Aranos hou 3de WB in visier

Rugby
Owen Kock – Terwyl vele rugbyspelers en hul agente rondskarrel om spanne te soek of om nuwe kontrakte te beding terwyl die venster vir onderhandelinge tans oop is, droom die Cheetahs se Namibiese stut, Aranos Coetzee, reeds oor die volgende Wêreldbeker-toernooi in 2023 in Frankryk.

Sy kontrak met die Cheetahs verstryk in Oktober 2022 en hy sal dan reeds 34 jaar oud wees, maar hy glo daar is nog baie rugby in hom oor.

“Ek sal nog graag wil aanhou rugby speel. Ons sal maar sien wat die toekoms inhou. Ek sal graag in nog 'n Wêreldbeker ook wil speel, maar sal eers moet sien of Namibië vir die toernooi gaan kwalifiseer,” sê Coetzee.

Ook hy voel maar gefrustreerd oor die nasionale inperking en die feit dat hy weens die Covid-19-pandemie nie kan rugby speel nie, maar het daarmee vrede gemaak.

Hy is veral verlig dat Suid-Afrika na vlak 4 van die inperking beweeg het, wat beteken hy kan in Woodland Hills in Bloemfontein (waar hy en sy gesin woon) gaan draf. Hy oefen verder by die huis met gewigte om hom fiks te hou.

“Ek spandeer natuurlik ook nou baie meer tyd met my vrou, Minette, en twee dogtertjies, Arné en Mienka. En natuurlik kry ons ook die kans om meer saam te braai.”

Hy hoop soos alle rugbyspelers en sportmense wêreldwyd dat hulle so spoedig moontlik tot die veld mag terugkeer, maar sê hy kan nie sien dat dit binne die volgende vier maande sal gebeur nie.

“Realisties gesproke hoop en glo ek teen September behoort ons na die veld terug te keer, dalk vroeër, maar dit sal dan in leë stadions geskied,” sê hy.

Namibië se toetse in Mei en Junie, onderskeidelik teen Zambië en Madagaskar, is uitgestel en dit is ook nog nie seker hoe die res van hul jaar gaan lyk nie.

“Ek sou nie deel van daardie wedstryde gewees het nie. Dinge is maar bietjie deurmekaar op die oomblik. My eerste prioriteit lê by die Cheetahs. So ek sal eers moet sien hoe werk die dinge verder uit vanjaar wat Namibië se internasionale wedstryde betref.”

Hy glo nie 'n land soos Namibië, waar die Covid-19-gevalle steeds net op 16 staan sonder enige sterfte, se rugby gaan so swaar soos die res van die wêreld s'n deur die pandemie getref word nie.

“Ek het baie lanklaas kontak met die Namibië Rugbyunie gehad, omdat alles nou stilstaan. Ons speel maar taamlik min wedstryde gedurende die jaar. Die ergste wat sal gebeur, is dat datums net aangeskuif word,” sê Coetzee, wat reeds 24 toetse sedert 2015 gespeel het.

– Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!