Appèl in renostersmokkelsaak toegestaan

NAMPA
Die hoërhof het Dinsdag verlof aan die staat toegestaan om te appelleer teen die tronkstraf wat aan vier Chinese burgers opgelê is in verband met 'n poging om renosterhorings in 2014 uit Namibië te smokkel.
Die vier Chinese is tussen Maart en Mei 2014 in hegtenis geneem en is op 30 September 2016 tot 14 jaar gevangenisstraf elk in Windhoek se streekhof gevonnis.
Senior staatsadvokaat, mnr. Simba Nduna, was nie tevrede met hierdie vonnisse nie en het 'n ­dringende aansoek in die hoërhof in Windhoek gebring vir verlof om teen die vonnisse te appelleer.
Die staat het betoog die vonnisse wat deur die streekhof opgelê is, is nie swaar genoeg in vergelyking met die straf wat in soortgelyke kriminele sake opgelê is nie.
Regter Christie Liebenberg het Dinsdag die staat se verlof om te appelleer toegestaan.
Li Zhibing (53), Li Xiaoliang (30) en die 49-jarige Pu Xuexin is op 24 Maart 2014 by die Internasionale Lughawe Hosea Kutako in hegtenis geneem met 14 renosterhorings ter waarde van meer as N$2,3 miljoen en 'n luiperdvel ter waarde van N$50 000 in hul bagasie.
Die vierde skuldige is Wang Hui (40), wat as die sleutelfiguur in dié renosterhoringsmokkeloperasie in Namibië beskou word. Hy is in Mei 2014 by die Windhoek Buiteklub in hegtenis geneem, waar die ander drie veroordeeldes gebly het voor hul mislukte poging om Namibië in Maart 2014 te verlaat.
Hulle is deur lede van die Namibiese polisie se eenheid vir beskermde hulpbronne in hegtenis geneem.
Die vier mans is elk deur landdros Alexis Diergaardt tot 14 jaar tronkstraf in die streekhof in Windhoek gevonnis nadat hulle skuldig bevind is op klagte van die onwettige handel in beskermde wildprodukte, die ­onwettige besit van wildprodukte en die onwettige uitvoer van wildprodukte uit Namibië sonder geldige permitte.
Mnr. Orben Sibeya het die vier Chinese verteenwoordig terwyl Nduna namens die staat opgetree het. -Nampa

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer