ATKV-DigiToneel staan voortaan op sy eie bene
ATKV-DigiToneel staan voortaan op sy eie bene

ATKV-DigiToneel staan voortaan op sy eie bene

Hoërskoolleerlinge met ’n liefde vir die kamera en die geskrewe woord het vanjaar danksy die ATKV ’n nuwe geleentheid om hul staal te toon.

Die vereniging het verlede jaar weens die Covid-19-pandemie ’n aangepaste weergawe van die jaarlikse ATKV-Tienertoneel aangebied en besluit om dié weergawe te ontwikkel sodat dit op sy eie bene kan staan.

Die nuwe ATKV-DigiToneel sal jong sterre uitdaag om monoloë te skryf en dit vir beoordeling te verfilm. Dit sal volgens JJ van Niekerk neffens die ATKV-Tienertoneel aangebied word, wat met ’n paar “lekker verrassings” weer in Augustus in sy oorspronklike formaat na die planke sal terugkeer.

Van Niekerk, projekorganiseerder van albei kompetisies, sê verlede jaar se aangepaste ATKV-Tienertoneel het so vlamgevat dat hulle nie hul rug op ATKV-DigiToneel kon keer nie.

“Ons doel is om deur ATKV-DigiToneel kreatiewe skryf met ’n gegewe tema, asook spel vir die kamera te ontwikkel en dit weer in ’n monoloogbundel te omskep. So kan ATKV-Tienertoneel se fokus by skep en speel vir die verhoog bly,” sê hy.

Jong skrywers moet vir die eerste volwaardige ATKV-DigiToneel ’n monoloog met die tema-wolk “Kop | Sleutel | Mondig | Toekoms | Wettig | Rebellie” as riglyn skryf. Van Niekerk sê hulle werk met “(20)21” as metafoor vir dié tema-wolk.

“Ons het altyd met ’n tema die vooruitsig dat daar genoeg speelruimte vir die kreatiewe skrywers en spelers moet wees om materiaal te skep wat relevant is tot hul eie verwysingswêreld en, indien moontlik, hul kommentaar op die samelewing te lewer sodat ons almal daardeur ons oë met groter omsigtigheid kan oopmaak.

“Met 21 as metafoor kan tieners skryf oor keuses, ’n kopskuif of kophou, die sleutel tot iets, die vooruitsig en verantwoordelikheid oor mondig (en dalk vry) wees, wat natuurlik toekomskeuses bepaal, of selfs meer omstrede kan mond uitspoel oor temas soos rebellie en die begrip van wanneer iets wettig is, wat ook verband hou met 21.

“Die ATKV wil nie noodwendig iets sê deur die keuse van die tema-wolk nie, maar wil eerder ’n kreatiewe en vernuwende platform bied aan sy deelnemers om hul kuns te bevorder en dit op ’n mentorskapreis met top-beoordelaars te verfyn.”

Die top-20 inskrywings sal elk die kans kry om hul teks en voordrag onder die leiding van ’n mentor te skaaf, voordat ’n “Super-12” sake in die eindronde sal uitspook. Die eindronde sal op 25 September op die ATKV se sosialemediaplatforms gestroom word.

Prysgeld van R5 000 vir die wenner, R3 000 vir die naaswenner en R2 000 vir die deelnemer in die derde plek, asook ’n kykerskeuse van R1 000 is op die spel.

Van Niekerk raai dié wat wil inskryf aan om die monoloogbundel te raadpleeg waarin verlede jaar se beste inskrywings saamgevat is; dit is gratis by www.atkv.org.za/nuus/posts/2020/november/atkv-tienertoneel-2020-laai-tekste-gratis-af/ beskikbaar.

“Hier sal hulle ’n goeie idee kry van goedgeskrewe monoloog wat hulle dan as inspirasie kan gebruik om hul monoloog ook in vanjaar se bundel gepubliseer te kry.

“Tweedens was verlede jaar se eindronde ook ’n baie goeie maatstaf vir hoe goeie kameraspel lyk en wat met baie min tegniese ondersteuning gedoen kan word. Die eindronde is steeds op die ATKV se webwerf beskikbaar.”

Hy sê daar is ook ’n webinaar beskikbaar wat fokus op kameraspel en die skryf van monoloë, wat kan help as deelnemers nie weet waar om te begin nie.

“Laastens, en dalk die belangrikste, is om die kans te waag! Moenie bang wees vir die kamera of om jou kreatiewe idees met eerlikheid vlerke te gee nie. Die mentorskapreis is soos geen ander nie en jy gaan iets van jouself ontdek waarby jy vir die volgende 21 jaar gaan baat vind.

“Die voorlopers tydens verlede jaar se kompetisie was dit eens dat die reis hul verwagtinge oortref het en dat hul liefde vir die skep van kreatiwiteit gegroei het en eintlik nou deel is van asemhaal.”

Belangstellendes het tot 30 April kans om hul monoloog en voordrag daarvan op video vir die kompetisie in te skryf. ’n Inskrywing kos R250.

Die inskrywingsvorm en al die bepalings en voorwaardes, asook die kompetisiereëls is by www.atkv.org.za/media/3587/digitoneel_2021_brosjure.pdf beskikbaar.

By navraag of Namibiese hoërskoolleerders ook vir DigiToneel kan inskryf, het Van Niekerk geantwoord: “Enige een in die wye wêreld is welkom om vir die ATKV se Digiprojekte in te skryf!” - Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!