As Toetie gaan, moet sy helpers ook gaan
Rugby
Stephen Nell
Nog voor Suid-Afrika verlede maand met ’n rekordtelling teen Wallis verloor het, het die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) al ’n nuusverklaring geskryf wat sê hy sal nie skroom om taai besluite oor Springbokrugby te neem nie.
In dieselfde verklaring was daar egter ’n rits verskonings wat Allister Coetzee, die Bok-breier, hoop kon gee dat hy aan sy pos sal kan vasklou. Onder meer word gesê dat die insinking al by 2014 se jaareindtoer begin het, daar baie beserings was, en dat die uittog van spelers na die Noordelike Halfrond die Bokke negatief geraak het.
Dis natuurlik geldige punte, maar soos by verlede jaar se Wêreldbekertoernooi waar die Bokke teen Japan verloor het, regverdig dit nie ’n nederlaag teen ’n oorwegend bloedjong Italiaanse span nie.
Saru se probleem is dat dié ’n situasie is waar hy nie net vir Coetzee verantwoordbaar kan hou nie. Geen afrigter kan funksioneer met ’n bestuurspan soos dié wat Coetzee gehad het nie. Terselfdertyd is die storie dat elkeen van sy hulpafrigters op hom afgedwing is, ook nie 100 persent in die kol nie.
Coetzee wou aan die voorspelerafrigter Johann van Graan vasklou eerder as om hom toe te laat om ’n oorsese pos te aanvaar. Hy het self vir Chean Roux gevra om die Bokke se verdediging te behartig en vir Matt Proudfoot as ’n tweede voorspeler-afrigter aan boord gebring. Wat betref die gehalte van sy afrigtingspan kan Coetzee hom nie van verantwoordbaarheid loswikkel nie.
Dit was belangrik dat spelers gevra word om insette te lewer oor alle aspekte van die bestuurspan (soos wat drie senior Bokke luidens ’n Saru-verklaring gedoen het). Dis by hulle wat die afrigters vertroue moet inboesem en hulle wat die beheerliggaam hul menings oor die mediese sorg, logistiek en dies meer kan gee.
In ’n rubriek in Maart is voorbrand gemaak vir Saru se voormalige hoof van rugby, Rassie Erasmus, en Coetzee om met die Bokke saam te werk. Erasmus was met die strukture wat hy in die Westelike Provinsie gevestig het redelik instrumenteel in Coetzee se daaropvolgende sukses.
Coetzee het as WP-afrigter twee Curriebekers gewen en die Stormers was in drie seisoene onder hom die voorste SA Superrugby-span, ’n rekord waarvoor hy lof verdien. Met sy vermoë om transformasie op verdienste te laat geskied, was hy ’n aantreklike keuse as Bokafrigter.
Wanneer daar volgende maand oor Coetzee se toekoms besluit word, lê die probleem in die groter prentjie. Dank Saru vir Coetzee af en stel hy iemand anders met dieselfde bestuurspan aan, gaan hy aanstaande jaar dié tyd wéér oor ’n Bokafrigter se toekoms moet besin.
Die vraag moet dus nie wees of Coetzee die trekpas kry nie, maar of van die hulpafrigters saam met hom in die pad gesteek moet word.
Intussen hou die gerugte aan loop dat Chean Roux as die SA o.20-afrigter aangestel gaan word met Abe Davids as sy adjudant. Met Roux wat drie Varsitybeker-titels as afrigter van die Maties gewen het, behoort hy ’n aanspraakmaker te wees.
Terselfdertyd is dit in hierdie geval uiters belangrik dat Saru dié poste adverteer. Word Roux en Davids uit die bloute aangestel, is dit onvermydelik dat daar aantygings van nepotisme sal wees. Chean Roux is goed bevriend met Jurie Roux, Saru se uitvoerende hoof. Saru moet hier versigtig trap, of sy reputasie word nog verder geknou.
Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie