Arbeid en opleiding
Arbeid en opleiding

Arbeid en opleiding

Dani Booysen
Op Werkersdag is opleiding byna altyd 'n belangrike onderwerp in toesprake.

As werktuig om die arbeidsmag te bemagtig, is opleiding 'n uiters belangrike wapen in die stryd om vooruitgang.

Verlede week het die Namibiese Opleidingsowerheid (NTA) met Republikein oop kaarte gespeel oor die administrasie van die opleidingsheffing wat groter werkgewers betaal.

Sedert die 2014-'15-boekjaar is N$1,3 miljard se heffings ingevorder. Die geld het beslis groot stukrag aan beroepsopleiding verleen.

Van die data wek wel kommer.

Minder as 20%, of een uit vyf van tussen 2 000 en 3 000 werkgewers, eis die toelaatbare 50% van die heffing vir interne opleiding terug. Meer as 80% van ondernemings skryf by implikasie hul bydrae as net nog 'n belasting “af” sonder om 'n teenprestasie met opleiding te lewer.

In sekere lande is die eiskoers ook laag, maar in Maleisië eis 65% van werkgewers geld terug.

'n Tweede bron van kommer is die tempo waarteen terugbetalings geskied. Byna 'n jaar nadat vorige eise ingedien moes gewees het, het meer as 90 ondernemings steeds op terugbetalings gewag. Dit bemoeilik kontantvloei en herbelegging.

Die egtheid en relevansie van werkgewers se opleidingsinisiatiewe moet nagegaan word. Dit voorkom die misbruik van die stelsel.

Rompslomp en uiters lang wagtye vir die terugbetaling van regmatige beleggings in opleiding skep nie net frustrasie nie, maar kan inkoop by die stelsel ondermyn.

Die NTA ondersoek eenvoudiger prosesse, maar dit moet bespoedig word.



So sê ander

30 April 2018



Beeld en Die Burger sê



Die manier waarop transformasie veral in die staatsektor toegepas is, is een van die faktore wat gelei het tot die skouspelagtige ineenstorting van dienslewering.

Die staatsdiens het tans die meeste mense in die land se geskiedenis in diens, met 'n salarisrekening wat onbekostigbaar is en 'n uitset wat ver benede peil is.

Daarom is dit jammer dat die Menseregtekommissie (MRK) en die departement van hoër onderwys en opleiding ongekwalifiseerde uitsprake in die parlement gemaak het oor hoe transformasie aan openbare universiteite tekort skiet en sterk deur die regering gedryf moet word.

Eerder as om blindelings agter die regering se retoriek aan te hardloop, is dit die MRK se plig om aan te dui presies hoe menseregte bevorder gaan word met wat hulle by universiteite wil vermag. En hoe hulle die mislukkings van transformasie daar gaan voorkom.

• NETWERK24

Kommentaar

Republikein 2025-04-18

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer