• Tuisblad
  • Sake
  • Annuïteite: Onttrekkings laat gevaarligte flikker

Annuïteite: Onttrekkings laat gevaarligte flikker

Die versoeking om van 'n mens se aftreebeleggings te "leen" kan 'n mens in die langtermyn duur te staan kom.
Pensioentrekkers wat hul aftreegeld in lewende annuïteit belê het, het in 2016 gemiddeld 6,62% van hul kapitaal onttrek om van te leef.

Dit is die hoogste onttrekkingskoers die afgelope drie jaar, en steeds gemiddeld hoër as die 5% wat aanbeveel word. In die huidige omgewing van lae beleggingsopbrengs beveel sommige ontleders ’n onttrekkingskoers van so laag as 3%.

Veral aan die begin van jou aftrede help ’n laer onttrekkingskoers jou om nog kapitaal op te bou.

Volgens die nuutste jaarverslag oor annuïteite van die Vereniging vir Spaar en Belegging in Suid-Afrika (Asisa), die bedryfsliggaam vir lewensversekeraars en batebestuurders, was daar in 2016 altesame R333,2 miljard se aftreespaargeld in 380 185 lewende annuïteite onder bestuur. Die bedrag onder bestuur het met net 0,5% gegroei vergeleke met 2016. Daar is egter 7,5% minder lewende annuïteite.

Taryn Hirsch, senior beleidsadviseur van Asisa, sê die daling in die aantal annuïteite kan verskeie faktore weerspieël, soos sterftes of dat sommige mense hul lewende annuïteite in lewensannuïteite omgeskakel het.

Hirsch skryf die effens hoër onttrekkingskoers aan hoër inflasie in 2016 toe. Sy sê in die lig van die inflasiekoers van 6,6% is dit eintlik ’n “aangename verrassing” dat onttrekkingskoerse met so min gestyg het (net 0,18 van ’n persentasiepunt hoër as in 2015, toe inflasie net 4,6% was).

Die onttrekkingskoers is boonop vir die eerste keer nóg laer as die inflasiekoers, wat beteken dat pensioentrekkers en hul adviseurs “die gordel stywer getrek het eerder as om koerse beduidend te verhoog”, meen Hirsch.

Asisa meet die onttrekkingskoerse slegs sedert 2011.

Die opbrengs op die JSE se indeks van alle aandele, dividende ingesluit, was in 2016 nagenoeg 2,7%, maar die geldmark het ’n opbrengs van byna 7,7% opgelewer. Pensioentrekkers wat in betreklik konserwatiewe fondse belê het, het dus waarskynlik inflasie geklop of baie naby daaraan gekom.

Asisa beveel aan dat mense nie meer nie as 5% van hul kapitaal per jaar onttrek nie, maar altyd hul beleggingsopbrengs in ag neem.

Hirsch waarsku dat die meeste mense die gevaar loop dat hulle hul inkomste drasties sal moet verminder soos hulle ouer word indien hulle meer onttrek as hul beleggingsopbrengs.

3 faktore

Drie faktore bepaal of jou kapitaal in ’n lewende annuïteit “genoeg” sal wees:

Hoeveel geld jy elke jaar onttrek;

Hoe die onderliggende beleggings (effektetrustfondse) wat jy self gekies het, vaar; en

Hoe oud jy word.



Waarin mag jy belê?

Die Wet op Pensioenfondse se welbekende regulasie 28 skryf voor waarin jy jou aftreegeld mag spaar. Wanneer jy klaar afgetree het, geld dié beperkings nie vir lewende annuïteite nie.

Asisa beveel egter omsigtige beleggingsriglyne aan, wat ooreenstem met dié van regulasie 28.

Dit sluit die volgende maksimum blootstelling aan verskillend bateklasse in:

Aandele: 75%

Skuldinstrumente (geldmark): 50%

Buitelandse beleggings: 25%

Eiendom: 25%

Verskansingsfondse, private-ekwiteitsfondse en ander bates: 15%

Kommoditeite (bv. goud):10%

In 2016 het 31% van lewende annuïteite nié aan omsigtige beleggingsriglyne voldoen nie, vergeleke met 33,6% in 2015. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-12-29

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 21° | 34° Rundu: 20° | 28° Eenhana: 21° | 27° Oshakati: 24° | 29° Ruacana: 21° | 28° Tsumeb: 20° | 29° Otjiwarongo: 21° | 26° Omaruru: 22° | 31° Windhoek: 21° | 26° Gobabis: 21° | 31° Henties Bay: 16° | 22° Swakopmund: 17° | 19° Walvis Bay: 17° | 24° Rehoboth: 23° | 30° Mariental: 25° | 30° Keetmanshoop: 23° | 33° Aranos: 24° | 32° Lüderitz: 15° | 27° Ariamsvlei: 23° | 29° Oranjemund: 15° | 26° Luanda: 26° | 28° Gaborone: 20° | 33° Lubumbashi: 17° | 30° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 18° | 31° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 21° | 26° Maputo: 24° | 33° Windhoek: 21° | 26° Cape Town: 18° | 24° Durban: 21° | 29° Johannesburg: 17° | 27° Dar es Salaam: 27° | 32° Lusaka: 19° | 29° Harare: 18° | 25° #REF! #REF!