Antjie Krog plaas gewraakte toespraak in konteks
Antjie Krog plaas gewraakte toespraak in konteks

Antjie Krog plaas gewraakte toespraak in konteks

Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer - Die veelbekroonde Suid-Afrikaanse digter, skrywer en akademikus, Antjie Krog, het in ’n radio-onderhoud die konteks verskaf vir ’n toespraak deur haar wat deur regse aktiviste gebruik word om haar in die sosiale media te verguis.
Krog, wat tans die Windhoek Woordfees bywoon, het vanoggend in ’n radio-onderhoud met Kanaal 7 gesê Praag (’n regse groep) het ’n reaksie op haar sleutelrede tydens die 2015 Sunday Times Literêre Toekennings, op sy webwerf geplaas.
“Nou is almal weer verskriklik kwaad daaroor,” het sy gesê met verwysing na aanvalle op haar in die sosiale media.
“Die eintlike punt wat ek wou maak is die hoe op aarde het ons wat wit is, ooit kon dink ons sou kon aanbly soos ons was en kon bly leef soos wat ons geleef het,” sê sy.
“Wat ek ook gesê het en wat nie enige reaksie uitlok nie, is wat is dit wat swartmense van witmense wil hê. . .
“Wat wil jy hê moet hulle doen. Waar wil jy hê moet hulle deelneem. Êrens moet jy tog ’n voorwaarde gee. Of gaan jy vir eeue lank al die skuld op hulle (witmense) pak,” het sy in die onderhoud gesê.
Sy het in haar toespraak wit Suid-Afrikaners opgeroep tot ’n daad van radikale uitreik na swartmense, soortgelyk aan wat oudpres. Nelson Mandela 24 jaar gelede gedoen het toe hy die Wêreldbeker-rugbytoernooi in 1995 met Francois Pienaar se rugbytrui aan bywoon het.
Sy het gesê dit is “miskien tyd vir Suid-Afrikaners om eerlik te praat, om brutale openbare gesprekke te voer”.
Krog, ’n professor in letterkunde aan die Universiteit van Wes-Kaapland, is vanaand tydens die Filosofiegesprek by die Woordfees aan die woord. Dr. Christo Lombard, ’n oud-kollega van haar wat deesdae in Windhoek woon, sal met haar gesels oor 25 jaar van ’n demokratiese Suid-Afrika.
Of versoening wel plaasgevind het, is een van die vrae wat bespreek sal word.
Sy het in die radio-onderhoud met verwysing na die tirades teen haar gesê dit is die kontemporêre media (sosiale media) wat aan almal ’n demokratiese stem gee.
“Ek self lees dit nooit. Ek gaan nie daarop in nie. Jy spandeer dae en weke in agonie. . . nee, ek het ander wonderlike dinge om te doen.”
Krog neem ook Saterdagoggend aan die Skrywersgesprekke deel, en sal die aand tydens die afsluitingsgeselligheid van haar gedigte voordra.

Foto: Netwerk 24

Kommentaar

Republikein 2025-04-12

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer