AR wil oor hoofstad koning kraai
Denver Kisting
Die uitgesproke vuurvreter van die Affirmative Repositioning (AR), dr. Job Amupanda, is só vol vertroue hy is die volgende burgemeester van die Windhoek-munisipaliteit (CoW) dat hy reeds wyd en syd dié boodskap verkondig.
Hoewel die AR reeds lank veral in die hoofstad druk op die regering van die dag uitoefen, neem die organisasie op 25 November vanjaar vir die eerste keer aan 'n verkiesing deel.
Só oortuig is Amupanda oor sy saak dat hy onlangs 'n brief aan die inspekteur-generaal van die Namibiese polisie, lt.genl. Sebastian Ndeitunga, gerig het waarin hy die nasionale polisiebaas vra om sy lede in te lig hul behuisingskopsere is binnekort iets van die verlede.
“Ons polisiebeamptes ly en ons móét iets daaromtrent doen,” sê dié hoogleraar in politieke wetenskap wat vroeër vanjaar sy doktorsgraad verwerf het.
In die brief aan Ndeitunga op 19 Oktober skryf Amupanda: “Soos dit aan u bekend is, en soos dit aan die mense van Namibië gekommunikeer is in September 2019, het ek 'n besluit geneem om die Windhoek-munisipaliteit oor te neem om vasberade en beslissende leierskap aan die land se hoofstad te bied.”
Hy belowe 'n behuisingsprogram wat spesifiek op polisielede gerig is om aan lede van die mag bekostigbare behuising te bied.
Die stad se behuisingsnood is nóg deur die AR nóg deur die polisie se toedoen, skryf Amupanda. Kapitaliste is daarvoor aanspreeklik, meen hy.
Dae later het hy laat weet die ontvangs van sy skrywe aan die polisiebaas is via e-pos erken.
CoW gaan al vir jare gebuk onder finansiële ellende en haal dikwels die nuus weens beweerde magsvergrype.
Die verdeeldheid binne die leierskap van CoW dreig om dié plaaslike owerheid oor die afgrond te stuur, het Republikein vroeër berig.
Beweerde magsvergrype – aan die hand van die stadspolisiehoof, mnr. Abraham Kanime en sommige Swapo-raadslede en bestuurslui – het die CoW opnuut vanjaar in 'n krisis gedompel.
Dié nuus het gekom te midde van onthullings dat raadslede maandeliks tussen N$30 000 en N$40 000 verdien.
Hiernaas kry hulle vir elke vergadering na wat verneem word sowat N$1 000 en verdien 'n maandelikse vervoertoelaag van tussen N$3 000 en N$4 000.
Ondanks dié vervoertoelaag maak raadslede glo van raadsvoertuie gebruik om na raadsake om te sien.
Mnr. Graham Hopwood, die uitvoerende direkteur van die Instituut vir Openbare Beleidsnavorsing (IPPR), sê: “Ons weet net nie met hierdie verkiesings nie – ons het geen meningspeilings nie, ons het nuwe partye en kandidate en die politieke landskap is aan die verander.”
Oor Amupanda se ambisies, meen 'n ontleder op voorwaarde van anonimiteit: “Ek dink hulle sal miskien drie of vier setels kry, maar nie genoeg om beheer oor te neem of vir Job as burgemeester in te huldig nie. Die interessante een vir my is die Independent Patriots for Change (IPC). Hulle doen baie min sigbare veldtogwerk, maar blyk steun te geniet.”
Dr. Panduleni Itula, die oud-Swapolid wat verlede jaar as onafhanklike kandidaat aan die presidensiële verkiesings deelgeneem het, het vanjaar die IPC begin.
- [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie