AR: 2020 sal jaar van revolusie wees
AR: 2020 sal jaar van revolusie wees

AR: 2020 sal jaar van revolusie wees

Leiers van die Regstellende Herposisioneringsbeweging (AR) het in hul nuwejaarsboodskap bevestig hulle gaan aan vanjaar se verkiesing van plaaslike owerhede en streekrade deelneem.
Jong vuurvreters in die Regstellende Herposisioneringsbeweging (AR) het 2020 tot die Jaar van Nasionale Revolusionêre Optrede verklaar.

Die beweging sal November se verkiesing van nuwe stads-, dorps- en streekrade gebruik om radikale veranderinge in grondhervorming en die voorsiening van menswaardige behuising af te dwing.

Mnr. Jop Amupanda, een van die AR se prominente leiers, het in September reeds gesê die beweging beskou beheer oor Windhoek se munisipaliteit as ’n eerste stap om die land te regeer.

In sy nuwejaarsboodskap vir 2020 sê die AR ’n konsultatiewe beraad sal in Februarie oor riglyne vir die verkiesings besluit. Dit sluit maatstawwe vir die registrasie van kandidate in.

Die beraad sal ’n span aanstel wat die AR se verkiesingsveldtog sal dryf en die hervorming van verkiesingswetgewing sal najaag, byvoorbeeld wat die gebruik van elektroniese stemmasjiene (EVM’s) betref. Die span sal met die Verkiesingskommissie van Namibië (ECN) in gesprek tree en, indien nodig, regstappe doen om hervorming af te dwing.

Die AR beplan ook ’n skynverkiesing voor Namibiërs weer na die stembus gaan.

Drie bykomende verkiesingspanne sal onderskeidelik geld insamel, alle kommunikasie behartig en strategie bepaal.

KANSVATTERS

Die beweging sê hy is bewus van opportuniste in die regerende party wat sy geledere probeer infiltreer. Kandidate sal daarom baie versigtig gekeur word.

Bywoning van die konferensie sal geskied op grond van uitnodiging en aansoeke.

Volgens die AR het hy grondhervorming en behuising sedert 2014 suksesvol deel van die nasionale agenda gemaak.

In die nuwejaarsboodskap word Vladimir Lenin se woorde onder meer gebruik: “Daar is dekades dat niks gebeur nie; en daar is weke waarin dekades afspeel.”

Die AR sê hy sal hom nie deur valse propaganda, inhegtenisnemings en ander optrede deur die polisie, weermag en intelligensiediens laat intimideer nie.

Die beweging voer aan die hoofde van talle staats- en regeringsbefondsde instellings is al versoek om sy aktiviste af te dank.

Danksy 2019, die Jaar van die Aktivis, het die AR volgens sy nuusvrystelling aktiewe ondersteuners oraloor die land gewerf en opgelei.

Dié mense het ook ondervinding in verkiesingspolitiek, organisering en mobilisering opgedoen.

‘NUWE ORDE’

Volgens die AR was die vryheidstryd wat tot 1989 geduur het ’n revolusionêre situasie, maar ’n “plastiek” politieke elite wat ’n pakt met eienaars van produksiemiddele gevorm het, het ware verandering verhoed en die jeug ontmagtig.

Die AR wil ’n nuwe orde skep wat die staat uit die “korrupte magte van kapitalisme en neoliberalisme” se hande sal bevry. Diegene moet volgens die beweging in kwarantyn geplaas en gelikwideer word.

Die werktuie wat die beweging hiervoor sal gebruik, sluit in “openbare debat, bestaande instellings, politieke mag en ander nodige middele”.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!