Arandis-moorde: Polisie soek hulp
Twee mans is laas week ondervra oor die dubbele moord by Arandis, maar tot dusver is niemand in dié verband in hegtenis geneem nie.
Augetto Graig - Die polisie soek hulp met die opspoor van die aanvaller of aanvallers in die dubbele moord by Arandis verlede Maandag.
Mnr. Eckhart Mueller (72), die uitvoerende direkteur van die Namibië Instituut van Mynbou en Tegnologie (Nimt), en sy adjunk, mnr. Heimo Hellwig (60), is tussen 06:30 en 07:00 op 15 April koelbloedig doodgeskiet toe hulle vir werk by Nimt se Arandis-kampus, sowat 60 km oos van Swakopmund, opgedaag het.
Volgens adj.komm. Erastus Iikuyu, die Namibiese polisie se koördineerder van misdaadondersoeke in die Erongostreek, is twee mans Donderdag vir ondervraging in die verband aangehou, maar dieselfde dag weer vrygelaat. Een van die mans is net daarna vir die onwettige besit van ammunisie gearresteer. Iikuyu sê hy is met twee patrone vir ’n .22-geweer gevind en sal vandag in die Karibib-landdroshof verskyn.
Volgens Iikuyu het die polisie die publiek se hulp nodig wat leidrade betref.
“As enige iemand enige iets op die dag (van die moorde) opgemerk het, kan hulle die ondersoekbeamptes kontak,” het hy gesê.
Op die dag van die moorde het 'n getuie vir Republikein gesê daar is “baie skote gehoor wat afgevuur word.” Geskokte personeellede en studente is later deur die polisie huis toe te gestuur.
Die dogter van een van die slagoffers, me. Bianca Hellwig, het net ná 07:00 op haar pa, Heimo, se lyk afgekom. Sy is ook ’n werknemer by die Arandiskampus.
Adj.komm. Edwin Kanguatjivi, die nasionale polisiewoordvoerder, het gesê agt leë patroondoppies is op die toneel gevind. Volgens hom is ’n 9 mm-wapen vir die moorde gebruik.
’n Ander bron het gesê: “Die moorde is baie professioneel uitgevoer.” Ondanks wye bespiegeling is die motief vir die moorde steeds onbekend.
Nimt was die laaste ruk pal in die nuus – dikwels om verkeerde redes. Die bestuur, onder leiding van Mueller, het onlangs ’n mosie van wantroue in die raad gestel. Nuus oor moontlike afleggings was ook deurgaans op die voorgrond.
Mueller se seun, die Windhoekse prokureur mnr. Richard Mueller, sê sy pa het net die vorige Sondag uit Kaapstad van sy suster, me. Gudrun Kitshoff, se begrafnis af teruggekeer. Boonop is Mueller se vrou, me. Gudrun Mueller, drie maande gelede ook dood, sê Richard.
Gister teen druktyd is niemand nog in verband met die moorde in hegtenis geneem nie.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie