Atlantiese Oseaan se onvriendelike eiland
Elvira Hattingh
Glo dit of nie, maar selfs vandag is daar nog onherbergsame, onbewoonde eilande in ons see (dikwels met goeie rede).
Een van hulle, wat so amper-amper op ons voorstoep in die Suid-Atlantiese Oseaan geleë is, is die sogenaamde Inaccessible-eiland. Dit is sowat 12,65 km² groot en kan slegs bereik word as jy sewe dae per boot vanaf Kaapstad wou vaar.
Net paradys en dier, sê hulle. Hierdie is egter ’n baie onvriendelike paradys en sy het niks lus vir mense nie. Sy bewaar haar geheime jaloers, afsydig en is geensins gasvry nie, sê die legende.
Inaccessible-eiland is deel van die Tristan da Cunha-eilandgroep, wat aan Engeland behoort. Inderdaad, sy is die eiendom van die agbare koningin.
Dit is in 1656 deur ’n Hollandse skip ontdek, sowat 146 jaar nadat Portugese skeepvaarders die nabygeleë Tristan da Cunha-eiland opgemerk het. Maar hoekom doop jy ’n eiland as “Ontoeganklik”?
Wel, want dit is. Dit grens reg rondom teen die see met kranse en beskik slegs oor enkele strande – wat uit rotse bestaan. As jy dus nie taaier as ’n matroos uit die 1600’s is nie, gaan jy dit waarskynlik nie betree nie.
Behalwe vir die dapperste natuurwetenskaplikes wat eindelik die eiland dieper binnegedring het om sy fauna en flora te bestudeer, het dit glo talle matrose gewys waar Dawid die wortels begrawe het.
Die Hollandse of Franse bemanning wat eerste daar aangeland het, kon dit nie regkry om die eiland te betree nie. Twee Duitse Stoltenhoff-broers besluit egter in 1871 hulle is taaier as die res en gaan woon vir twee jaar op die eiland en leef van verkope aan handelaars wat verby vaar.
Miskien het hulle dié besluit aanvanklik oor ’n skuimende beker bier geneem – “Prosit”, wie weet? Hulle was nie opgewasse teen dié eiland se wil van yster om die mensdom van haar gronde te verban nie.
Die handelaars wat verby moet vaar is skaars en die kos nóg meer. Die broers was glo “oorstelp” om in 1873 van die eiland gered te word. ’n Suid-Afrikaner skryf ’n boek oor hul avonture en ’n ander nabygeleë eiland word na hulle vernoem.
Koebaai, ontoeganklike eiland en niémand gaan bly ooit weer permanent daar nie.
Maar die mens vergeet gou en ons nuuskierigheid kry dikwels die oorhand. Dienooreenkomstig spog die eiland reeds met minstens drie skeepswrakke.
Die eerste was die Britse skip genaamd Blenden Hall, wat in 1821 met 54 passasiers en sy bemanning verby St. Helena wou seil. Maar die Inaccessible-eiland was soos ’n seekat wie se tentakels nie wou laat los nie.
Sy wou hulle ’n les leer.
Seestrome trek vir Blenden Hall nader aan die Tristan da Cunha-eiland en vang dit in seegras vas. Dit ly skipbreuk op die Inaccessible-eiland se berugte strande en twee persone sterf. Die volgende vier maande leef hulle op wilde selery, robbe, pikkewyne en albatrosse terwyl hulle boot bou.
Hul eerste poging om na Tristan da Cunha te seil, faal en nog ses mense sterf. Hulle slaag tydens ’n tweede poging om laasgenoemde eiland veilig te bereik en word daarna na Kaapstad geneem.
Tot siens, weer eens, Inaccessible-eiland.
Die ander twee skeepswrakke was die sogenaamde Shakespeare in 1883 en Helenslea in 1897.
Natuurwetenskaplikes, wat dalk wél meer gehard as ouwêreldse matrose was, kry dit reg om die eiland in ’n mate binne te dring en sy fauna en flora te bestudeer. Hulle ontdek die eiland het geen soogdiere, reptiele, amfibieë, skoenlappers of slakke nie.
Die eiland word later ’n natuurreservaat en in 2004 ’n Unesco-erfenisgebied – met min wat dit sal waag om ooit dié eiland te probeer trotseer.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie