'Ausgezeichnete' Aus verkwik die siel
'n Sondagnamiddag het onlangs 'n heerlike geleentheid gebied om 'n geskiedkundige Namibiese plekkie te verken.
Denver Kisting
Min dinge lawe 'n mens se hart en siel soos 'n road trip.
En dit maak nie saak of 'n mens vir werk of plesier reis nie.
Trouens, ek reken 'n mens moet in elk geval dié twee ideale saamsnoer om van 'n rit op die pad 'n belewenis te maak.
Ja, natuurlik is vlieg vinnig, veilig en vervullend. En die teendeel ook waar.
Maar om die pad – soos hy in sy wye glorie met meegaande vlaktes jou in Namibië beloon – per motor aan te pak, is in sy diepste wese 'n terapeutiese ervaring.
Wanneer 'n mens plaaslik reis, besef jy ook hoe baie van ons pragtige land nog wag om jou sintuie te koggel.
So oud soos sommige van ons is, is daar sekere bestemmings wat nog on- of onderontdek is.
Tot onlangs toe was ek 'n Aus-maagd.
Dit is rondom middagete toe ek en kollega-reisgenoot Audrey Tsowases op Aus aankom.
Vroeër daardie oggend het ons op Lüderitz die opwindende nuus ontvang 'n larny toer wag op ons in dié geskiedkundige plekkie in die verre Suide.
Voor die oproep uit die hoofstad was ek vir 'n bondige oomblik bekommerd oor wat 'n mens op Aus met jouself sou aanvang. Nie net was dit 'n Sondag nie – dit was 'n Sondagmiddag, die tyd wanneer die ganse Namibië verenig in middagslapie-mode.
Mnr. Bernd Roemer en sy vrou, me. Lela Roemer, vat al die afgelope klompie jare raak en vas op Aus. Nie net by hul pragtige Bahnhof Hotel nie; hulle deins ook nie terug nie om seker te maak Aus kry die aandag, sorg en liefde wat hy verdien.
Die pad na nedersetting-, dorp- of stadstatus sal waarskynlik nog lank nie vir hierdie skatkissie beskore wees nie, maar die Roemers laat hulle nie daardeur van stryk bring nie. Inteendeel en allesbehalwe.
Nadat ons afgelaai en ons in die hotel se knus kamers tuisgemaak het, was ons reg vir die toer.
Maar nie voor Roemer ons eers vir 'n koffietjie op die stoep sitgemaak en oor die dorp en sy wel en wee begin vertel het nie.
Gehoed en gestewel is Roemer 'n halfuur of wat later agter die stuur van die 4x4-toerwa.
Dit word gou duidelik hy is 'n ensiklopedie van kennis oor die totstandkoming van Aus, en sy ryk geskiedenis ken geen perke of grense nie.
Boonop kan min mense hom nadoen as 'n storieverteller. Bobaas.
Ons en die Italiaanse gesinnetjie hang ondanks die koel briesie wat 'n mens voel wanneer jy uit die 4x4 klim, sonder ophou aan sy lippe.
So hoor ons Aus het sy voete hier rondom 1906 gevind.
Oor die oorsprong van die naam is daar nog geen uitsluitsel nie en in die verskillende tale is die betekenis eweneens wyd soos die Kalahari se genade – van die Duitse “uit” tot die Damara/Nama en San se “slang(fontein)”.
Roemer raak sommer warm onder die kraag as mense die koudste-plek-in-Namibië-mantel om Aus se nek hang.
“Dis nie waar nie,” meen hy beslis.
Maar hy gee toe die kwik skroom nie om onder 0 grade Celsius te loop draai nie. Minus 7 °C is byvoorbeeld geen seldsame verskynsel nie. Sjoe. Eina. (Ek het in daardie stadium skielik gewonder of ek genoeg warmgoed – drink- én kooigoed – had vir daardie nag.)
Deur die loop van die dag word die nagenoeg 1 000 inwoners en gaste op so ongeveer 3,4 °C getrakteer en die windjie skroom ook nie om geniepsig tande in te slaan nie.
BAKENS
Roemer wys die ou Katolieke hospitaal uit.
Baie Namibiërs, van hulle vandag vername lede van die samelewing, het hier hul eerste lewenslig aanskou.
Hy ry op 'n kol oor die treinspoor wat steeds groot maar onderontgonne ekonomiese potensiaal inhou.
Ons ry verby die ou Duitse skool waar talle ook hul fondament as uiteindelike produktiewe lid van die samelewing gekry het. Dit is steeds 'n opleidingsentrum.
Die historiese Katolieke aanbiddingshuis staan steeds sterk en spog die laaste ruk met 'n blinknuwe baadjie nadat die verf-pleidooie op horende ore geval het.
Ons kies later verby die begraafplaas koers waar menigte 'n laaste rusplek gevind het. Selfs dit is (makaber) mooi.
Die dag word afgeluit met 'n skemerkelkie en 'n peuselhappie – geen beter manier om saam met die einde van die dag die salige Suide in te adem (en die koue te verdryf) nie.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie