August 26 van korrupsie beskuldig

Denver Kisting
Denver Kisting
’n Reeds omstrede maatskappy wat aan die Namibiese weermag behoort, is opnuut in die beskuldigdebank.

Dít kom nadat die amptelike opposisie, die Popular Democratic Movement (PDM), gister by monde van sy president, mnr. McHenry Venaani, dié maatskappy van korrupsie beskuldig het.

Die opposisieleier voer aan N$48 miljoen van die ministerie van verdediging se begroting is vir August 26 bestem vir die vervaardiging van weermaguniforms.

Boonop, beweer Venaani, werk August 26 saam met ’n ongeïdentifiseerde Brasiliaanse maatskappy om die multimiljoendollar se uniforms te maak.

Hy het aangevoer hy kan nie in dié stadium die naam van die Suid-Amerikaanse vennoot onthul nie omdat “dit implikasies op die sekuriteit van die land kan hê”.

Dit gaan sy verstand te bowe dat soveel geld aan uniforms bestee word, terwyl die land se ekonomie op sy knieë is, het Venaani gesê.

Die PDM-leier het op ’n nuuskonferensie in die hoofstad gister ook ’n hou gemik in die rigting van die ombudsman, adv. John Walters.

Venaani voer aan Walters se kantoor is gekaap, omdat dié grondwetlike liggaam hom glo afgevee het aan ’n versoek van die PDM om die werksaamhede van August 26 te ondersoek.

Walters het gistermiddag self ’n nuuskonferensie belê om teen die PDM-leier se bewerings te velde te trek. Die ombudsman sê Venaani se bewerings is ’n verleentheid aangesien dit onwaar is.

Hiernaas is dit ook ’n verleentheid dat mnr. Nico Smit, die PDM se tesourier-generaal, teenwoordig was tydens die PDM se nuuskonferensie, maar geswyg het oor terugvoering van Walters se kantoor.

Dit was hy wat Smit is wat die klag oor August 26 aanhangig gemaak het en wat deurlopend op die hoogte gehou is, sê Walters.

Die ombudsman het ’n verslag oor die maatskappy wat hy op 28 September vanjaar aan die speaker, prof. Peter Katjavivi, voorgelê het aan die media beskikbaar gestel.

Hierin sê Walters sy bevinding was dat August 26 sedert sy totstandkoming op 14 Augustus 1998 nog nooit verpligte jaarverslae by sy lynministeries ingedien het nie.

Sou die maatskappy wel jaarverslae by die lynministeries ingedien het, het daardie ministeries nooit dié verpligte dokumente by die Nasionale Vergadering (NV) ingedien nie, sê Walters.

Lt.kol. Petrus Shilumbu, die weermag se woordvoerder, het gister gesê hy benodig aanvullende inligting voor hy kan reageer.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer