Apollo 11-euforie só onthou
Ronelle Rademeyer - Namibië se eie ruimteman, dr. Japie van Zyl, sê ’n getekende foto van die drie Apollo 11-ruimtevaarders, Neil Armstrong, Buzz Aldrin en Michael Collins, het sy lewendige belangstelling in die buitenste ruim verder aangevuur.
Sy ma het, ná hulle soos miljoene ander mense op 20 Julie 1969 in hul huis op Opuwo oor die radio na die maanlanding geluister het, ter wille van hom pen en papier opgeneem en aan die ruimtevaarders in Amerika geskryf. As opgeskote knaap het Van Zyl toe reeds “’n ding oor Nasa en die ruimte gehad”. Kort voor lank was die foto in die pos.
“Dit was ’n baie groot storie vir ’n mannetjie daar in Afrika om ’n foto te kon hê wat deur hulle self geteken is,” het hy vroeër die week in ’n telefoniese onderhoud oor dié geskiedkundige mylpaal van die mensdom gesê.
Van Zyl het in Maart as direkteur van sonnestelselverkenning by Nasa se Straalaandrywingslaboratorium (JPL) in Pasadena, Kalifornië, afgetree nadat hy in 1986 sy loopbaan as ruimtewetenskaplike daar begin het.
Hy is nou die uitvoerende hoof van Hydrosat – ’n maatskappy wat hy saam met vennote gestig het. Hulle gaan satelliete lanseer wat ingespan sal word om die waterbehoeftes van plante te bepaal. Hierdie ruimtetegnologie kan die mens in staat stel om water te bespaar en terselfdertyd meer voedsel te produseer.
Van Zyl sê wat die maanreis so ’n ongelooflike gebeurtenis gemaak het, is dat twee mense vir die eerste keer op ’n vaste oppervlak elders in ons sonnestelsel gestaan en terugkyk het na die aarde.
Op ’n vraag oor waar die mensdom hom oor nóg 50 jaar gaan bevind, antwoord hy: “Oor 50 jaar van nou af sal mense redelik gereeld op Mars en op die maan rondloop en in ruimtehotelle tuisgaan.”
Nasa beplan om in 2024 met die Apollo-program se opvolgsending, Artemis, ’n vrou na die maan te stuur. (Lees die berig op bl. 6.)
EUFORIE
Dr. Andreas Vogt, Namibiese skrywer en kultuurhistorikus, sê die maanlanding was ’n ongeëwenaarde euforiese ervaring vir die mensdom.
Hy het vyf dae voor sy sewende verjaardag, net soos die Van Zyls op Opuwo, die gebeurtenis by sy ouerhuis in Windhoek op die radio gevolg.
“Vir Namibiërs was dit lank voor die tyd van televisie; ons moes oor die draadloos daarna luister.”
Vogt sê al wat leef en beef was vasgevang in ’n maanmanie. “In die media en literatuur was daar ’n ontploffing van inligting oor die maanreis en hierdie ruimteprogram.”
Hy vertel die Amerikaanse oliemaatskappy, Caltex, het ’n Apollo-versamelbundel uitgereik en maangeesdriftiges soos hy kon deur brandstof by hierdie vulstasies in te gooi, plakkers oor die verskillende sendings bymekaarmaak.
Die bundel met plakkers is deel van sy versameling maanmemorabilia uit daardie tyd.
So ook ’n skooltaak wat hy ook soos duisende ander kinders in die sestigs en vroeë sewentigs oor die ruimte en die maanlanding gedoen het.
POLITIEKE WIL
Dr. Rhodri Evans, senior lektor in astrofisika aan die Universiteit van Namibia (Unam), sê hoewel sy ma hom wakker gemaak het om na die uitsending op televisie te kyk, kan hy dit nie onthou nie.
“Ek was maar vyf jaar oud. Ek onthou wel die latere maanreise, soos Apollo 16 en 17 in 1972.”
Evans, wat van Wallis af kom, sê sowat ’n derde van die wêreldbevolking het danksy die regstreekse uitsending beleef hoe ’n mens sy voet op ’n ander liggaam in ons sonnestelsel neersit.
Hy sê hy onthou hoe hy in Amerikaans by geleentheid ’n bufferplakker op ’n motor raakgelees het met die woorde: “From Kitty Hawk to the Moon in 66 years.”
Kitty Hawk was die Wright-broers se eerste motoriese vliegtuig.
Evans sê dit het hom laat besef watter groot tegnologiese sprong gemaak is. Daarom kan hy nie glo die mensdom het 50 jaar ná die maanlanding nie al groter ruimtespronge gemaak soos deur kolonies op Mars en die maan te vestig nie.
Die rede daarvoor, meen hy, is omdat daar nie vandag dieselfde politieke wil is as tydens die Koue Oorlog toe die Amerikaners die Russe die stryd in die ruimte aangesê het nie.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie