Aroab 'n baken van hoop

In ''n Suidedorp word ontwikkelingsprojekte voortdurend geïmplementeer en binne die bedryfsbegroting gebly.
Gerine Hoff
Aroab, ''n nedersetting van sowat 5 000 inwoners, word deur baie mense as ''n voorbeeld van goeie regering in die //Kharas­streek en elders beskou.

In 2013 het die Aroab-dorpsraad (AVC) ''n skoon ouditverslag ontvang en word daar gesê dit beskik oor van die beste administratiewe personeel in die land.

Tydens ''n besoek aan die nedersetting het Nampa ontdek daar is geen plakkershutte in hierdie netjiese nedersetting nie. Dit spog met ''n blinkskoon medium-grootte swembad wat vir ses maande van die jaar gebruik word.

In ''n onderhoud met die AVC se hoof uitvoerende beampte, me. Elsa Laubscher, het dit aan die lig gekom dat al 500 huishoudings aan die dorp se riool-, water- en elektrisiteitsnetwerk gekoppel is. Dit beteken alle inwoners het toegang tot lopende water, toilette en krag. Verskeie huise is onder die Saambou-program opgerig en aan mense toegeken wat voorheen in sinkhuise gebly het.

Hoewel werkloosheid hoog is en dit moeilik is om die nodige inkomste uit inwoners te kry om dienste te lewer – soos in die meeste dele van die land – het die AVC daarin geslaag om ontwikkelingsprojekte te implementeer en binne sy bedryfsbegroting te bly.

Laubscher het gesê dit maak net sin om krediteure en grootmaatver­skaffers eerste te betaal. “Jy kan net uitgee wat jy het. Ander dorpsrade sê hulle wil by ons kom leer, maar eintlik leer ons by mekaar.”

Laubscher het gesê die geheim tot die dorpie se sukses is dat hulle goeie administratiewe stappe gedoen het.

“Ons is gelukkig. Die administratiewe beamptes hier by die raad weet wat hulle doen en die personeel het ook ''n goeie werkende verhouding met die raadslede.”

Laubscher, na wie die voormalige adjunkminister van plaaslike regering en behuising, mnr.Jerry Ekandjo, na bewering verwys het as “die land se mees gesogte hoof uitvoerende beampte”, is die afgelope 10 jaar aan die stuur van die dorpsadministrasie.

Die raad bestaan uit twee Swapo-raadslede, twee DTA-raadslede en een RDP-raadslid.

Die nedersetting is in 2015 deur Gender Links Namibia aangewys as die beste plattelandse sentra van uitnemendheid uit 36 deelnemende rade en is in Junie vanjaar deur die Vereniging vir Plaaslike Owerhede in Namibië (ALAN) met die Goeie Bestuur-toekenning bekroon.

Volgens Laubscher poog die plaaslike owerheid om programme met toewyding te implementeer ten einde geslagsgelykheid te bewerkstellig.

Die AVC genereer ''n bykomende inkomste uit verblyfsgeriewe, ''n baksteenvervaardigingsprojek, skaapboerderye en ''n groentetuin om die nedersetting finansieel volhoubaar te hou.



Inwoners betrek

Hoewel ''n paar inwoners waarmee Nampa gesels het na die AVC as “die rykste dorpsraad met geen hart vir die gemeenskap of werkskepping” verwys het, sê Laubscher die owerheid het geen moeite ontsien om plaaslike inwoners by die raad se projekte te betrek nie.

“In die verlede het ons probleme ervaar wanneer ons werk aan plaaslike inwoners gee, maar die raad glo in die filosofie om waar moontlik, plaas­like werksgeleenthede te skep om armoede in ons nedersetting te verlig.

“Omdat werkloosheid hoog is, probeer ons sover moontlik met die gemeenskap te onderhandel vir die betaling van dienste. Ons het die roete van toegeeflikheid geneem en moedig hulle aan om reëlings rakende betaling te tref voor ons hulle moet afsny.”

Die nedersetting ontvang elke jaar ''n regeringsubsidie van ongeveer N$800 000 vir bedrywighede en N$1,5 miljoen vir kapitaalprojekte.

Op die oomblik is die AVC besig met die opgradering van ''n bestaande pad na ''n 2,5 kilometer-teerpad met geld wat by die Nasionale Beplanningskommissie gekry is en onderhandel hulle met ''n Suid-Afrikaans-gebaseerde maatskappy wat ''n inkoopsentrum op die dorp wil vestig.

Volgens Laubscher is die volgende groot projek die uitbreiding van die dorp se riooldamme teen ''n bedrag van N$7 miljoen.

Een van die raad se toekomsplanne is die oprigting van ''n lodge om verdere inkomste te genereer, om plaaslike werksgeleenthede te skep en om Aroab as ''n dorp te laat verklaar.

Die 61-jarige Laubscher se kontrak met die nedersetting verval volgende Februarie, maar sy hoop dit sal hernu word. Die voormalige rekenmeester van die AVC het gesê dit sal haar en haar personeel toelaat om nog ''n paar projekte te voltooi en om die raad se sake in ''n goeie toestand te laat.

Aroab is sowat 170 km suidoos van Keetmanshoop en 40 km van die Suid-Afrikaanse grens geleë. – Nampa

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!