

“Op ’n persoonlike noot sal ek fokus op my persoonlike parfuumreeks genaamd Anne7 Fragrances wat verlede jaar bekend gestel is, asook my baccalaureusgraad in berading voltooi.”

Kommentaar

Republikein 2024-12-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 24° | 37° Rundu: 19° | 33° Eenhana: 21° | 25° Oshakati: 20° | 26° Ruacana: 21° | 27° Tsumeb: 20° | 27° Otjiwarongo: 17° | 25° Omaruru: 20° | 31° Windhoek: 19° | 27° Gobabis: 19° | 27° Henties Bay: 16° | 22° Swakopmund: 16° | 17° Walvis Bay: 16° | 22° Rehoboth: 21° | 32° Mariental: 24° | 35° Keetmanshoop: 21° | 34° Aranos: 23° | 35° Lüderitz: 15° | 29° Ariamsvlei: 20° | 34° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 26° Gaborone: 20° | 29° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 28° Antananarivo: 13° | 32° Lilongwe: 22° | 34° Maputo: 23° | 39° Windhoek: 19° | 27° Cape Town: 18° | 22° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 16° | 24° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 22° | 35° Harare: 22° | 33° #REF! #REF!