Arno Jordaan: Ek doen dit met my hele hart
Elvira Hattingh – Jy is ‘n 12 op sy “Richterskaal”, hy wil “’n Stukkie van jou hart” hê en as een van sy nuutste liedjies, “As jy hier is”, jou nie laat saamsing nie, kan dit net wees omdat jy nie kán sing nie.
Die bekende Suid-Afrikaanse kunstenaar Arno Jordaan toer van 21 tot 30 Oktober in Namibië en het aan Kollig gesê hy kan nie wag om hier te kom kuier nie. “Ek sien regtig uit om weer al julle vriendelike mense te ontmoet en vertrou almal gaan optrek na die ‘shows’ toe, waar ons ‘n hond uit die bos gaan kuier!”
Arno het al verskeie kere in Namibië opgetree.
“My eerste kennismaking met die land was nog vroeg in my loopbaan. Toe het ons ‘n toer na verskillende dorpe onderneem. Daarna het ek by feeste opgetree en die kuier was dus korter, maar Namibië is vir my ‘n wonderlike plek. Die mense is gasvry en vriendelik. ‘n Pragtige land wat gou diep in ‘n mens se hart inkruip!”
Arno is in Port Elizabeth gebore en het tot graad 10 in die dorp skoolgegaan, waarna hy sy skoolloopbaan in Uitenhage by Hoërskool Brandwag as onderhoofseun afgesluit het. Sy kinderjare was normaal, sê hy, maar die lekkerste van sy skooljare was die rugby en atletiek. Hy het ook die destydse Oostelike Provinsie verskeie kere by die Cravenweek verteenwoordig.
Rugby bly koning!
" Ek is nou maar net ‘n toeskouer en ‘n groot Blou Bul-ondersteuner en speel nie meer rugby nie. Ek staan natuurlik ook bankvas agter die Bokke!”
Hoe het die wêrelde van musiek en rugby vir Arno bymekaargekom?
“As kind het ek in ‘n huis grootgeword waar musiek ‘n baie belangrike rol gespeel het en nou nog speel. Ek het nooit gedink dit sal my loopbaan word nie; ek wou graag ‘n rugbyspeler word, maar ons almal se ‘journey’ is mos vooraf bepaal.
“Toe die Zing-kompetisie oor my pad kom, is ek letterlik aan die diepkant ingegooi en het besef dat sing die ding is wat ek die res van my lewe wil doen. Ek doen dit met my hele hart!”
Arno het aanvanklik in 2003 naam in die musiekbedryf begin gemaak toe hy saam met sy sangmaat Susan aan kykNET se realiteitsangkompetisie Zing deelgeneem het. Kort daarna het hy sy eerste solo-album, Altyd, uitgereik, waarna sy sangloopbaan begin spoed optel het. Sy tweede album, Ek wil jou hê, het platinumstatus bereik. Nog ‘n album wat besonders suksesvol was, was Gee my wat binne die eerste dag van vrystelling goue status bereik het toe 20 000 eenhede verkoop is. Dit het eindelik platinumstatus bereik (40 000 eenhede is verkoop) en met dié album is hy ook vir ‘n SAMA-toekenning benoem.
Sy musiek het ‘grootgeword’
Arno het hom as een van Afrikaans se gewildste sangers gevestig.
Sy musiek is lekker om te na luister en op heupe te swaai.
“My musiek het beslis verander vandat ek destyds begin sing het. Ek het ‘grootgeword’ en my musiek het beslis meer diepte, maar nog altyd dieselfde aanslag wat vir my ondersteuners die geleentheid gee om lekker te kan dans en dit te geniet. Ek het sommige van my liedjies self geskryf, maar ek los die skrywery liewer vir die manne wat weet hóé,” sê Arno.
Hy het al die verhoog met ander bekende kunstenaars soos Kurt Darren, Dozi, Steve Hofmeyr, Pieter Smith en die Britse groep Smokie gedeel. Hy het intussen ook sy aanhangers beter leer ken. Volgens hom soek hulle deesdae lirieke met betekenis en nie meer “net ‘n gerym van ‘n klomp woorde met musiek by nie”.
Arno is ook bekend as ‘n uitstekende seremoniemeester wat weet hoe om die gehoor se aandag te behou. Hoe werk dié kuns en moet ‘n mens voorberei om as seremoniemeester op te tree?
“Ek glo die gawe om te kan ‘entertain’ is ‘n aangebore en natuurlike talent. Jy het dit of jy het dit nie – en dit gaan saam met selfvertroue.
“Indien dit nodig is dat ek moet voorberei vir ‘n spesifieke vertoning saam met ander kunstenaars, doen ek dit, maar met my gewone vertonings ‘lees’ ek die gehoor en tree daarvolgens op. Daarop kan ‘n mens nie voorberei nie,” sê hy.
Wat kan sy aanhangers in die toekoms van hom verwag?
“Beslis nog jare se sang en ‘entertainment’,” sê hy.
‘n Mense-mens
Arno sê die belangrikste ding in sy lewe wat geld nie kan koop nie, is sy verhouding met die Here, sy vrou, kind en die mense na aan hom se liefde.
As hy een liedjie as temamusiek vir sy lewe moes kies, sou dit die bekende “You raise me up” wees. Min mense weet ook dat hy al valskermspring gedoen het en beplan om dit weer te doen. “Ek is ook dol oor gholf en baie lief vir kosmaak.”
Af van die verhoog, weg van die mikrofoon, wie is Arno?
“‘n Plein, reguit, ‘mense-mens’. Ek weet waarvandaan ek kom en bly ten alle tye met my voete plat op die aarde,” sê hy.
Arno is pa van ‘n seuntjie.
“Vaderskap is die grootste geskenk wat enige man kan ontvang – om ‘n pa te kan wees van ‘n seuntjie of dogtertjie! Die onvoorwaardelike liefde wat ek van Milan ontvang, die drukkies en deel in grappies – dit maak dat ek soveel as moontlik tyd saam met hom wil bestee. Ek het hom oneindig lief en nou kan ek ook my ouers se liefde vir my en my twee broers beter verstaan.”
Arno sê wat sy familie betref, is sy “twee pa’s” die inspirerendste mense wat hy ken.
“Dit sluit my eie pa en my skoonpa in. Hulle is altyd optimisties. In die musiekbedryf is en bly Steve Hofmeyr die groot mentor in my lewe. Hy het my só baie geleer. Ek stem nie noodwendig altyd saam met sy uitsprake nie, maar ek salueer hom as musikant.”
As Arno die mensdom een les sou kon leer, wat sou dit wees?
“Leef elke dag met jou oog gevestig op die Here, in oorgawe aan Sy wil en gehoorsaamheid om te volg waar Hy jou mag lei. Moenie in gister leef nie, dis verby, ook nie vir môre nie – dit kom nog en is in die hand van ons Vader. Leef voluit vir vandag, gryp elke geleentheid aan en doen wat jou hand vind om te doen. Carpe Diem!”
Konsertdatums en -kontakbesonderhede
Arno Jordaan begin sy Namibiese toer op 21 Oktober met ‘n optrede op Keetmanshoop (skakel Pina by 063 224 638), gevolg deur ‘n konsert op 22 Oktober op Gobabis (kontak Renda by 081 304 1299) en ‘n derde konsert in Windhoek op 23 Oktober (skakel Marcha by 081 288 2886). Daarna tree hy op 26 Oktober op Stampriet op (kontak Melani by 081 330 9001), dan op 29 Oktober op Tsumeb (bel Betsie by 081 042 9813) en ‘n laaste optrede op 30 Oktober op Walvisbaai (Nico by 081 143 0255).

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie