Aspireer na mu00e9u00e9r
Aspireer na mu00e9u00e9r

Aspireer na méér

Dani Booysen
Dit is betreurenswaardig dat 2019 weens 'n herrie op Hentiesbaai met duidelike rassetone 'n suur smaak in die oujaarsmond moet laat.

Miskien het so-iets net wag om te gebeur.

Hopelik ruk dit elkeen wat dit benodig tot hul sinne.

Meer inligting sal onvermydelik op die lappe kom. Stof vir ondersoek en nadenke is daar buiten vir beweerde rassisme baie, soos die bult van politieke spiere, munisipale regulasies, hoe ampsmotors benut mag word en dies meer, ensovoort.

Die groter, dringende vraag is hoe ons elkeen sulke insidente as spieël vir onsself as individue en nasie ophou. Sonder terugdeins. Vir enige en alle onbehoorlikhede.

Rassiste en stamgebondenes van alle soorte is daar beslis steeds in Namibië. Hul agendas mag nooit gekondoneer word nie.

Soms is woede verstaanbaar, maar aanhitsing en vergelding oor vermeende onregte is reëlreg in stryd met die beginsels waarop hierdie land – wat altyd eerste in ons denke, doen en late moet kom – gefundeer is. Sodra mense hulself teenoor mekaar in kampe begin opstel, kan selfs 'n verdwaalde en onbedoelde vonk wegholvure aansteek.

Mag ons diep en sinvol oor die wedersydse aard van een wees, saam woon, goeie buurmanskap, respek, sensitiwiteit en ordentlikheid besin.

In 2020 vier Namibië drie dekades se vryheid en onafhanklikheid. Vir durende vrede en voorspoed vir almal moet ons daagliks immer na méér aspireer.



So sê ander

30 Desember 2019



Relatief stabiele wêreldsituasie kan maklik uitrafel



Met die jaar 2020 wat vlak voor die mensdom lê, sou dit verkieslik wees om te konstateer dat dit, ondanks probleme, basies goed met die wêreld gaan.

Tog is daar 'n oorvloed onrusbarende tekens wat wys dat, as sake nie rasioneel bestuur word nie, die tans relatief stabiele wêreldsituasie kan uit­rafel.

In die Midde-Ooste bedreig Iran se najaag van kernwapens, die voortslepende burgeroorlog in Sirië, die herstel van die terreurgroep die Islamitiese Staat en die eiesinnigheid van pres. Recep Tayyip Erdogan, die Turkse leier, dié wêrelddeel se toekoms.

Op die Europese flank gebruik pres. Wladimir Poetin sy elmboë in sy strewe om van Rusland 'n gevreesde groot moondheid te maak. In reaksie daarop swenk die Europese kiesers, sy dit in beperkte mate, na regse populiste, wat op hul beurt ook 'n bedreiging vir stabiliteit vorm.

Verder oos roer China eweneens sy stert. Die land is besig met 'n ekonomiese en militêre opmars wat Amerika se status as enigste supermoondheid binne enkele jare kan uitdaag.

Intussen bly Amerika teen baie se beterwete die belangrikste potensiële stabiliserende faktor in die wêreld. Dit wil sê, mits die bewoner van die Withuis insien dat sy land se belange gedien word deur die breër wêreldgemeenskap se belange te dien en stabiliteit te bevorder.

Daar is meer as genoeg rede om 2020 met kommer dop te hou.

• NETWERK24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!