Anoeschka in wolke oor ’Vaselinetjie’
In 2005 is die boek met drie literêre pryse bekroon - 12 jaar later is die fliek die beste op die Silwerskermfees.
Tanja Bause - ’n Fliek wat op ’n oud-Namibiër se boek gebaseer is, het onlangs die hoogste hoogtes in Suid-Afrika bereik.
Vaselinetjie is onlangs as beste speelfilm van die jaar by kykNET se Silwerskermfees 2017 aangewys.
Die fliek is gebaseer op die roman met dieselfde naam en die skrywer Anoeschka von Meck se persoonlike ervarings as ’n versorger by ’n kinderhuis in Robertson in die Wes-Kaap.
Von Meck, wat gedeeltelik in McGregor in Suid-Afrika grootgeword het, sien haarself as ’n Namibiër omdat haar ouerhuis op Hentiesbaai was. Sy het haar joernalistieke loopbaan by Republikein begin en het later as senior joernalis by Rapport in Kaapstad gewerk. Sy het ook drie boeke geskryf, waarvan Vaselinetjie die bekendste een is.
In 2005 word Vaselinetjie met drie literêre pryse bekroon: Die M.E.R.-prys vir Jeuglektuur, die Jan Rabie-prys vir Vernuwende Afrikaanse Prosa en die M-Net-prys vir Afrikaanse tekste in kort formaat. Die daaropvolgende jaar ontvang die boek nog ’n besondere eer toe dit in die International Board on Books for Young People opgeneem is en sodoende deel van ’n rondreisende uitstalling van die beste jeugboeke ter wêreld geword het. Hierdie is ’n merkwaardige eer, aangesien min boeke wat nie in Engels is nie ooit dié gesogte lys maak. Vaselinetjie is ook met ’n ATKV-Kinderboektoekenning vir Graad 8 tot 10 bekroon en is reeds in sy 23ste druk.
Vaselinetjie is nou verfilm en Corné van Rooyen, regisseur, mededraaiboekskrywer en vervaardiger van die fliek, het entoesiasme, ervaring en talent gebruik om hierdie storie op film vas te lê deur magiese elemente te gebruik en deur maatskaplike kwessies met behulp van metafore aan te spreek.
Vaselinetjie vertel die verhaal van Helena “Stukkie Vaselinetjie” Bosman, ’n wit dogtertjie wat deur haar liefdevolle bruin grootouers op ’n afgeleë dorpie in die Noord-Kaap grootgemaak word. Wanneer die welsyn egter uitvind sy is nie die egpaar se biologiese kleinkind nie, gryp hulle in en besluit om haar na ’n staatsweeshuis in Johannesburg te stuur.
Die lewe in Johannesburg verskil hemelsbreed van haar vorige bestaan en is in skerp kontras daarmee. Vir die eerste keer word Vaselinetjie gekonfronteer met die lewe se wrede werklikhede, asook kinders wat deur hul ouers verwerp is en rook om vriende te maak en in te pas. In ’n wêreld waar niemand vir mekaar omgee nie leer sy om ook nie om te gee nie.
Dit is eers wanneer sy verlief raak op die rebelse weeshuisseun Texan Kirby dat sy gedwing word om die ware werklikheid van haar ingewikkelde verlede te konfronteer. Vaselinetjie is ’n storie oor die definiëring van die betekenis van ’n mense se identiteit en ras in die warboel van post-Apartheid Suid-Afrika.
Vaselinetjie word op 22 September in fliekteaters landswyd uitgereik.
Anoeschka von Meck antwoord ’n paar vrae ná sy gehoor het Vaselinetjie is as beste speelfilm by die Silwerskermfees aangewys.
Hoe voel dit?
Ek is in totale skok. Ek voel asof my hele wese een groot uitroepteken is wat net heeltyd vir VaderGod en Die Beminde dankie bly sê! Ek voel of 'n brander heuning van Goddelike guns my getref het, sowaar!
Wat het deur jou kop gegaan?
Met my aankoms Saterdag by die Silwerskermfees het ek heimlik die hoop gehad dat ons iets sou wen, maar soos die dag aangegaan het en jy sien en hoor van al die fantastiese ander rolprente waarmee ons meeding, het ek begin twyfel wat ons kans was. Heel aan die einde van die dag (wat by die luukse The Bay Hotel in Kampsbaai gehou is), is die toekenningseremonie - amper soos die Oscars! Hoewel ons in verskeie kategorieë benoem is, het ons nêrens gewen nie. My moed het tot in my boerestewels gesak en my ma het goed begin fluister van dit gaan nie altyd oor wen nie, maar ek moet eerder fokus op watter hengse eer dit is om my kop se karakters lewendig op die skerm te sien. Eintlik wou ek net huis toe gaan. Ek was lus vir koffie en eier op brood. En vir kaalvoet op my ouers se stoep sit. Ons was al by borge en toesprake en skielik sê hulle daar is nog 'n finale kategorie - vir die beste speelfilm van die fees.
En die wenner is . . . Vaselinetjie!
Ek het so geskrik dat ek vooroor gevou het (sover my borste toelaat, ha!) en begin snik! Later sou René van Rooyen, wat saam met haar man, Corné, die draaiboek geskryf het, vir my sê hulle was ewe geskok en toe hulle al op die verhoog staan, toe wonder hulle of hulle reg gehoor het? Hulle was net so stomgeslaan soos ek! René sê die eerste ding wat sy regtig kan onthou is waar hulle van die verhoog af gelei word en my in die gang kry en hulle sien net ek huil snot en trane, haha! En ek kerm 'maar ons het dan niks gewen nie', en toe wen ons skielik die grootste toekenning van die fees!
Jy was ook self baie betrokke by die maak van die fliek. Kan jy ons meer daaroor vertel?
Corné was so dierbaar met my en ek was behulpsaam met die soek van die regte plek om Vaselinetjie se tuisdorp en ouerhuis in die Noord-Kaap te soek. Uiteindelik was dit 'n vriendin van my van Springbok, Helen Bruwer, wat as tussenganger by die hof daar werk, wat vir Corné na die klein nedersettingkie van Bulletrap ('n dorpie) geneem het, en dit was toe presies wat ons gesoek het!
Enige staaltjies wat jy wil deel?
Ná die aankondiging dat Vaselinetjie gewen het, was ek en my ma terug in die hotelkamer. Dan huil ons, dan bid ons, dan skep ons eers asem voor ons verder huil. Ek staan toe met my selfoon in my hand, want ek meen ek moet nou iemand bel om die fantastiese nuus te deel.
"Wie kan ek bel? Ek wens Pa was hier,” sê ek.
"Nou bel jou pa!" sê my ma. My pa is Vloog Theron, wat op Okahandja grootgeword het, waar my oupa, Koos Theron, die stasiemeester was.
"Maar Pa is dood?"
"Bel hom nog in elk geval!"
Net my ma wat so 'n tipe antwoord sal gee, haha.
Toe lag ons lekker.
Waar bly jy?
Ek het ses jaar in Knysna op 'n eiland gebly en nou swerf ek tussen familie op Calvinia en die Kaap.
Wat is volgende op jou lys om te doen?
Ek het in 2015 my eerste animasiefliek geskryf en sal uit my nate wees as daai deur vir my sou kon oopgaan! Dit was die lekkerste skryfwerk wat ek al ooit gedoen het. Ek is tans op 'n sabbatsverlof en besig om ’n doktorsgraad klaar te maak.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie