Apple wil iPhone goedkoper maak
Apple wil iPhone goedkoper maak

Apple wil iPhone goedkoper maak

Petrus Malherbe – Apple is van plan om die eerste keer in elf jaar die prys van sekere van sy peperduur slimfone te verlaag in ’n poging om sy verkope ’n broodnodige hupstoot te gee.

iPhone-verkope het in die laaste kwartaal tot einde Desember met 15% gedaal, het die maatskappy Dinsdagaand bekend gemaak.

Terselfdertyd is sy totale inkomste 5% laer as ’n jaar gelede op $84,3 miljard.

Apple, wat 62% van sy inkomste buite Amerika verdien, struikel veral in China waar sy verkope met $4,8 miljard tot $13,2 miljard gedaal het.

iPhones, Mac-rekenaars en iPads het almal oor die Kerstyd swak verkoop, het Tim Cook, uitvoerende hoof van Apple, in ’n gesprek met beleggers gesê.

Minder mense het ook opgegradeer na nuwe toestelle in ’n jaar wat Apple nie minder nie as drie nuwe iPhones bekend gestel het.

Die swakker verkope word minstens gedeeltelik deur “verswakte ekonomiese groei” in China veroorsaak, sê Cook.

Die voortslepende handelsoorlog met Amerika, en China se streng regulasies rakende watter apps en speletjies in die land uitgereik mag word, het ook nie juis gehelp nie.

Die prys van Apple-produkte in lande buite Amerika word grootliks bepaal deur die betrokke land se wisselkoers met die dollar. Waar die dollar versterk, stoot dit die prys van Apple-produkte op.

Volgens Cook het die maatskappy nou besluit om pryse in sommige gebiede kunsmatig te verlaag, ongeag die wisselkoers, ten einde sy verkope aan te help.

Dit was die eerste Kersfees nóg dat Apple ’n verlangsaming in sy iPhone-verkope ervaar het, berig Reuters.

Die maatskappy het ook vir die eerste keer verklap hoeveel aktiewe iPhone-gebruikers daar is: 900 miljoen.

In totaal het Apple meer as 1,4 miljard aktiewe toestelle, wat slimfone, skootrekenaars, tabletrekenaars, Apple-TV’s en fiksheidsbandjies insluit.

Die maatskappy het ook vir die eerste keer verklap hoeveel aktiewe iPhone-gebruikers daar is: 900 miljoen.

Apple het reeds in 2016 die eenmiljard-kerf verbygesteek. In vergelyking het Google in 2017 gesê twee miljard mense gebruik Android-toestelle.

Al verkoop sy toestelle dalk swakker, maak Apple steeds potte vol geld met sy dienste, insluitend Apple Music. Dié diens het nou 50 miljoen betalende gebruikers, steeds beduidend minder as Spotify se 87 miljoen.

Bedryfsinkomste het met 19% gestyg tot $10,9 miljard. Verkope van sy bykomstighede soos die Apple-TV-toestel, AirPod-oorfone en die Apple Watch is ook 33% hoër as ’n jaar gelede.

Beleggers was wel die swak resultate te wagte en Cook het reeds maande gelede gewaarsku dat die nuwe iPhones swakker verkoop as verwag.

Derhalwe het die maatskappy se aandeelprys Dinsdag in nauurse verhandeling met byna 6% tot $164,24 gestyg.

“Ons meet nie ons sukses aan die laaste 90 dae nie,” het Cook gesê. “Ons bestuur Apple vir die lang termyn.” – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!