As Abraham Afrikaans sou gepraat het
Die nuwe vertaling neem lesers terug na die leefwêreld van die Bybel.
Henriette Lamprecht – Die kroon is onlangs gespan op 15 jaar se werk deur meer as 170 medewerkers toe die nuwe Afrikaanse Bybelvertaling, Die Bybel: 2020-vertaling, uiteindelik die lig gesien het.
Die meer as 170 medewerkers het brontaalkenners (Hebreeus, Aramees en Grieks), teoloë, Afrikaanse letterkundiges, taalkundiges en vertaalkundiges ingesluit. Sowat 43 vroue was op een of ander manier deel van die medewerkerspan, heelwat meer met die 1983-vertaling.
Die vertaling is op versoek van kerke aangepak wat die Bybel in Afrikaans gebruik en sowat 24 verskillende kerkgenootskappe was op een of ander manier betrokke.
Op eie bodem was dr. Schalk Botha, direkteur van Trauma Healing Network, nou by die vertaling betrokke nadat die Bybelgenootskap van Suid-Afrika hom genader het danksy sy agtergrond van ’n M-graad in Bybelse Hebreeus. Ook het van die professore betrokke, hom as student by die Universiteit van die Vrystaat geken, vertel Schalk.
Schalk was verantwoordelik vir die eksegese en vertaling van die boek Prediker uit Hebreeus. Die eerste “laag” vertaling en eksegese, verduidelik hy, behels die bestudering van die brontaal en al die kommunikatiewe merkers vir verstaan en die “oorbring” hiervan na Afrikaans. ’n Brontaalkenner het ook saam met hom sy vertaling gekontroleer.
“Die Afrikaans moet dan so ver as moontlik presies sê wat die Hebreeus sê, binne die konteks van verstaan,” sê Schalk.
Die literêre raadgewers van die Afrikaanse taal het ook vir goeie en afgeronde Afrikaans gesorg.
Met verwysing na die 15 jaar wat dit sou duur voordat die nuwe vertaling sy verskyning gemaak het, sê Schalk Bybelvertaling is oor die algemeen ’n tydrowende proses en daar word maar met ’n paar verse per dag gevorder.
“Sommige dele van die Bybel is moeiliker as ander. Die moeilikheidsgraad bepaal dan ook gevolglik die vordering. Wanneer die vertalers en die medewerkers ook net deeltyds daaraan werk, neem dit nóg langer.”
Volgens Schalk duur die voltydse proses ongeveer 12 jaar en beklemtoon daar is “baie studie en navorsing wat agter Bybelvertaling sit”.
Hy verduidelik ’n letterlike vertaling is “woord vir woord” en die struktuur word dan in die doeltaal behou.
“Die gevolg is dat Afrikaanse lesers dan dikwels nie die teks mooi kan verstaan nie. Jy kom dan uit by ’n Hebreeuse of Griekse Afrikaans.”
Hy noem ’n voorbeeld uit Psalm 36 soos dit in die 1953-vertaling verskyn en wel “In die binneste van my hart sê die oortreding aangaande die goddelose: Daar is geen vrees van God voor sy oë nie. Want dit vlei hom in sy oë in verband met die uitvind en haat van Sy skuld.”
In ’n direkte vertaling beteken dit die brontaal word beskou as die direkte rede van die spreker wat dan “oorgesê” moet word in die doeltaal, verduidelik Schalk.
“Hier is nie net betekenis van belang nie, maar al die kommunikatiewe merkers vir verstaan wat insluit ook die konseptuele raamwerk en konteks van die brontaalgebruikers. Die vorm én inhoud word dus in die doeltaal gekommunikeer.”
Volgens Schalk het die 1983-vertaling byvoorbeeld net die betekenis in Afrikaans gekommunikeer soos mense nou praat.
“Terwyl die direkte vertaling, behalwe die betekenis, ook kommunikeer hoe die mense van die brontaal gekommunikeer het, natuurlik in goeie, afgeronde en verstaanbare Afrikaans. Dit is dan ook waarom die nuwe direkte vertaling baie naby is aan die brontekste ten op sigte van styl, metafore en manier van praat.”
Die fokus bly steeds hoe die bronteks kommunikeer en daarom is gepoog om die vreemdheid en andersoortigheid van die bronteks te behou. Die Bybel is immers ’n “vreemde” boek, sê Schalk, aangesien sommige dele tot 3 000 jaar of meer terug in die verlede lê. As ’n mens dus die Bybel oopmaak, ervaar jy hierdie “vreemdheid” in die woorde sonder om nie te verstaan nie.
Kerke op grondvlak vra gewoonlik vir die Bybelgenootskap om ‘n nuwe Bybelvertaling of dan hervertaling of ook hersiening te doen.
“Die behoefte spruit gewoonlik uit mense se ervaring van ’n leemte.”
In die geval van die direkte vertaling het daar toenemend ’n behoefte ontstaan na ‘n Bybel wat nader is aan die brontekste en wat met groot vrug gebruik kan word in Bybelstudie, persoonlik stiltetyd en in die liturgie van eredienste. Bybelgebruikers wou graag meer die oorspronklike Bybel ervaar as hulle lees, en nie net Afrikaanse taalgebruik soos in die vertaling van 1983 nie.
“Ook aangesien taal ontwikkel en so ook mense se gebruik van taal. Mense se behoeftes pas aan en ook daaraan moet aandag gegee word wanneer mense die Bybel lees.”
Volgens Schalk verander vertaalteorieë en -tegnieke ook, terwyl die wetenskap ook tot nuwe ontwikkelings lei.
“‘n Nuwe Bybelvertaling hou ook weer die Bybel nuut en vars en verseker die voortgesette lees daarvan.”
Vir die nuwe vertaling was die vertaalopdrag onder meer dat dit ’n getroue weergawe van die betekenis van die bronteks moet wees, terwyl beelde, metafore, styl en struktuur van die bronteks so ver moontlik behou moet word. Die vertaling moes van hoë letterkundige gehalte, goed verstaanbaar en in goeie Afrikaans wees.
“Ons is van mening dat die vertalers daarin geslaag het en dat die baie Afrikaanssprekende gelowiges wat ’n behoefte het aan ’n Bybel wat so na as moontlik aan die bronteks, maar steeds goed verstaanbaar is, nou die geleentheid kry om ’n Bybel in Afrikaans te lees en te bestudeer wat hulle in staat stel om so na as moontlik aan die leefwêreld van die Bybel te kom,” sê ds. Dirk Gevers, uitvoerende hoof van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika.
Drie weergawes van Die Bybel: 2020-vertaling – die Ou en Nuwe Testament, die Bybel met Deuterokanonieke Boeke en ’n hoofletter-uitgawe waarin bepaalde woorde in die Ou Testament in hoofletters gedruk is, is uitgereik.
Prof. Bernard Combrink, emeritusprofessor in die Nuwe Testament aan die Universiteit Stellenbosch, was die projekleier van die vertaalproses. Die kerngroep van 179 mense het uit 59 Afrikaanse letterkundiges en 87 brontaalkenners bestaan. Van die spanlede was 43 vroue, wat ook ’n eerste was.
“Hierdie mense was net die kerngroep, maar ons hulp het uit soveel oorde gekom. Daar was kenners wat gehelp het met inligting oor spesifieke plantegroei en edelgesteentes, en baie van die wysigings en aanpassings is te danke aan kerklike lesers wat in die derde fase tekste gelees het en voorstelle gemaak het,” het hy gesê.
Combrink sê die lys name van almal wat ’n aandeel in die vertalingsproses gehad het, sal ’n boek kan vul.
Volgens Combrink is die oogmerk met die nuwe vertaling om lesers terug te neem na die wêreld van die Bybel, maar in Afrikaans, sodat hulle dit kan lees en verstaan asof Abraham Afrikaans gepraat het.
“Ons wou regtig die bronteks se ware boodskap op die beste moontlike manier verstaanbaar maak.” – [email protected]
Bronne: Netwerk24/Bybelgenootskap van Suid-Afrika

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie