Asemklikkers vir eers uit, sê polisie
Denver Kisting – Enigiemand wat vermoedelik onder die invloed van alkohol bestuur, sal nie vir eers aan ’n asemklikker onderwerp word nie.
Almal sal na ’n hospitaal geneem word, waar hul bloed getrek sal word.
So sê die Namibiese polisie én die stadspolisie.
Adj.komm. Kauna Shikwambi, die nasionale polisiewoordvoerder, sê die gebruik van dié toestelle is weens die uitbreking van Covid-19 opgeskort.
Sy sê aangehoudenes in polisieselle mag ook nie in dié stadium enige besoekers ontvang nie.
Beamptes by grensposte en lughawens word ook tans met ontsmetmiddels, handskoene en maskers toegerus, sê Shikwambi.
Sy sê voorsorg word ook getref waar lede van die publiek se vingerafdrukke geneem moet word.
Indien iemand nie dringend dié dienste benodig nie, moet hulle liefs wag tot ná die 30 dae-tydperk, vra Shikwambi.
Sersant Fabian Amukwelele, ’n woordvoerder van die stadspolisie, sê verdagtes sal aangemoedig word om vrywillig in vangwaens te klim.
Indien hulle weier, sal minimumkrag gebruik word, sê hy.
Beamptes wat mense in hegtenis moet neem, sal handskoene dra, sê Amukwelele.
Hy sê hoewel hul hoofkantoor gister gesluit was, is dit sedert vanoggend weer oop.
-[email protected]
Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie