Apple u2018het geen redeu2019 om te spog oor herwinning
Apple u2018het geen redeu2019 om te spog oor herwinning

Apple ‘het geen rede’ om te spog oor herwinning

Sonder Daisy, hul robot, sou hierdie elemente weer gemyn moes word om nog toestelle te vervaardig, meen die maatskappy.
Petrus Malherbe – Byna twee ton aluminium, ’n ton koper en etlike kilogramme goud, silwer, tin en ander seldsame grondstowwe.

Apple is besig om die wêreld groen te verf, of so dink hy.

Kort voor Aardedag vroeër vanjaar het dié tegnologiereus Daisy, sy nuwe byderwetse herwinningsrobot, bekend gestel.

Daisy is spesiaal ontwerp om tot 200 ou iPhones per uur uitmekaar te haal en van waardevolle elemente en metale te stroop.

“Hierdie waardevolle materiaal is ideaal om nuwe produkte mee te maak,” sê Lisa Jackson, visepresident van omgewingsake, -beleid en sosiale ondernemings, in die maatskappy se jongste volhoubaarheidsverslag.

“Dié herwinningsproses is egter ongelooflik ingewikkeld en moeilik om doeltreffend te doen.”

Daisy is die oplossing.

Hierdie robot het die potensiaal om 1 900 kg aluminium, 710 kg koper, 1 kg goud, 7,5 kg silwer en heelwat ander seldsame aardelemente uit elke 100 000 iPhones te herwin en te sorteer, spog die maatskappy.

Sonder Daisy sou hierdie elemente weer gemyn moes word om nog toestelle te vervaardig, meen Apple.

Vasbeslote om te herwin

’n Jaar gelede het Apple homself daartoe verbind om “eendag” al sy nuwe produkte van herwinde materiaal te vervaardig en selfs die oorskot aan ander maatskappye te bied.

Die ontwikkeling van Daisy vorm deel van dié inisiatief, sê Jackson, hoewel die robot se impak en doeltreffendheid nog onduidelik is.

Tim Cook, uitvoerende hoof, het verlede week in New York bekend gemaak die nuwe MacBook Air- en Mac Mini-rekenaars gaan van 100% herwinde aluminium vervaardig word.

Elkeen toestel benodig sowat ’n halwe kilogram van dié buigbare metaal, wat meestal in die raam gebruik word.

Tot 25% van ’n iPhone se gewig bestaan ook daaruit, het die tegnologie-webblad Motherboard in ’n ontleding bevind.

Die ander materiale sluit in ’n groot hoeveelheid koper, kobalt sowel as titanium en yster.

Twee ander seldsame grondstowwe, yttrium en europium, is ook noodsaaklik vir die funksionering van enige iPhone. Yttrium word vir die fone se skerms benodig terwyl europium, een van die mees seldsame grondstowwe op aarde, onder meer die toestel laat vibreer as ’n boodskap of oproep ontvang word.

Apple spesifiseer nie hoeveel van hierdie skaars elemente deur Daisy herwin word nie. Dit word bloot saam met ander seldsame aardelemente soos cerium en terbium gegroepeer, waarvan die robot glo ’n totaal van 11 kg uit honderdduisend toestelle kan haal.

Dit is so dat minder van hierdie elemente uiteindelik in ’n Apple-toestel opeindig, maar omgewingsbewustes meen die grootskaalse gebruik van herwinde aluminium is nie so noemenswaardig soos wat Apple voorgee nie.

Herwinning van aluminium ‘alledaags’

Suid-Afrika ontgin meer as 700 000 metrieke ton aluminium per jaar en is een van die topproduseerders ter wêreld.

Sogenaamde “rooi modder” is ’n byproduk van die proses om aluminium uit die aarde se kors te onttrek. Dié hoogs alkaliese moddermengsel is skadelik vir die omgewing, maak grond onvrugbaar en besoedel waterbronne.

Vir elke ton aluminium wat ontgin word, word minstens net soveel rooi modder as byproduk vervaardig. Myne krap steeds kop oor hoe om behoorlik en op ’n omgewingsvriendelike manier daarvan ontslae te raak.

Derhalwe word meer as ’n kwart van die wêreld se aluminium reeds herwin. Suid-Afrika beoog om binne die volgende vyf haar tot 98% van sy aluminium te herwin, ’n vlak wat Brasilië reeds bereik het.

Gay Gordon-Byrne, uitvoerende direkteur van die Repair Association, ’n organisasie wat hom beywer vir die herwinning van ou elektroniese toestelle, meen Apple gebruik na alle waarskynlikheid aluminium wat reeds herwin is.

Die maatskappy verklap opvallend nie die oorsprong van sy herwinde aluminium nie, wat beteken nuwe toestelle sal na alle waarskynlikheid ook stukkies van ou koeldrankblikkies en motoronderdele bevat.

“Apple se aankondiging klink dalk edel en volhoubaar, maar dis haalbaar sonder veel moeite,” sê Gordon-Byrne in ’n onderhoud met Medium.

Kyle Wiens, uitvoerende hoof van iFixit en ’n kampvegter vir die herwinning van ou elektronika, stem saam.

“Aluminium is een van daardie goed wat ons nog altyd herwin het. Dis goedkoper as om daarvoor te myn, so daar is ’n sterk mark daarvoor.”

Wiens meen Apple oordryf deur te spog dat nuwe toestelle uit “100% herwinde aluminium” bestaan, siende dat dit so geredelik beskikbaar is.

Maar wat van die res?

Nietemin wys dié verbintenis van Apple op ’n veel groter probleem: die groeiende aantal ongebruikte elektronika wat nie behoorlik weggegooi word nie.

Luidens ’n verslag van die Verenigde Nasies weeg die hoeveelheid elektroniese rommel wat in 2016 weggegooi is soveel as 4 500 Eiffeltorings. Dit sluit toestelle soos yskaste, televisies, rekenaars, drukkers, hardeskywe en ook selfone in.

“Die bestuur van elektroniese rommel moet dringend aandag kry in vandag se digitale wêreld waar die gebruik van elektronika net toeneem,” het Houlin Zhao, sekretaris-generaal van die Internasionale Telekommunikasie-unie, in ’n verklaring gesê kort ná die uitreiking van die verslag.

Apple is geensins die enigste maatskappy wat met hierdie probleem worstel nie. Net 20% van elektroniese rommel word na raming herwin.

Die gemiddelde Apple-gebruiker vervang sy foon elke vier jaar, het navorsing bevind, en die maatskappy bied ’n program waarvolgens hy toestelle terugkoop teen ’n billike prys. Dieselfde vergunning geld in Suid-Afrika deur Apple se plaaslike verteenwoordiger, iStore.

Maar met meer as 1,3 miljard aktiewe toestelle reg oor die wêreld (en heelwat meer op ashope) maak Apple ’n beduidende bydrae tot die groeiende aantal gevaarlike elektroniese gemors wat die aarde besoedel.

En ten spyte van haar beste bedoelings, sal miljoene van dié toestelle waarskynlik nooit in Daisy se kloue beland nie. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!