As pryse boere en verbruiker vervreem
As pryse boere en verbruiker vervreem

As pryse boere en verbruiker vervreem

Namibië se vleisbedryf is ver voor ander Afrikalande
Kobus Laubscher
Dr. Kobus Laubscher



Die spreekwoord “it takes two to tango” speel tans in die vleisbedryf af.

Boere is afhanklik van wat en hoeveel die verbruiker eet, maar plaashekbesluite moet verder gaan as net die plaashek. Die beesboer op Gobabis kan nie nou verlei word met hoë pryse en voor die voet bemark omdat daar goeie weiding is en sy beeste vet is nie. Kopers van speenkalwers het eweneens 'n groot impak op die toekoms van wat binne die plaas se grensdrade moet gebeur.

Aan die ander punt van die wors ('n wors het altyd twee kante) is die verbruiker wie se verbruik ewe bepalend is vir die toekoms van die beesboer.

Trouens, die prys van die beeste op die plaas is 'n afgeleide van wat aan die vurk se end van die wors gebeur.

Verbruikers bekla hoë vleispryse en indien mens die kosmandjie se samestelling ontleed in terme van inflasiedrywers, staan rooivleis baie keer uit. Verbruikers is ongeduldig en verstaan nie die dinamika van hoë rooivleispryse wanneer boere kuddes moet herbou ná langdurige en uitmergelende droogtes nie.

Die hoë pryse tans is immers 'n tipe van belegging vir voortgesette beskikbaarheid en hiermee kan die Gobabis-boer nie help deur brandasem te raak met hoë pryse nou en dan sy kapitaal uitslag, terwyl hy eerder moes terughou nie.

Hoë pryse kan dus in 'n sekere mate aanleiding gee tot “noodslagtings”. Wat egter die boer se besluitneming bemoeilik in terme van hoeveel om nou te bemark, is die toestand van die produksie-omstandighede op sy plaas, terwyl sy bankbestuurder dalk ook in sy nek blaas om van die skuld af te werk. Dié skuld is dikwels die uitkoms van nuwe en dikwels aangepaste betaalvoorwaardes, omdat die bank ook droogtes verstaan.

Tussen die plaashek en die vurk van die verbruiker is daar egter die waardeketting wat primêr getaak is om die produk te transformeer.

Niemand sal sy tande sit aan 'n slagbees wat by sy voordeur afgelaai word nie. Trouens, nog meer verbruikers sal rooivleis wegstuur as hulle selfs net meer bewus is van wat gebeur van plaashek via 'n slagpale tot sy/haar bord.

Dit is waar die tango ontspoor – gebrekkige en gereelde kommunikasie. Namibië se vleisbedryf is ver voor ander Afrikalande ten opsigte van naspeurbaarheid en intra-waardeketting kwaliteitbeheer en -waarborge. Die musiek moet die tango se deelnemers bymekaar en in harmonie hou. Iemand meng klaarblyklik in; behalwe vir die ontwrigtende impak van Covid-19 wat beursies verrinneweer, word daar vinger gewys na die waardeketting se toevoeging tot koste vanaf die plaashek.



DEBAT SO OUD SOOS DIE BERGE

Onlangse bewerings van niemededingende plaashekpryse as gevolg van wat afgetrek moet word van die prys wat die verbruiker kan/wil betaal, verwys.

Landbou-organisasies het met oortuigende argumente bewys hoe die markaandeel van die verskillende deelnemers in die Namibiese vleis­waardeketting die afgelope paar jaar verander het en hoe veral eens belangrike (selfs dominerende) spelers minder diere slag, ensovoorts.

Die verwerkers pleit onder meer ondoeltreffende beleid, inmenging van die staat met 'n sterk geur van sosiale opheffing wat nie markverwant kan wees nie, ensovoorts.

Wat egter waar is, is die impak van onvoldoende ondersteunende infrastruktuur, voldoening aan streng voorwaardes wat uitsette aanbetref en sogenaamde administratiewe inflasie. Die verwerkers werk met baie lae marges en deurset by slagpale is bepalende kostedrywers. Hulle is eweneens geregtig op 'n wins en as dié wins nie volhoubaar is nie, dwing aandeelhouers ander optredes af.

Dié debat tussen die verskillende rolspelers en uiteraard wie die skuld moet dra, is so oud soos die berge, maar gebied deurlopende oorlegpleging vanweë in die interafhanklikheid.

Produksiestelsels op plase verander en sal blywend verander soos die toename in die vraag na speenkalwers uit Namibië die pas sal aangee. Meer speenkalwers vir die uitvoermark (na Suid-Afrika) beteken eenvoudig minder slagvee binnelands met die gevolg dat kostedruk toeneem.

Die verwerker se prys aan die verbruiker moet styg en die boer kry minder, maar vanweë erkende ekonomiese wetmatighede byt die produsent die grootste deel van die spit af.

Beide kante van die wors word ontwrig, want laer plaashekpryse lei tot die verskuiwing van aanbod, terwyl die verbruiker hom tot ander proteïenbronne, soos hoender, wend. Selfs vleislose “vleis” begin voorkeur kry.

Groot werk lê dus voor om die Namibiese vleisbedryf strategies reg te stuur, want dié bedryf is eenvoudig te waardevol om nie voorkeur-aandag op alle vlakke af te dwing nie.

Kommentaar

Republikein 2025-04-05

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer