Appèlkomitee vir gebelgde sportlui in plek
Administrasie
Tielman van Lill – Me. Agnes Tjongarero, die minister van sport, jeug en nasionale diens, het gister op 'n mediakonferensie in Windhoek die nuut aangestelde appèlkomitee vir sportdispute bekendgestel.
Dié komitee bestaande uit me. Ruth Herunga (voorsitter), drs. Donovan Zealand en Marius Kudumo sal vir die volgende drie jaar dien.
Herunga het twee jaar gelede 'n mediastorm ontketen toe sy 'n hokkie-afrigter van rassisme beskuldig en op haar afdanking aangedring het, nadat haar dogter (14) uit die junior nasionale o.16-toerspan gelaat en na die o.18-toerspan bevorder is. Die afrigter is ná 'n ondersoek vrygespreek.
Nadat Namibië in 2012 vir die laaste keer 'n tydelike appèlkomitee gehad het om administratiewe knelpunte in sport te besleg, is dit die eerste keer dat die land weer oor so 'n uiters belangrike raad beskik.
Tjongarero sê dit is die ministerie se plig, met die magte ingevolge Wet 12 van 2003, om voortdurend verbeterings in die land se nukkerige sportmasjien aan te bring.
“Hierdie is ons bydrae om nasionale sportfederasies uit howe te hou om hul geskille op te los. Daarom het ons die appèlraad in die lewe geroep om sportliggame by te staan waar binnegevegte dreig om ons sport te ontwrig.
“Die komitee met net drie lede is (vanaf gister) tot 17 Augustus 2023 met 'n driejaarkontrak in die stoel. Niks is egter in yster gegiet nie. As lede voel die appèlstoel raak te warm, kan hulle enige tyd bedank en 'n nuwe lid sal aangewys word. Al drie lede kan nadat die drie jaar verstryk het, weer aangestel word.
“Dr. Zealand is ons kenner op sportgebied en het al in die verlede op 'n appèlkomitee gedien, terwyl dr. Kudumo sy vernuf in administratiewe sake sal aanwend. Die voorsitter is Herunga, wat 'n prokureur is, soos Wet 12 van 2003 bepaal.
“In sport is ons een groot familie in Namibië. Ons gesels lekker en werk lekker saam, maar ons baklei ook lekker met mekaar,” het die minister aan die nuut aangestelde lede gesê.
Me. Emma Kantema-Gaomas, die adjunkminister, het die drie komiteelede bedank.
“Namens die ministerie wil ek julle met jul aanstelling gelukwens. Baie dankie dat julle om aan boord gekom het en bereid is om die land te dien. Dit is 'n edele, maar 'n uitdagende en komplekse taak met vele fasette en intriges wat vir julle voorlê.
“Die wet maak voorsiening dat indien nodig, die appèlraad die diens van kundiges kan inroep om met 'n ondersoek te help,” het sy verduidelik.
Zealand, voorheen uitvoerende hoof van Krieket Namibië, het gesê: “Ek spreek graag my waardering teenoor die minister, die adjunkminister en hul span uit vir hul vertroue in ons. Ek weet ons sport gaan tans met vele uitdagings deur 'n moeilike tydperk.
“Dit gaan nie net oor die beperking wat Covid-19 op ons plaas nie, want daar is inderdaad baie dispute wat tans ons sporttoneel ontsier. En ongelukkig verskyn dié soort nuus altyd in die media.
“Al is ons bydrae hoe klein, is my wens dat ons kwelpunte suksesvol sal oplos. Ons wil graag hê dat nasionale beheerliggame die regte roete moet volg om hul besware te opper sodat geregtigheid kan seëvier.”
Kudumo is 'n gesoute beleidmaker vir die staat. “Ek hoop om positief by te dra deur die wet en die regulasies van die land te volg en 'n werkbare oplossing te vind waarby die land en sport sal baat. Ek weet sport speel 'n groot rol in ons gemeenskap om armoede te verlig en werk te verskaf.
“Ons kan nie te veel nie belowe nie, behalwe dat ons ons uiterste bes sal doen,” het Kudumo gesê.
Die Namibiese Sportkommissie sal die appèlkomitee met administratiewe take bystaan. Die raad sal slegs aan die ministerie van sport verantwoording doen en is nie deel van die Sportkommissie nie.
Die ministerie kon gister nie 'n vraag beantwoord of die ministerie by magte sal wees om 'n besluit van die komitee te veto nie.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie