Astra, Sputnik (hopelik) volgende week hier
Astra, Sputnik (hopelik) volgende week hier

Astra, Sputnik (hopelik) volgende week hier

Bykomende inentingspunte tot uitreikprogramme na onder meer plase en fabrieke, sluit pogings in om meer Namibiërs te kry om hulle teen Covid-19 te laat inent.
Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht – Die nuwe besendings AstraZeneca- en Sputnik-entstowwe wat vir Namibië bestem is, word aanstaande week verwag as alles volgens plan verloop.

Die hoof van Namibië se taakspan vir die land se immuniseringsveldtog teen Covid-19, me. Petronella Masabana, het dié verwagting bevestig.

Die 50 000 Sputnik-dosisse van Serwië sou aanvanklik verlede naweek hier aangekom het. Die 500 000 dosisse AstraZeneca van Duitsland word via Covax verwag.

Masabane het ook verskeie maatreëls deur die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste aangekondig om die landswye inentingsveldtog verder uit te brei en 'n hupstoot te gee. Dit sluit in bykomende inentingspunte, asook uitreikprogramme na plase.



SUIDE

In die ||Kharasstreek is immunisering teen Covid geïntegreer by roetinebesoeke deur uitreikspanne, terwyl video-opnames met invloedryke mense wat fokus op die voordele van inenting teen die siekte opgeneem en versprei sal word.

Inentings word ook vir naweke in die Lüderitz- en Karasburg-distrikte beplan, en uitreikprogramme na druiweplase, myne, fabrieke, lynministeries en tydens dae waarop pensioene uitbetaal word.



NOORDE

In die Omusatistreek gaan veral verpleegsters in gemeenskappe gemobiliseer word om wan­inligting oor die entstowwe te probeer besweer.

Die hulp van afgetrede verpleegsters gaan ingeroep word, terwyl 17 vaste immuniseringspunte in al vier distrikte daagliks van 08:00 tot 17:00 oop sal wees. Oor naweke sal mobiele spanne, een per distrik, verafgeleë gemeenskappe en gesondheidsgeriewe oor naweke besoek.

Massa-mobilisering in nedersettings gaan raadslede, hoofmanne en tradisionele leiers betrek, terwyl onderhandelinge onderweg is om die Omusati Private Hospitaal as vaste immuniseringspunt te vestig.

In die Kunenestreek gaan die fokus veral val op bejaardes by uitbetalingspunte vir pensioene, terwyl inwoners wat nog nie vir hul opvolgspuite gekom het nie, opgevolg sal word.

Die vestiging van meer inentingspunte, die versterking van uitreikdienste en immuniserings op Saterdae, word vir die Otjozondjupastreek beplan.

In Oshana is die vaste immuniseringspunte van nege tot 13 verhoog, terwyl nuwe vaste punte by die Universiteit van Namibië (Unam) se noordelike kampus, die Hifikepunye Pohamba-kampus, sowel as die Ongwediva- en Ondangwa-handelskoue gevestig is. Drie groot winkelsentrums is geïdentifiseer vir inentings oor naweke, terwyl mobiele spanne van drie na vier verhoog is.

Die ministerie van onderwys, kuns en kultuur moet onderwysers en leerlinge mobiliseer, terwyl die Jeugforum ook betrek is om inentings onder geskikte jongmense te verhoog.

– [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!