Appèl beoog teen Narimab se vryspraak

Die staat wil ’n appèl indien teen die kwytskelding in Maart vanjaar van ’n jong man wat van verkragting en moord op ’n skoolmeisie aangekla was.
Jacqueline Louw
Jacqueline Louw – Staatsadvokaat Ethel Ndlovu het waarnemende regter Boas Usiku Dinsdag (9 Mei) in die Windhoek hoërhof in kennis gestel dat die staat ’n aansoek om verlof tot appèl gaan indien teen sy vryspraak van Dimitri Narimab (29) op 15 Maart.

Die verhoor van Narimab se mede-beskuldigde, Ruben Fritz (22), wat steeds teregstaan op klagte in verband met die moord en verkragting van die 18-jarige meisie, sal uitgestel word totdat die appèl gefinaliseer is. Ndlovu is van mening dat die twee beskuldigdes saam verhoor behoort te word.

Die naakte liggaam van die jong meisie is op 1 April 2013 in bosse naby die Shandumbala woonbuurt van Katutura gevind.

Narimab en Fritz het beide skuld ontken op die klagte teen hulle met die aanvang van die verhoor in Februarie vanjaar.

Regter Usiku het Narimab in Maart onskuldig bevind op ’n klag van moord, twee klagte van verkragting, ’n klag van roof met verswarende omstandighede sowel as ’n klag van dwarsboming van die gereg. Tydens Narimab se vryspraak het Usiku gesê daar was geen direkte of omstandigheidsgetuienis wat Narimab aan die moord en verkragting van die meisie kon verbind nie.

Volgens getuienis wat vroeër vanjaar in die hof gelewer is, stem Fritz se DNA profiel ooreen met DNA monsters wat in die oorledene se liggaam en op kledingstukke op die toneel gevind is.

Volgens die klagstaat het Fritz en Narimab die tienermeisie gedurende die nag van 28 Maart en die vroeë oggendure van 29 Maart 2013 na ’n beboste area tussen die Shandumbala woonbuurt in Katatura en die Westelike verbypad geneem waar hulle haar om die beurt verkrag het. Volgens die staat het hulle haar daarna vermoor deur haar te verwurg en haar met ’n rots teen die kop te slaan waarna sy op die toneel aan erge kopbeserings beswyk het. Die staat het verder beweer dat die twee die oorledene ook van haar selfoon en klere beroof het.

Fritz sal weer op 13 Junie in die hoërhof verskyn waartydens hy in kennis gestel sal word oor die stand van die appèlaansoek teen Narimab se vryspreking. Fritz word deur prokureur Samson Enkali verteenwoordig.

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!