Atlete steeds in die steek gelaat

Maande het verloop sedert die internasionale prestasies wat steeds nie finansieel beloon is nie.
Tielman van Lill
Ondanks beloftes vroeër vanjaar deur die ministerie van sport, jeug en nasionale diens asook die Namibiese Sportkommissie, het verskeie atlete nog nie ’n sent van hul belonings vir hul 2019-sportprestasies by dié twee entiteite ontvang nie.

Verlede jaar het atlete Namibië in verskeie sportkodes by die Afrika-spele in Marokko, die Wêreld-atletiekkampioenskappe in Doha en die Paralimpiese wêreldkampioenskap in Dubai verteenwoordig. Dit is ’n jaar gelede wat Namibiërs hul land met medaljes vir boks, boogskiet en fietsry by die Afrika-spele trots gemaak het. Die atletiek- en Paralimpiese wêreldkampioenskappe het later in Oktober en November plaasgevind.

Me. Gaby Ahrens, voorsitter van die Namibiese Atletekommissie en driemalige Olimpiese kleiduifskut, sê dit is skokkend dat atlete steeds nie vir hul harde werk beloon is nie.

Ahrens sê: “Ons het ongeveer twee maande gelede ’n skrywe rakende die aangeleentheid aan die ministerie van sport asook die Sportkommissie gerig. Volgens beide partye geniet die kwessie die hoogste moontlike aandag, maar hulle sê daar is nie geld beskikbaar nie. Hulle het wel laat weet sodra die ministerie sy begroting ontvang, sal hulle die atlete betaal.”

Wanneer atlete Namibië internasionaal of kontinentaal verteenwoordig het en met medaljes terugkeer, word hulle deur hope Namibiese regeringsamptenare en beamptes op die lughawe ingewag en verwelkom. Maar tans vervul die regering nie sy beloftes en mandaat aan dié atlete nie.

“Die regering gee op die oomblik nie ’n sent nie. Dit is skokkend en demoraliserend, want daar is vir dié internasionale byeenkomste begroot. Al sê die ministerie daar is nie geld beskikbaar nie, sal die Atletekommissie deurentyd met die ministerie van sport in kontak bly,” het Ahrens vertel.

Volgens mnr. Freddy Mwiya, hoofadministrateur van die Namibiese Sportkommissie, het hulle ’n begroting van N$910 000 by die ministerie ingedien.

Mwiya sê hulle wag steeds om van die waarnemende uitvoerende direkteur in die ministerie te hoor wanneer ’n vergadering tussen die twee partye belê sal word.

Toe mnr. Sivute Katamba, die waarnemende uitvoerende direkteur, om kommentaar genader is, het hy die navraag verwys na mnr. Roger Kambatuku, sy senior sportbeampte, wat nog nie daarop gereageer het nie.

Een van die land se bekende uitblinkers wat laasjaar opslae internasionaal en in Suid-Afrika gemaak het, is ook nie vir enige van die medaljes vergoed nie. Volgens dié atleet wat verlede jaar met die MTC Namibiese Sporttoekenings met meer as een kontantprys vir topprestasies vereer is, is net die helfte van die beloofde geld sover uitbetaal.

“Nee, niks is nog aan my gegee nie en vir die Sporttoekenings is ek net vir die een prys vergoed,” het die atleet aan Republikein vertel.

By die Afrika-spele verlede jaar in Rabat, Marokko, het Namibië se medalje-oes bestaan uit twee goues (beide deur die bergfietsryer Tristan de Lange), twee silwers (die boogskutters Quinn Reddig en Adriaan Grobler in die gemengde spanitem, asook die bergfietsryer Alex Miller) en vier brons (Miller, twee vir Vera Adrian in fietsry asook die bokser Junias Jonas) ingepalm.

Hierdie presteerders het die klein Namibiese spannetjie 16de (uit 53 lande) op die medaljelys geplaas. Die belonings vir medaljes was vooraf vasgestel op N$80 000 vir goud, N$60 000 vir silwer en N$40 000 vir brons, met afsonderlike belonings vir die betrokke afrigters.

Helalia Johannes het ’n briljante bronsmedalje in die marathon by die 2019 wêreldatletiekkampioenskap in Dohan verower – ’n prestasie wat volgens die Sportkommissie se begroting veronderstel is om met N$50 000 beloon te word, tesame met N$20 000 vir haar afrigter, Robert Kaxuxuena.

Volgens dieselfde begroting is die T13-klas siggestremde naelloper Johannes Nambala ook geregtig op N$10 000 en N$50 000 vir sy goue en bronsmedalje by die Paralimpiese wêreldkampioenskap in Dubai.

- Bygewerk van Nampa

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer