Antindi se plek leeg in bokskringe
Die boksafrigter was daar vanaf die begindae van die MTC Nestor Tobias Akademie se sukses.
Andrew Poolman – Die afsterwe van die 46-jarige afrigter Joseph Antindi is 'n gevoelige verlies vir die ganse Namibiese boksgemeenskap.
Antindi, 'n jarelange afrigter by die MTC Nestor Sunshine Tobias Boks- en Fiksheidsakademie, is Donderdag in sy tuisnedersetting Akweenyanga in die Noorde van die land oorlede.
Sy suster Tresia het aan Republikein gesê Joseph was vir sowat twee maande in Windhoek siek.
Die akademie se eienaar en stigter, Nestor Tobias, sê Antindi het sy merk gelaat op die akademie en die land se boksgemeenskap.
“Hy sal altyd onthou word vir die rol wat hy gespeel het om Namibiese boks aan die groter wêreld bekend te stel. MTC Nestor Sunshine Promosies spreek sy innige meegevoel uit met sy familie en ons versoek boksentoesiaste om die familie in hul gebede te hou tydens hierdie moeilike tyd,” het Tobias aan die nuusagentskap Nampa gesê.
Volgens die promotor was Antindi in sy jonger dae self 'n bokser, wat in die weltergewigklas meegeding het voordat hy in 2003 by die MTC Nestor Sunshine Tobias-akademie as 'n afrigter aangesluit het.
Antindi het 'n belangrike rol in die loopbane van elk van die Sunshine-akademie se drie wêreldkampioene gespeel. Hy was 'n afrigter vir die liggewig Paulus (Hitman) Moses lank voordat hy in Januarie 2009 die WBA-wêreldgordel by Yusuke Kobori in Tokio, Japan, gaan afneem het.
Later het nog wêreldsukses gevolg met Paulus Ambunda (kapokgewig, IBO-kampioen in 2014) en die superliggewig Julius Indongo, wat eers die IBO-titel met 'n sensasionele vroeë uitklophou teen Eduard Troyanovsky in Moskou beklink het, voordat hy ook die WBA-baasskap by Ricky Burns in Glasgow, Skotland gaan afneem het.
Imms Moses, wat sy aanvanklike opgang as boksafrigter by die Sunshine-akademie gemaak het voordat hy later met sy eie AC Boxing-stal begin het, het ook 'n lang pad met Antindi gestap.
“Toe ek in 2003 of 2004 as afrigter by Sunshine begin het, was Joseph reeds daar betrokke. Ons het in dieselfde woonbuurt, Shandumbala, gewoon en ek en my broer (Hitman) het dikwels na die gimnasium gestap om daar te gaan oefen.
“Joseph was 'n baie aangename mens en 'n spanspeler. Hy was 'n man van min woorde en jy het hom nooit gehoor kla nie. Selfs wanneer hy eintlik ontevrede was, het hy vreedsaam gebly.
“Joseph was toegewyd tot sy sport en 'n uitnemende spanspeler. Namibië het meer van sy soort mense nodig en hy is 'n onvervangbare verlies. Min mense sou so beskikbaar gewees het om boksers van alle vlakke te help, selfs in tye wanneer daar nie geld ingekom het nie. Hy was van dag een af daar – van Frans (Rambo) Hantindi se eerste Afrika-titel, tot met die huidige geslag ontluikende boksers.
“Uiteraard het ons vele herinneringe gedeel – nie net met reise na oorsese bestemmings nie, maar ook op klubvlak. Ons het nog altyd goed oor die weg gekom en ek het nog met Joseph gesels die aand voordat hy oorlede is. Dit is baie hartseer.”
HULDEBLYKE
Op sosiale media het boksers en boksentoesiaste ook hul skok en hartseer oor die nuus uitgespreek.
Die huidige WBO Afrika-kampioen Jeremiah Nakathila, tans 'n sterk kandidaat vir 'n wêreldtitelgeveg (nr. 2 aanspraakmaker van die WBO) as superveergewig, se inskrywing lui: “Een van die hartseerste dae in die lewe is vandag. Rus in die paradys, my afrigter. Dit is moelik om te glo dat jy ons verlaat het. Jou bydrae tot boks in die land en ook tot my boksloopbaan sal altyd onthou en gewaardeer word.”
Die middelgewig Walter Kautondokwa het geskryf: “Baie hartseer, my broer is weg. Mag God se engel jou met liefde ontvang, my broer. 'n Puik afrigter, 'n nederige man. Jy sal altyd in my gedagtes wees, want jy het baie gedoen vir my loopbaan as 'n bokser. Rus in ewige vrede, afrigter Joseph.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie