Aussies verneder Engelse verder
Aussies verneder Engelse verder

Aussies verneder Engelse verder

Krieket
Selfs Novak Djokovic het ’n meer suksesvolle uitstappie na Australië gehad as die Engelse krieketspan. Die tennisspeler het minstens een van sy appèlsake gewen.
Hierteenoor het die arme Engelse net mooi niks Doer Onder gewen nie. Joe Root en sy span het Sondag die vyfde en laaste toets in Hobart op dag 3 ná ’n skouspelagtige kolfineenstorting met 146 lopies verloor.
Die Aussies beklink die reeks dus met 4-0. Die Engelse se beste toets was die vierde een, in Sydney, waar die besoekers danksy ’n dapper kolfpoging op dag 5 ’n onbesliste uitslag kon afdwing.
Dít sal egter skrale troos wees, want vir hulle het die reeks geëindig soos dit begin het. Die Asse het meer as ’n maand terug afgeskop met Mitchell Starc wat Rory Burns met die eerste aflewering van die reeks skoongeboul het. Dít blyk toe ’n onheilspellende voorbode te gewees het.
Engeland kon nie een keer in die reeks meer as 300 lopies aanteken nie en die vyfde toets was die eerste waarin hulle al 20 Australië se paaltjies kon plattrek. Hierteenoor het die Aussies in vier van hul nege kolfbeurte meer as 300 lopies aangeteken.
Ironies genoeg het hulle die toets waarin hulle nié meer as 300 kon slaan nie, die derde toets, in Melbourne, met meer as ’n beurt gewen. Toe het hulle Engeland vir 185 en 68 uitgeboul en hul 267 in die eerste beurt was genoeg sodat hulle net een keer moes kolf.
Engeland se vertoning in Sydney het die hoop in sy span en onder sy ondersteuners laat opvlam dat hy in die vyfde toets met ’n sterk eindpoging vorendag sou kon kom. Dit het belowend begin toe die Engelse boulers, wat regdeur die reeks hul bes gelewer het, die Aussies vroeg in hul eerste beurt op 12/3 laat steier het.
Australië se kolfdiepte is egter van só ’n aard dat hulle altyd voel minstens een van hul kolwers sal ’n goeie beurt kan speel. In dié toets was dit die Speler van die Reeks, Travis Head (101 van 113 balle), wat die Aussies by ’n eerstebeurttelling van 303 uitgekry het.
Engeland het gevou in hul eerste beurt en 188 aangeteken. Die besoekers se boulers, en in die besonder Mark Wood (6/37), het goed vertoon in die tweede beurt en die Aussies vir 155 uitgeboul. Die wenteiken was steeds groot – 271.
Tog het die hoop opgevlam toe die Engelse aanvangskolwers, Burns (26) en Zak Crawley (36), vir die eerste keer in die reeks ’n vennootskap van meer as 50 lopies kon opstapel.
Hulle het Engeland tot 68/0 gevoer. Toe begin die chaos. Weer. Hulle het al tien hul paaltjies vir slegs 56 lopies verloor en is vir 124 uitgeknikker.
Scott Boland (3/18), waarskynlik die Aussies se vonds van die reeks, sowel as die indrukwekkende jong veelsydige speler Cameron Green (3/21) en die kaptein, Pat Cummins (3/42), het die skade aangerig.
Dit is ’n groot vernedering vir Engeland.
“Dis nogal mal om aan die einde van ’n reeks van vyf toetse te staan met soveel positiewe punte. Om met 4-0 te wen, dis groot,” het Cummins ná die tyd volgens Reuters gesê.
Root, die Engelse kaptein, het erken dit was ’n taai toer vir hulle.
“Ons het met tye goeie krieket gespeel, maar ons kon nie een goeie wedstryd aanmekaarslaan nie. Dis iets wat ons as ’n groep moet leer en om nie weer dieselfde foute te begaan nie,” sê Root.
“Soms moet jy jou hand opsteek en die span respekteer wat jou uitoorlê het.”
Die Proteas reis later vanjaar na Engeland. Hoewel die Engelse tuis ’n heel ander gedierte is, sal Mark Boucher en kie notas maak van hul swak plekke.
Vir eers is dit egter droëbek terug huis toe vir die Engelse.
As hulle vinnig maak, sê ’n wysneus op Twitter, kan hulle dalk nog dieselfde vlug as die gedeporteerde Djokovic haal.
– Netwerk24

FOTO
Pat Cummins en sy Australiese span vier fees nadat hulle die reeks om die As met 4-0 teen Engeland gewen het. Foto AP

Kommentaar

Republikein 2024-11-26

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 19° | 33° Rundu: 23° | 39° Eenhana: 24° | 36° Oshakati: 23° | 35° Ruacana: 21° | 36° Tsumeb: 25° | 37° Otjiwarongo: 19° | 34° Omaruru: 17° | 34° Windhoek: 18° | 32° Gobabis: 19° | 32° Henties Bay: 14° | 18° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 17° | 30° Mariental: 13° | 29° Keetmanshoop: 9° | 28° Aranos: 16° | 30° Lüderitz: 13° | 28° Ariamsvlei: 10° | 27° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 37° Lubumbashi: 17° | 26° Mbabane: 16° | 35° Maseru: 13° | 26° Antananarivo: 16° | 29° Lilongwe: 22° | 34° Maputo: 21° | 41° Windhoek: 18° | 32° Cape Town: 15° | 19° Durban: 16° | 22° Johannesburg: 18° | 29° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 19° | 29° Harare: 17° | 25° #REF! #REF!