Atletiek sal in 2022 in Erongo herleef

Padwedlope
NAMPA
Bethold Karumendu, streeksportbeampte van die Erongostreek, sê hy gaan sy bes probeer om vanjaar opnuut drie gewilde padbyeenkomste in dié gebied soos in die verlede te laat herleef.

Die Navachab-halfmarathon in Karibib, die Spar Challenge asook die Omaruru-straatmyl is sedert die aankoms van die coronavirus in 2020 vir twee jare nie aangebied nie.

Karumendu sê inperkings gedurende 2020 en 2021 het dit onmoontlik gemaak om enige massabyeenkomste te hou. Met die huidige regulasies in plek sal 2022 egter hopelik ’n sportjaar soos van ouds wees.

“Ons byeenkomste verg massadeelname en ons het nie geweet wat om te doen toe die pandemie in 2020 toegeslaan het nie. Met die nuwe reëlings in ons guns kan ons daarvolgens beplan,” het hy verduidelik.

Die gesoute sportorganiseerder sê dié drie kompetisies lok tot 1 000 atlete elk en dis presies wat sy borge graag wil sien. Ongelukkig sal minder deelnemers volgens regulasies ’n uitdaging wees.

“Ons hoofborge wil nie rêrig betrokke wees waar slegs ’n paar mense aan ’n uitdaging deelneem nie. Maar as ons die kompetisies laat herleef, kan ons atletiek en padwedlope lewendig hou terwyl ons ’n inkomste verdien en aan Covid-19-regulasies voldoen word.”

Karumendu sê die fietsrybyeenkoms by Omaruru sal nie vanjaar plaasvind nie. Datums vir die drie genoemde kompetisies sal later bekend gemaak word.

– Nampa

FOTO’s
Bethold Karumendu, gesoute organiseerder van padwedlope en sportbyeenkomste. Foto argief
Die marathonhardloper Lavinia Haitope (regs) in aksie tydens die 2018 Navachab-halfmarathon. Foto Nampa, Hesron Kapanga

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer