Audi se kordate, veeldoelige blitsbuks

Padgedrag en ­uitstekende ­paddinamika steel harte.
Gerine Hoff
Dirk Gallowitz



Met die groeiende gewildheid onder jonger en moderne kopers van enig­iets sportnuts, is ek van mening die profiel van motormodelle gaan in vyf jaar se tyd heel anders lyk as vandag.

Ek dink die tradisionele middelslag sedan gesinsmotor se dae is getel onder die Afrika-son. Dalk sal die top, groot, luukse waens nog aan die lewe gehou word deur ryk politici en köoperatiewe swartpakdraers, maar dit sal myns insiens hoogstens 'n nismark bly.

Dit is dus nie verrassend dat omtrent al die motorvervaardigers neig na kleiner, kompakte nutsvoertuie wat in die stad en op die grondpad tuis kan wees nie.

Audi se nuwe Q2, wat onlangs plaaslik bekendgestel is, was dus geen verrassing nie, maar wat wel getref het was die oulike ontwerp, praktiese doeltreffendheid, uitmuntende paddinamika en opwindende stilering.

Ingolstadt beskryf die nuwe kompakte Q2 'n “baanbreker”-model - 'n stadsmotor wat ideaal is vir elke dag pendel, maar met genoeg willewragtag-gene om ook in die platteland op grondpaaie te kan baljaar.

Nou ja, bemarkingsmense se innovering met be­skrywings is legendaries en die meeste van hulle sal iets so onsmaaklik as kasterolie bemark as 'n “heerlike aperatief met 'n pikante smaak”!

Met die Q2 is Audi se bemarkingsmense egter in die kol in hul beskrywing van die opwindende buksie as “sportiewe veeldoeler met moderne stilering en hoë vlakke van funksionele tegnologie”.

Terwyl die “Q” in die modelbeskrywing gewoonlik 'n aanduiding is van “Quattro”-aandrywing, is daar nie vir die onmiddellike toekomsplanne deur Audi SA om die Q2 met Quattro-aandrywing te bring nie, grootliks weens prysoorwegings.

Hoewel die Q2 plaaslik met modelle soos die Mazda CX-3, BMW X1, Mercedes GLA, Jeep Renegade, Fiat 500X en selfs die Mini Countryman meeding, is die Q2 eintlik in 'n nismark van sy eie.

Gebou op die VW-groep se MQB-platform, kom die Q2 eiesoortig gestileer met 'n geometriese ontwerp wat skerp hoeke, sterk lyne en prominente wielboë insluit. Die algehele voorkoms straal 'n moderne, sportiewe en aggressiewe beeld uit. Die dak duik so effe na agter om vaagweg trekke van 'n koepee op te roep. Die voorkant word gedomineer deur 'n prominente Audi-hoekige sierrooster en groot luginlate.

Agter is die kleurvariasies van die breë C-pilaar 'n stileringstreffer met die netjiese dakvlerkie en agterste lugsnoer wat die oog vang.

Die klein Q2 is 4,19 meter lank, 1,79 meter breed en 1,51 meter hoog. Die afstand tussen die voor- en agteras meet 2,6 meter.

In SA is 12 bakkleuropsies beskikbaar vir die Q2 met twee nuwe kleure, naamlik “Coral Orange” en “Manhatten Grey” wat eksklusief aan die Q2-­model toegewys is.



FUNKSIONEEL

Binne is die kajuit luuks afgewerk en na gelang van die opsionele toerusting en afwerkingsvlak wat jy kies, omvattend toegerus. Die hoekige ontwerp wat sorg vir 'n moderne voorkoms word in die kajuit voortgesit. Uitleg is tipies Audi, funksioneel en ergonomies uitstekend, met afwerking en materiale van hoë gehalte. Ek is van mening die Q2 se kajuit gee die toon aan in sy segment.

Toerusting is uitstekend, veral in die modelle met die S-Line pakket afgewerk.

Audi se opsionele “Virtual Cockpit” is myns insiens seker die beste instrumentasie tans be­skikbaar en is funksioneel briljant met omtrent al die elektroniese katoeters, selfs satellietnavigasie daarmee geïntegreer!

Daar is 'n hoë-definisie volkleur raakskerm in die middel bo in die voorpaneel waarop ook al die funksies, ingesluit Audi se MMI radio/klankstel, SatNav, asook rit-en motorinligting vertoon word. 'n Draaiknop op die middelkonsole agter die rat­hefboom tussen die voorsitplekke is maklik binne bereik en werk intuïtief om ook al die inligting en verstellings op die stelsel te ontgin as jy nie die raakskerm wil gebruik nie. Met Audi Connect kan jy byvoorbeeld via Google Earth en Google Street View enige adres vind en die motor kan ook in 'n WiFi “hotspot” verander word om tot agt verskillende fone/tablette/skootrekenaars gelyktydig te hanteer!

Verder is Audi CarPlay en Android Auto beskikbaar waarmee enige slimfoon soomloos met die stelsel geïntegreer kan word om onder meer ook musiek deur die motor se klankstelsel te speel.

Die agtersitplekke se beenspasie is gering met 6-voet plussers soos ek in die voorsitplek, maar sal kleiner volwassenes met gemak kan hanteer. Die bagasiespasie is 'n kleinerige 405 liter, maar vergroot na 1 050 liter met die agterste sitplekke platgevou.

Die Q2 beskik ook oor 'n aantal gesofistikeerde bestuurhulpstelsels.

Audi “Pre-Sense” gebruik 'n radar voor in die neus om die bestuurder voortydig te waarsku en sal selfs hard rem en die motor tot stilstand bring sou 'n moont­like botsing met ander voertuie of voetgangers bespeur word. Daar is onder meer 'n Stop/Ry-stelsel wat die enjin outomaties af- en aanskakel wanneer daar in verkeer of by verkeersligte stilgehou word, asook parkeerhulp met sensors waar die stelsel ook die Q2 self kan parkeer.



KEUSES, KEUSES

Audi SA het die Q2 plaaslik bekend gestel met die keuse van twee petrol- of een dieselenjin.

Die 1.0 liter TFSI petrol­enjin bied 85 kW en 200 Nm se piekverrigting. Amptelike brandstofverbruik word aangegee as 5,1/100 km en CO² uitlate as 117 g/km. Die 1.0 TFSI sal eers van Mei af plaaslik beskikbaar wees.

Aandrywing is na die voorwiele deur 'n keuse van 6-spoed handrat of Audi se S-tronic outomaties.

Tydens die bekend­stelling het ons met die 1,4TFSI petrol­enjin Sport-modelle gery. Piekverrigting is 110 kW en 250 Nm met COD-tegnologie (Cylinder on demand), wat die 2de en 3de silinder uitskakel wanneer die enjin minder as 100 Nm benodig en die enjinomwentelinge tussen 2 000 en 3 000 rpm is.

Aandrywing is ook deur die voorwiele via 'n 6-gang handratkas of die 6-gang S-tronic outokas. Brandstofverbruik is 5,2l/100 km met die S-tronic ratkas en 5,4l/100 km vir die handratkas.

Slegs een dieselenjin model, naamlik die 2.0TDI met 105 kW en 350 Nm en toegerus met 'n 6-gang S-tronic outokas sal van Mei 2017 af plaaslik beskikbaar wees.

Al die modelle kan met verskillende Audi afwerkingspakkette en 'n lang lys opsionele toerusting bestel word. Tydens die bekendstelling het ons met 'n pragtige blou bakkleur met silwer afwerking gery wat in die sportiewe S-Line pakket afgewerk en met die opsionele 17” sierwiele toegerus was. Binne was die sportsitplekke afgewerk in liggrys Nappa-leer en daar was opsionele gepoleerde aluminium afwerking op die voorpaneel en deure.

Ons model was ook toegerus met die opsionele LED ligpakket.



LEGENDARIES

Tydens ons bekendstellingsrit is ons vanaf Kaapstad Internasionale Lughawe oor Du Toitskloof via Rawsonville en Goudini na Wellington. Die heerlikheid vir my was uiteraard die legendariese Bainskloofpas waar die stamperige padoppervlak enige wanne-be sportnuts tot 'n middelmatige stoftrapper kan afgradeer. Die knobbelbesaaide pad met sy kort draaie, haarnaald­bogge en vinnige links-regs-links swiepe, bly vir my een van die beste “toetsbane” om 'n voertuig se onderstel en veerstelsel te evalueer.

En dis juis hier, met die Q2 1.4 TFSI se S-tronic ratkas in “Sport+”- modus gestel en die stuur op Sport, wat ek behoorlik lat ingelê het boontoe, stadig deur die ou tolhek, net om weer oopketel teen die berg af te jaag! En dit was hier dat ek oopbek respek en bewondering vir die Q2 gekry het!

My navigator het beweer hy het 10 jaar ouer geword, twee byna-hartaanvalle deurstaan en 'n skoon onderbroek by die eindpunt gesoek. O ja - sy gebedslewe is ook blykbaar weer op datum vir die res van die jaar!

Die waarheid daarvan sal ek nie kan bevestig nie, maar waaroor ek wel onder eed kan getuig, is dat dit een van die beste voertuie is - in terme van paddinamika - wat ek in 'n lang tyd onder hande gehad het.

Maak nie saak hoe hard ek die skerp draaie aangeval het nie, die Q2 het net foutloos gereageer. Platvoet in tydrenstyl deur die haarnaaldbogge kon ek net een maal daarin slaag om 'n vierwielgly te bewerkstellig.

Sy balans, remme, stuurpresiesheid, greep en ratverhoudings is eenvoudig uitstaande.

Ek verstout my om te sê die Q2 het beter paddinamika en stuurgevoel getoon as meeste sogenaamde “blitsbukse” wat ek die afgelope twee jaar bestuur het!

Die nuwe Audi Q2 S-Line 1.4T S-Tronic is my gunsteling voertuig sover in 2017.

Nadele? O ja, daar is een: jy moet diep sakke hê, want die prys is myns insiens te styf.

Maar dié wat dit kan bekostig gaan 'n briljante en kordate kompakte sportnuts geniet.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!