Ashope en kambashu's
Ashope en kambashu's

Ashope en kambashu's

Dani Booysen
Die afgelope week het twee dagblaaie opnuut rapporteer hoe behoeftige Namibiërs op ashope toesak om kos, materiaal en tweedehandse handelsgoedere te versamel. Dit gebeur nie net op Grootfontein of Opuwo nie.
Hierdie verontmenslikende werklikheid is deel van Namibië se enorme uitdagings net soos die sinkhuise wat oor die hoofstad se uitgestrekte heuwels en oor vlaktes in ander dorpe golf.
Waar is Harambee? vra baie inwoners.
Vir daardie pleitroepe moet daar begrip wees. Natuurlik sal die land nie oornag verander nie, maar die skep van genoeg werkgeleenthede teen 'n waardige loon en die aftakeling van krotbuurte moet teen so 'n tempo geskied dat die massas se smeekbedes nie krete word wat in onrus, onsekerheid en geweld omsit nie.
Die besonderhede wat vandag oor die Vyfde Nasionale Ontwikkelingsplan (NDP5) bekendgemaak word, moet konkrete strategieë op hierdie en ander belangrike fronte bevat.
Dit is duidelik dat die nuwe plan in aanbieding en uitleg kers opsteek by pres. Hage Geingob se voorspoedplan. Die toets sal soos altyd in die besonderhede lê, wat nie skraps of te wydlopend moet wees nie.
Nog 'n plan? sal kritici vra. NDP5 moet self hierdie kritiek weerlê.
In 'n oormaat oorvleuelende planne skuil opsigself uitvoeringsprobleme. Konsolidering en die uitskakeling van duplisering is daarom belangrik.
Die mens kan soveel planne maak as hy wil. Die sukses word altyd aan tydige en doeltreffende uitvoering gemeet.
So sê ander
30 Mei 2017
Staatskaper Zuma se houvas op ANC laat SA ly
Dit is 'n ernstige terugslag vir die eens magtige ANC dat weer eens klaaglik misluk is om die staatskaper pres. Jacob Zuma uit die kussings te lig.
Dit posisioneer die ANC nou prakties op sigself as 'n gekaapte beweging – tot die diens van die staatskapers in eie geledere. Dit wil toenemend voorkom asof die kwessie van staatskaping vir finale beslissing na die kiesers in 2019 verwys gaan word.
Die ANC is duidelik intern moreel so verswak dat daar nie 'n sterk genoeg wil is om teen Zuma op te tree nie.
Of die afgelope naweek se vergadering van die ANC se nasionale uitvoerende komitee wel die ­Zuma-kamp se greep versterk het, sal in die komende maande gesien word. Daar sal ook gesien kan word of die uitslag ANC-LP's se gedrag gaan beïnvloed na die een of ander kant toe wanneer 'n wantrouemosie in die Nasionale Vergadering aan die orde kom.
Die ergste skade is aan Suid-Afrika en sy inwoners. - NETWERK24

Kommentaar

Republikein 2025-04-16

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer