Antieke Egiptiese ‘Pompeji’ gevind

Yandi Du Plessis
’n Antieke stad wat dateer uit die tyd van Amenhotep III, een van Egipte se magtigste farao’s, is die afgelope ses maande ontdek. Die Egiptiese argeoloog wat die opgrawings lei, Zahi Hawass, het Donderdag gesê dié faraoniese stad is meer as 3 400 jaar gelede gebou.

Sy span het aanvanklik verlede September begin soek na ’n grafkelder-tempel by Luxor aan die oewer van die Nylrivier, maar binne weke het hulle kleisteen-formasies ontdek. Dit het uiteindelik gelei tot die ontdekking van ’n goedbewaarde stad met mure wat nog staan en kamers vol gereedskap en gebruiksitems, soos ringe, skarabeë (Egiptiese heilige kewers), gekleurde kleipotte, en kleistene waarop seëls van Amenhotep III se cartouche (hiëroglief) aangebring is.

“Huise staan aan weerskante van die stad se strate . . . party se mure is tot 3 m hoog,” vertel Zahi.

Die opgrawings lê aan die wesoewer van Luxor, naby ander museums soos die Colossuss van Memnon, Medinet Haboe en Ramesseum (grafkelder van farao Ramses II), en is nie ver van die Vallei van die Konings af nie.

“Dit is ’n besonder belangrike ontdekking,” meen dr. Peter Lacovara, direkteur van die Antieke Egiptiese Argeologiese en Erfenisfonds in die VSA.

Hy meen hoe goed die stad bewaar gebly het en die getal items van daaglikse lewe wat ontdek is, herinner aan Pompeji, die stad naby Napels in Italië wat in die jaar 79 n.C. deur ’n uitbarsting van die vulkaan Vesuvius verswelg is. Dis in 1748 herontdek.

Daar is heelwat oonde en bakstapels ontdek waarmee glas- en geglasuurde erdewerk gemaak is, asook stukke van duisende beelde, sê dr. Betsy Bryan, ’n spesialis op die gebied van Amenhotep III se regeertydperk.

“Net om die vervaardigingsartefakte te ontdek, gee vir ons besonderhede oor hoe die Egiptenare onder ’n magtige en ryk regeerder soos Amenhotep III vermag het wat hulle het,” sê Betsy.

Die stad strek wes tot by die antieke werkersdorp Deir el-Medina, sê Zahi. Volgens historiese verwysings het dit drie van Amenhotep III se paleise en die koninkryk se administratiewe en nywerheidskern ingesluit. - Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer