Arendsou00eb op nuwe Gupta-bank
Arendsou00eb op nuwe Gupta-bank

Arendsoë op nuwe Gupta-bank

Die Gupta-familie, waarmee nie een van Suid-Afrika se vier groot banke wil sake doen nie, kan een stap nader daaraan wees om ’n oplossing vir hul probleem te vind.
Estelle de Bruyn
Die Mededingingskommissie in Suid-Afrika het Maandag ’n samesmelting tussen Habib Overseas Bank en ’n maatskappy wat deur familievriende van die omstrede Gupta-familie, Salim Aziz Essa en Hamza Farooqui, besit word, goedgekeur.

Die kommissie sê hy keur die tussentydse samesmelting waar “Vardospan beplan om Habib Overseas Bank te verkry” sonder enige voorwaardes goed.

Die Guptas hoop hulle kan vandeesweek in hofdokumente bewys daar is ’n komplot teen hul sakebedrywighede in Suid-Afrika wanneer hulle ’n beëdigde verklaring inhandig in reaksie op Pravin Gordhan, minister van finansies, se versoek aan die hooggeregshof om hom te beskerm om namens die Guptas in te gryp.

Gordhan se aansoek in Oktober 2016 wys die Gupta-familie word deur die finansiële intelligensiesentrum ondersoek oor meer as 70 transaksies van bykans R7 miljard.

Gordhan se aansoek het banke geforseer om te onthul hoekom hulle bande met die Guptas verbreek het. Hulle het gereageer en die hoofrede wat gegee is, is polities blootgestelde persone, reputasie- en sakerisiko asook bedenklike transaksies.

Die Guptas, wat steeds poog om hul sakeondernemings te verkoop, gebruik die Indiese Bank of Beroda vir hul bedrywighede. Die Indiese bank is onder druk en is verskeie kere in die openbare beskermer se verslag oor staatskaping in 2016 genoem.

Die nuutste poging om ’n nuwe bank te skep, het in November aan die lig gekom toe Mail & Guardian oor besonderhede van dié planne berig het.

Goedkeuring deur die Mededingingskommissie het dié verslag bevestig.

“Vardospan is onlangs vir die doel van dié transaksie geskep en doen nie enige sake nie,” sê die kommissie.

“Vardospan word gesamentlik deur Cinq Holdings en Pearl Capital Group beheer.

“Cinq en Pearl Capital is ook onlangs geskep en word afsonderlik deur twee individue beheer.”

Die twee individue is volgens die maatskappye en intellektuele eiendomskommissie Essa (Cinq) en Farooqui (Pearl Capital).

Die twee koop volgens Mail & Guardian die bank vir R450 miljoen.

Bronne sê “ ’n aansoek vir ’n banklisensie is voor die reguleerder maar die Reserwebank wil dit nie bevestig nie”.

Habib Bank word deur Pitcairns, ’n maatskappy wat in Luxemburg geregistreer is, beheer.

“Pitcairns is ’n geregistreerde bank wat ’n reeks bankprodukte en -dienste bied,” sê die kommissie.

“Die kommissie vind dus geen oorvleueling in die aktiwiteite van die maatskappye wat saamsmelt nie,” sê hy.

Habib Bank “is by bankdienste betrokke en Vardospan is geskep vir die doel van die voorgestelde transaksie”.

“Die individu (Essa) wat Cinq beheer, is betrokke by eiendom, sake- en bestuurskonsultasie, verwerking van metaal en prospektering vir steenkool en mynbou,” sê die kommissie.

Hy het ook ’n belang by “VR Laser Services wat bande met die Guptas het sowel as Tegeta Exploration and Resources wat Optimum Coal op omstrede wyse gekoop het,” berig Mail & Guardian.

“Die individu (Farooqui) wat Pearl Capital beheer, is betrokke in die hotelwese en toerisme, eiendom en waagkapitaal,” sê die kommissie.

“Farooqui is toevallig die seun van ’n voormalige bestuurder by die bank,” sê Mail & Guardian.

Die kommissie het die samesmelting goedgekeur en sê: “dit is onwaarskynlik dat die voorgestelde transaksie mededinging in die mark sal keer of verhinder. Daar is verder geen kommer oor openbare belang wat ontstaan het weens die voorgestelde transaksie nie.” Netwerk24/Fin24

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer