As jy jou waardes knoop (SKRYF SAAM VIR 12 FEB)
Wini Esterhuizen - Herfs het reeds sy blare kom haal.
Dit was winter.
Ek het by die kombuistafel gesit. Die son het strepies oor ‘n flessie vol knope getrek. Die flessie het in die vensterbank gestaan.
“Kyk net hoe mooi maak die lig die knope,” het ek verwonderd gesê.
“Dis knope wat ek van ou klere afgeknip het. Ek het die klere weggegee. Die klere was voos, maar die knope was nog goed.”
Ek het my oë van die sonlig afgehaal. Ek het na haar gestaar.
“Hulle kan bly wees hulle kry nog iets,” het sy geantwoord.
Sy het ‘n paar koekies in ‘n bord gesit. “Ek haat dit as mense net dié met ‘icing’ op gryp,” het sy bitsig gesê.
Ek het gewonder of daar enige mens op aarde is wat in haar koekies belangstel. Daardie dag het ek nie geëet nie.
Ek het gegroet. My oë en hart het saam met die knope in die fles op die vensterbank agtergebly.
Buite het die son lyne oor almal getrek.
Binne in die huis het dit donker gebly.
In die gange van my gedagtes het ek kinders in die koue sien speel. Hulle hemde het in die wind gewapper. Ek het ‘n knoop in my onthou gemaak om hierdie donker huis en vrou nooit weer deel van my lig te maak nie.
Dis toe dat ek die flessie in my ma se vensterbank onthou.
In haar flessie het ‘n avokadopeerpit aan drie vuurhoutjies geklou, sodat dit nie heeltemal in die water verdwyn nie. My ma wou lewe uit die pit haal.
Die mense glo die donker vrou se hand is oop soos haar Bybel wat sy kerk toe dra. Ek weet haar hande en haar Bybel is toe.
Die nuttelose knope is nog goed, maar haar hart is voos.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie