Apteker: 'Lewens op spel'
Apteker: 'Lewens op spel'

Apteker: 'Lewens op spel'

Burokratiese rompslomp in Suid-Afrika staan in die weg van ongehinderde medisynelewe­ring aan Namibië.
Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht



Die burokratiese oponthoud deur die Suid-Afrikaanse ­Inkomstediens (SARS) wat die lewering van noodsaaklike medisyne aan Namibië vertraag, het reeds tot sterftes in die land gelei.

Verder is die verskaffingsketting ­internasionaal nie die buurland se intellektuele eiendom wat hy vir homself kan hou en sê “ons eerste en te hel met die res” nie.

Dit was die woorde van die ­ontstelde visepresident van die Aptekers­vereniging van Namibië (PSN), mnr. Uli Ritter, tydens 'n gesprek by die Covid-19-kommunikasiesentrum wat oor die heersende tekort aan nood­saaklike medikasie in Namibië ­gehandel het.

Ritter het gesê Suid-Afrika moet op streek- en wêreldvlak verantwoordelikheid toon vir menselewens “wat geweldig deur die reuse- en landswye tekort aan medisyne in die land geraak word”.

Volgens hom is dit die gevolg van burokratiese maatreëls wat tot die invul van “meer vorms en die aansoek van meer permitte” gelei het, wat nie voorheen die geval was nie.

“Dit is nie dat die medisyne nie ­beskikbaar is nie; dit is net die verskaffingsketting wat irrasioneel verhinder en geblokkeer word.”

Ritter sê dit is “vanuit 'n internasio­nale etiese perspektief” eenvoudig onaanvaarbaar dat ­kankerpasiënte desperaat vir opvolgmedikasie en ­genesing, nie hul medikasie kan kry nie. “Lewens is op die spel geplaas,” sê hy.

Ritter sê die ministeries van finansies en nywerheidsontwikkeling en handel is versoek om die probleem in samewerking met hul Suid-Afrikaanse eweknieë te beredder.

Volgens hom is die kommissie vir internasionale handelsadministrasie (Itac) se regulasies wat in Maart in Suid-Afrika uitgevaardig is en wat die obstruksie veroorsaak het, verlede week gedeeltelik “omgekeer en reggestel”.

Die grootste struikelblok is SARS se aandrang op 'n permit vir uitvoere wat egter steeds geld.

“Dit is nie 'n kwessie van ons is totaal afhanklik van Suid-Afrika omdat dit daar vervaardig word nie, maar omdat Gauteng die verspreidingsnaaf vir die subkontinent is en dit daarheen gestuur word. Dit is so verkeerd en oneties van die Suid-Afrikaanse regering om so op te tree, lewens is op die spel.”

Ritter het verwys na die landswye tekort aan voorbehoedmiddels en gesê die nasionale gevolge vir die land in terme van geboortes sal in die komende maande gesien word. Hy het beklemtoon nie alle voorbehoedmiddels pas by alle vroue nie en 'n verandering kan tot mediese toestande soos trombose lei.

Volgens Ritter is logistieke kanale vir die verskaffing van medisyne aanvanklik deur wêreldwye inperkings in lande vertraag, maar is dit egter gou weer reggestel.

Probleme het ontstaan toe buurlande volgens hom burokratiese struikelblokke ingestel het om te verseker dié lande het noodsaaklike medikasie in voorraad. Dit het tot ernstige tekorte gelei wat daagliks toeneem as gevolg van 'n uiters verlengde tydperk in die verskaffing van medikasie.

“Reëls en regulasies is ingestel wat dit baie moeilik gemaak het om medi­syne in te voer,” sê Ritter.

Hy het verwys na “kritieke ­stadiums” waar hele groepe medikasie soos insulien nie beskikbaar is nie en het beklemtoon dit is 'n “mensgemaakte probleem”.

Republikein het Ritter vir nadere inligting oor sterftes gekontak, maar hy het teen druktyd nog nie gereageer nie.

Me. Elina Veijo, aankopebestuurder van Cospharm Verspreiders, het daarop gewys Namibië is 'n netto-invoerder van farmaseutiese produkte. Sy sê 'n tekort aan rou materiaal en die inperking van China in Januarie het tot 'n verhoging in die pryse van medisyne gelei.

“Die tekort aan roumateriaal het die prys geweldig opgestoot. Lande soos Suid-Afrika en Asië het 'n beperking op uitvoere geplaas wat veroorsaak dat produkte soos pynstillers en antibiotika tans nêrens beskikbaar is nie en daar 'n reuse-agterstand in die verskaffing hiervan is,” sê Veijo.

Veijo het gemaan pryse sal eers weer afneem wanneer die wisselkoers verbeter en China “oop is vir handel” sodat vervaardigers goedkoper ­farmaseutiese roumateriaal kan bekom.

Volgens me. Seija Nakamhela, hoofapteker in die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste (MoHSS) se sentrale mediese store (CMS), is die hele verskaffingsproses omver gewerp. Dit het daartoe gelei dat die lae voorraadstapels vinnig ­uitgeput is sonder dat dit met nuwe voorrade aangevul is.

“Voorraad het nie ingekom wanneer en soos dit moes nie,” het sy gesê.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!