Argument oor donkie lei tot gruweldood
Argument oor donkie lei tot gruweldood

Argument oor donkie lei tot gruweldood

Armoede is deel van die tragiese omstandighede waarin ‘n jong man Vrydag sy moeder in die Kavango-Wes-streek doodgeskop het.
Kenya Kambowe
Kenya Kambowe in Gcicgo – ‘n Woordewisseling oor ‘n ouerlike opdrag was glo die lont in ‘n skokmoord wat volgens beskikbare inligting deur dwelms en drank aangevuur is.

Mnr. Andreas Katjeuka Nipembe (23) was glo Vrydag onder die invloed van dagga en drank toe hy sy ma vermoor het.

Hy het haar na bewering met ‘n donkiestang aangerand en haar toe met swaar werkstewels geskop en op haar getrap. Wyle me. Behetta Nipembe was 57 jaar oud.

Die tragedie in die Gcicgo-nedersetting het sowat 70 kilometer wes van Rundu afgespeel.

Die verdagte het aanvanklik ‘n vals naam aan die polisie verskaf.

Die slagoffer se man, mnr. Hilarius Hausiku (63), het gister tydens ‘n besoek aan die nedersetting vertel hy was só bevrees hy het weggehardloop tydens die wrede aanranding. Nipembe is sy stiefseun.

Volgens Hausiku was die jong man onder die invloed van alkohol. Hy vermoed hy het ook dagga gerook.

Hausiku was bang hy word ook toegetakel.

Wyle Nipembe het glo haar seun die aand opdrag gegee om ‘n stang uit die bek van ‘n donkie te verwyder sodat die dier kan wei. Haar seun het die dier, wat aan ‘n neef behoort, na die nedersetting gebring.

Hy was glo ontevrede oor die opdrag. Toe sy ma self die stang verwyder, het hy haar begin aanrand, vertel Hausiku.

Daarna het Nipembe sy moeder na bewering eers regop teen ‘n paal gestut en haar later na die kamer geneem waarin Hausiku reeds aan die slaap was.

Volgens Hausiku het hy later wakker geword en wou gaan rook toe hy besef sy vrou sit in die vertrek by hom. “Ek het haar gevra om te kom lê, maar sy het gesê sy kan nie beweeg nie,” vertel hy. “Ek moes haar optel en haar op die bed neerlê.

“Toe ek kort daarna omdraai om aan haar te raak, was haar liggaam koud. Sy het beswyk aan haar beserings.”

Hausiku het sy broer gaan roep en bure het ook opgedaag voordat die polisie ontbied is.

Hausiku het gesê hy het reeds vrede gemaak met sy vrou se heengaan omdat God so besluit het. “Ek kan niks meer doen as om haar te onthou as die vrou wat al hierdie jare by my gestaan het nie,” het hy gesê.

Maar vergewe kan hy nie. “Hy (my stiefseun) het meer armoede oor my gebring en daarom moet hy in die tronk krepeer en nooit weer uitkom nie,” het Hausiku opgemerk.

Nipembe is Maandag voor die landdroshof op Rundu gedaag. Landdros Hellen Olaiya het die saak tot 31 Augustus uitgestel vir verdere ondersoek en sodat Nipembe regshulp kan bekom.

Namibian Sun, Republikein se susterkoerant, het die familie verlede jaar besoek en berig oor die uiterse armoede waarin hul leef. ’n Onderneming het daarna verskeie items aan hulle geskenk.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!