Apple sê of jou iPhone jou afluister
Dis bog dat Apple deur middel van iPhones op mense spioeneer, het die maatskappy aan Amerikaanse wetgewers gesê.
Tegnologiegebruikers wonder al lank of ’n gebruiker se iPhone hom “afluister” en of klankopnames van alledaagse gesprekke aan Apple gestuur word.
In ’n brief aan federale wetgewers skryf Timothy Powderly, Apple se direkteur van federale sake, onomwonde “iPhones luister nie na gebruikers nie, behalwe om die ondubbelsinnige opdrag ‘Hey Siri’ te herken”.
“Die klant is nie ons produk nie en ons sakemodel is nie afhanklik daarvan dat ons groot hoeveelhede persoonlik identifiseerbare inligting insamel om aan adverteerders te bemark nie.”
CNN berig die brief is geskryf in reaksie op ’n versoek van die komitee van handel en energie aan Tim Cook, uitvoerende hoof van Apple, en Larry Page, sy eweknie by Google, om inligting te bekom oor die mate waarin slimfone data versamel.
Net soos Apple het Google ook ’n ingeboude funksie in sy Android-slimfone sodat die toestel kan reageer as die gebruiker “Hey Google” sê.
SIRI
Apple sê dit word duidelik op die foon se skerm aangedui as Siri, iOS se virtuele assistent wat deur middel van ’n gebruiker se stem opgeroep word, aan is. Met ander woorde gebruikers is deeglik bewus daarvan dat hul iPhone op daardie oomblik na hulle luister en dat die mikrofoon geaktiveer is.
Gebruikers kan ook enige tyd op die foon se verstellings Siri se toegang tot die foon se mikrofoon onttrek.
“Ons glo privaatheid is ’n fundamentele mensereg en ons het ons produkte doelbewus só ontwerp om so min van ons gebruikers se data as moontlik te versamel,” skryf Powderly.
Sover bekend het Google nog nie op die komitee se versoek gereageer nie. Die maatskappy wou ook nie kommentaar lewer nie, berig CNN. – Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie