AR braak gal oor viskwotaveiling
AR braak gal oor viskwotaveiling

AR braak gal oor viskwotaveiling

Die regering se plan om mariene hulpbronne aan die hoogste bieër te smous, het onder skoot beland.
Denver Kisting
Denver Kisting – Die People’s Litigation Centre (PLC), wat onder die vaandel van die Affirmative Repositioning (AR) gemoeid is met maatskaplike geregtigheid, waarsku oor die verdoemende gevolge van die regering se plan om viskwotas aan die hoogste bieër te smous.

Die PLC sê by monde van mnr. Mathias Haufiku, sy voorsitter, dié liggaam se hooffokus is om te verseker die regering tree te alle tye deursigtig op en word verantwoordbaar gehou.

Hy meen dit is belangrik dat Namibiëse se mariene hulpbronne beveilig word en nie uitgelewer word aan “enige politieke manipulasie soos die huidige beplande veiling nie”.

Haufiku sê die plan om viskwotas op te veil, is niks anders nie as ’n refleksreaksie om vinnig kontant in die hande te kry.

Hiernaas, vaar hy uit, is dié stap “’n duidelike erkenning van skuld dat die regering sedert onafhanklikwording versuim het om volhoubare maatstawwe daar te stel om die land se mariene hulpbronne aan te wend op ’n manier waarby alle Namibiërs baat vind. Om hierdie hulpbronne op te veil, sal slegs enkeles baat – ’n situasie wat verder die ongelykheidsgaping in die land sal vergroot.”

Die minister van visserye en mariene hulpbronne, dr. Albert Kawana, het verlede maand aangekondig ’n besluit is geneem om viskwotas aan die hoogste bieër op te veil.

Volgens die PLC word dit moontlik gemaak deur die “2015-Fishrot-wet” wat aan ’n minister ongekende magte en diskresie gee om met dié hulpbronne te maak soos hulle lus het.

Boonop help dié wet, wat ook deur Kawana se voorganger, oudminister Bernhard Esau, ingespan is, nie om werksgeleenthede binne die visbedryf te skep nie, waarsku Haufiku.

Hy meen Kawana se bewering dat die geld wat uit die veiling gemaak word tot die stryd teen Covid-19 aangewend sal word, het selfs gesondheidsowerhede verras.

Die PLC dring daarop aan dat die regering oop kaarte speel oor hoe die N$8,1 miljard-stimuluspakket aangewend is wat aan die begin van die uitbreking aangekondig is.

Om dít nie te doen nie en voort te gaan met die veiling van viskwotas sal die gebrek aan verantwoordbaarheid met die hantering van die pandemie verder onderskryf, sê Haufiku.

Die PLC doen ’n beroep op die regering om onmiddellik die veilingsplan te staak en dieper te besin oor die impak daarvan op Namibiërs.

Haufiku sê hulle het ’n brief aan Kawana en een aan mnr. Iipumbu Shiimi, die minister van finansies, gerig waarin hulle daarop aandring dat die plan laat vaar word.

Hulle vra ook dat alle belangstellende deelnemers aan dié “twyfelagtige bieproses” onttrek omdat die PLC regstappe beplan.

Sou dié voornemende bieërs nie onttrek nie en die beplande regstappe slaag, sal hulle reuseverliese ly, maan Haufiku.

Nóg Kawana nóg Shiimi het gister op navrae in dié verband gereageer. - [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-15

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 31° Rundu: 20° | 34° Eenhana: 21° | 34° Oshakati: 23° | 33° Ruacana: 20° | 30° Tsumeb: 21° | 33° Otjiwarongo: 20° | 31° Omaruru: 25° | 34° Windhoek: 20° | 31° Gobabis: 21° | 33° Henties Bay: 16° | 24° Swakopmund: 16° | 17° Walvis Bay: 16° | 23° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 22° | 38° Aranos: 23° | 36° Lüderitz: 16° | 28° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 20° | 34° Lubumbashi: 18° | 33° Mbabane: 16° | 31° Maseru: 14° | 30° Antananarivo: 13° | 32° Lilongwe: 19° | 32° Maputo: 19° | 33° Windhoek: 20° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 18° | 27° Johannesburg: 16° | 29° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 19° | 29° Harare: 16° | 26° #REF! #REF!