AR bevraagteken AG se aanstellingsproses
AR bevraagteken AG se aanstellingsproses

AR bevraagteken AG se aanstellingsproses

Geheimsinigheid en ’n tekort aan deursigtigheid belemmer geloofwaardigheid van die proses.
Augetto Graig
Augetto Graig – Die aanstellingsproses vir ’n aanklaer-generaal (AG) om me. Martha Imalwa – wat sedert 2004 dié sleutelpos beklee – te vervang of weer aan te stel, is korrup en moet gekanselleer en van nuuts af begin word.
Dit is die standpunt van die Affirmative Repositioning (AR) se aktivis, mnr. Job Amupanda. Die party beplan om volgende Dinsdag ’n landswye protesveldtog te hou as die proses voortduur.
Amupanda sê dit is nie ’n AR-kwessie nie, maar ’n nasionale kwessie omdat die AG oor vervolgings in die land besluit. Hy dring aan die aanstellingsproses kan veroorsaak dat die regbank van sy integriteit verloor, wat kan lei tot ’n mislukte staat indien dit nie nou gestop word nie.
Amupanda het Dinsdag gesê die geheimsinnige proses is ’n fiasko en die kortlys wat bestaan uit die voormalige landdros en aanklaer, me. Ruth Herunga, as ’n “eie doel” beskryf. Die ander kortlys- kandidate is die prokureur mnr. Taswald July en Imalwa.
Imalwa is Namibië se tweede aanklaer-generaal.
Haar voorganger, mnr. Hans Heyman, het in 2002 afgetree. Herunga is die stigter en voorsitter van die Namibian Women Lawyers’ Association en ’n lid van die Swapodinkskrum.
July is FNB Namibia se regsadviseur en ook ’n voormalige adjunk- aanklaer-generaal.
Vyf ander kandidate is reeds uitgeskakel hoewel geen amptelike korrespondensie oor dié kandidate ooit vrygestel nie.
Die AR se versoek vir onderhoude om in die openbaar plaas te vind, is ook verwerp.
Volgens Amupanda is die pos se aansoekvereistes verander, nadat Herunga in die sosiale media daaroor gekla het, deur die pos te heradverteer en die posvereistes sonder enige verduideliking te verandering.
“Die Regterlike Dienskommissie (JSC) het geswig voor die grille van hierdie ‘Staatshuisvriend’ en Swapo-meeloper en die vereistes verlaag,” sê hy.
Herunga se voorheen bedrywige Twitter-rekening is intussen verwyder.
Die grondwetkenner en politieke ontleder, prof. Nico Horn, sê dit is jammer die onderhoudsproses sal nie in die openbaar gehou word nie, want “dit sou ’n goeie les vir die publiek gewees het oor hoe hierdie besluite werk”.
“Ek dink tog ondervinding is belangrik vir so ’n pos.” Hy meen dit is nodig om te weet hoeveel ervaring hulle in die laer en hoër howe opgedoen het.
“Hulle moet darem weet hoe besluite in ons howe geneem word,” sê hy.
Ware kennis van die strafreg is vir Horn ’n vereiste vir die pos.
Oor verandering van die vereistes van die aansoekproses, sê Horn: “As dit waar is, het ek werklik bedenkinge. Dit is verkeerd, veral as net een voordeel daaruit trek,” sê hy.
“Ek weet ook nie wie die ander kandidate was wat aansoek gedoen het nie, so ons kan hulle nie met die kandidate vergelyk nie,” voeg Horn by.
Om Imalwa se naam op die kortlys te sien, is vir hom ook vreemd.
“Advertering van die pos impliseer die verwagting van ’n verandering,” sê hy.
Die “geheimsinnige JSC” is volgens Amupanda ’n werktuig van “die rykes en die korrupte politieke elite”. “Ons het nie ’n keuse as om te spekuleer nie. Ons werk hier in die donker,” sê hy.
Nog ’n voorbeeld van die justisie se minagting van Namibiërs se regte, is volgens hom die spoedige inrigting van ’n handelshof waar duur sake vinniger aangehoor word, terwyl daar al 25 jaar op ’n hof gewag word wat oor klein eise kan beslis.
[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!