Assegaai tref werker in kop

'n Plaasarbeider in die Okahandja-distrik het 'n klag van poging tot moord aanhangig gemaak nadat hy 'n geweld­da­dige aanval deur stropers oorleef het.
Francoise Steynberg
Francoise Steynberg



'n Plaaswerker, mnr. Imms Kavampu (24), het nael­skraap aan die dood ontkom toe vermeende wildstropers hom met 'n assegaai in die kop gegooi het.

Die voorval het Maandagoggend op die plaas Oviumbo-Wes in die Okahandja-distrik plaasgevind toe vyf plaaswerkers op drie vermeende wildstropers op die plaas afgekom het wat met hul donkies weggejaag het.

Die plaas is sowat 40 km van Okahandja af op die Bobbejaanpad geleë wat na die Von Bachdam lei, en loop sedert Vrydag onder beesslagters en wildstropers deur.

Die boer, mnr. Ben Slabbert (junior), sê Vrydag tussen 02:00 en 05:00 is vier beeste, drie dragtige koeie en een groot slagos ter waarde van tussen N$40 000 en N$50 000 geslag.

“Saterdag is die stropers op heterdaad deur die plaaswerkers betrap toe hulle 'n gemsbok geslag het, die karkas op 'n donkie gelaai het en weggejaag het,” het Slabbert aan Republikein gesê.

“Maandag het die plaaswerkers van 07:00 af die stropers se spore gevolg en hulle op hul drie donkies betrap, asook met vyf honde. Die stropers het assegaaie na die plaaswerkers gegooi,” het Slabbert gesê.

“Imms is in die kop getref en ek moes met hom na die hospitaal op Okahandja jaag. Die dokter het gesê die assegaai is deur sy skedel, maar hy is baie gelukkig dat sy brein nie getref is nie.”

Slabbert sê die plaaswerker is uit die hospitaal ontslaan.

Kavampu het gister aan Republikein gesê dit was baie seer toe die assegaai hom in die kop getref het.

“Die stropers het niks gesê toe ons op hulle afkom nie, hulle het net hul assegaaie gegooi.”

Kavampu het Maandag 'n klag van poging tot moord by die polisie op Okahandja aanhangig gemaak en Slabbert het op sy beurt klagte van veediefstal en onwettige betreding aanhangig gemaak.

Ná die eerste voorval Vrydag, sê Slabbert, het die polisie ná sewe ure op die plaas opgedaag.

Saterdag was hulle gou op die toneel, maar Maandag het hulle glad nie uitgekom nie. Slabbert meen boere en plaaswerkers se lewens is in gevaar met booswigte wat al hoe meer astrant en gewelddadig raak.

“Dit raak al erger,” sê hy.

Hy sê die polisie het ook aan hom gesê dat sy plaaswerkers nie 'n vuurwapen mag dra as Slabbert nie teenwoordig is nie.

“Hoe moet my plaaswekers hulself verdedig as stropers hulle so brutaal aanval?” het Slabbert gevra.

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!