Asiatiese sementreus soek Ohorongo
Asiatiese sementreus soek Ohorongo

Asiatiese sementreus soek Ohorongo

'n Singapoerse maatskappy wil die beherende aandeel in Ohorongo Cement vir N$1,5 miljard koop.
Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer - Die internasionale sementreus International Cement Group (ICG), met sy hoofkantoor in Singapoer, het 'n voorwaardelike ooreenkoms gesluit om Schwenk Namibia se 69,8% aandeelhouding in Ohorongo Cement noord van Otavi te koop.

Schwenk Namibia word deur die Duitse sementvervaardiger Schwenk Zement International GmbH & Co.KG besit.

Die res van die aandele in dié ­Namibiese sementvervaardiger behoort aan die Ontwikkelingsbank van Suider-Afrika (DBSA), die Ontwikkelingsbank van Namibië (DBN) en die Suid-Afrikaanse Nywerheidsontwikkelingskorporasie (IDC).

Ohorongo Cement is sedert 2010 in produksie en vervaardig jaarliks meer as 1 miljoen ton sement.

Schwenk Zement International sê in 'n verklaring hy het besluit om sy aandele in Namibië te verkoop en op geleenthede in Europa te fokus. Hy het reeds 'n ooreenkoms met Cemex S.A.B de C.V. aangegaan om laasgenoemde se Baltiese en Nordiese belange te koop.

“Schwenk het sy ontwikkelingsdoelwitte in Namibië vervul deur 'n ­volwaardige, moderne sement­fabriek te vestig. Dit sluit die oordrag van kundigheid aan Namibiërs in,” lui sy verklaring.

Volgens The Straits Times in ­Singapoer beloop die waarde van die transaksie tussen ICG en Schwenk Zement International US$104,4 miljoen (sowat N$1,5 miljard) – US$19,3 miljoen vir die aandele en US$85 miljoen vir die lenings op ­Ohorongo se boeke.

Dié koerant berig ICG, wat op die ­effektebeurs in Singapoer gelys is, het in 2017 na sentraal-Asië uit­gebrei en wil met hierdie transaksie ook belange in Afrika vestig.

“ICG sê dit is vir hom beter om 'n gevestigde aanleg te koop, want dit hou minder risiko's in as om 'n nuwe aanleg in Namibië op te rig,” lui die berig.

Intussen het die maatskappy in 'n verklaring die versekering gegee die transaksie sal nie 'n invloed op die operasionele bedrywighede of sakevennote van die sementaanleg hê nie.

“ICG hoop om op die suksesverhaal van Ohorongo Cement in Namibië voort te bou en is vol vertroue dat die vraag na sement in Afrika te midde van vinnige infrastruktuurontwikkeling sal aanhou groei,” lui sy ­verklaring.

Mnr. Hans-Wilhelm Schütte, besturende direkteur van Ohorongo Cement, het die nuus aan ­Republikein se susterkoerant Namibian Sun ­bevestig.

“Dit is 'n voorgestelde aandele­transaksie en moet nog goedgekeur word. Gesprekke word op moedermaatskappyvlak gevoer. Dit sal tyd neem voordat al die nodige goed­keurings verkry is,” het hy gesê.

Die transaksie is benewens goed­keuring deur die ander ­aandeelhouers, ook onderhewig aan goedkeuring deur die Mededingingskommissie van Namibië.

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!