Aroab sien rooi oor kragonderbrekings
Hoewel hulle geen sent skuld nie, moet ’n nedersettingsraad dikwels met kragkwessies vir lief neem.
Denver Kisting – In Desember alleen moes die nagenoeg 2 500 inwoners van Aroab, suidoos van Keetmanshoop, 20 kragonderbrekings verduur.
Die inwoners én die Aroab-nedersettingsraad in die ||Kharasstreek sit met hul hande in die hare.
’n Moedelose inwoner het gister op voorwaarde van anonimiteit gesê hy moes verlede jaar twee yskaste vervang.
Die een het hom N$6 000 gekos, terwyl die ander een hom meer as N$4 000 uit die sak gejaag het.
“Dis somertyd en dis warm – jou goed moet in die yskas kom.”
Omdat bloederige water by verkoelingstoestelle se nate afloop, “het jy daai reuk”, sê die man.
Hy sê pogings deur die raad om by die nasionale kragvoorsiener, NamPower, antwoorde te kry, werp selde vrugte af.
Van nat voëlneste tot pale wat omwaai, kry dikwels die skuld, sê hy.
Die voortdurende kragonderbrekings is ook al op opgraderings geblameer.
In ’n stadium moes die dorp glo 28 uur sonder krag klaarkom weens opgraderings, sê hy.
“Is dit normaal? Moet ons steeds glo ’n paal het omgewaai of ’n voëlnessie het nat geword?”
Wat inwoners veral dwars in die krop steek, is dat hulle NamPower geen sent skuld nie, sê die besorgde inwoner.
Hy sê sedert hy in Oktober verlede jaar die onderbrekings begin aanteken het, het hy besef hoe gereeld Aroab in donkerte gehul word.
Vandeesmaand het hulle 11 onderbrekings ervaar, het hy gister gesê.
“November toe gaan dit goed,” sê hy oor die enkele kragonderbreking, terwyl die kragtoevoer verlede maand 20 keer onderbreek is.
Die uitvoerende hoof van die Aroab-nedersettingsraad, me. Elsa Laubscher, het gister by navraag gesê hulle is moedeloos.
“En as ons sonder krag sit, is ons water af, want die waterpompe werk dan nie.”
Pogings om antwoorde by NamPower te kry, werp weinig vrugte af, sê sy.
“Nog nooit het hulle na ons gekom om vir ons te sê wat die probleem was nie. Jy moet met ’n ompad hoor.”
Sy het bevestig hul rekening is op datum.
Me. Irene !Hoaes, ’n woordvoerder van NamPower, het gister gesê hulle is besig om inligting te bekom om vas te stel wat aangaan.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie