Avonturier verdrink byna tydens riviervaart
Ronelle Rademeyer – ’n Suid-Afrikaanse avonturier wat verlede week ná 55 dae en 2 200 km in sy geel roeiboot die Oranjerivier se monding by Oranjemund bereik het, sê naby Noordoewer het hy in moeilikheid beland en vir ’n paar oomblikke vrede gemaak dat hy gaan verdrink.
Mnr. Edward-John (Bean) Hill (38) van Langebaan het die tog aangepak om geld in te samel vir Boere Droogtehulp SA.
Sy riviervaart het op 29 Maart in Lesotho afgeskop en hy het verlede Maandag by Oranjemund klaargemaak.
“Ek is in die musiekbedryf en tree as promotor vir verskeie bekende kunstenaars op. Ek help ook kunstefeeste reël. Omdat daar weens die virus nie nou feeste plaasvind nie, het ek besluit om hierdie avontuur aan te pak.”
Hill het egter op dag 30 ’n noue ontkoming gehad wat byna sy avontuur gekelder het.
Hy vertel hy moes net 27 km vir die dag geroei het, maar toe hy by die plek kom waar sy ondersteuningspan hom moes ontmoet, was hulle nie daar nie. Daar was geen sein nie en toe hy hulle met die satellietfoon in die hande kry, moes hy hoor hulle is omtrent 20 km verder stroomaf in die omgewing van Vioolsdrif en Noordoewer.
“Ek het dus daardie dag 50 km geroei. Daar het ’n stormsterk wind reg van voor gewaai. Teen skemertyd, omtrent so 4 km vanwaar ek hulle moes ontmoet, was daar ’n keerwal in die rivier.
“Ek het dit ondersoek en gesien dit is nie so hoog nie,” vertel hy en sê toe hy oor die keerwal is, het die wind die boot teruggedruk en omgedop.
Ek was onder die boot in ’n maalgat vasgekeer,” vertel Hill.
Hy sê sy kragte was ná die lang dag op die water min. Hoewel hy probeer het om bo die water uit te kom, is hy kort-kort weer ondertoe gesuig.
“In ’n stadium het ek gedink ek moet nou maar net groot slukke vat dat dit verbykom,” sê Hill, maar vertel hy kon uiteindelik daarin slaag om bo die water uit te beur. “Dit was net genade.”
Toe hy tot verhaal kom, was sy boot, roeispane en sy mediese en ander voorrade skoonveld.
Hy het besluit om te gaan hulp soek aan die Namibiese kant van die rivier. Hill het teen ’n hoogte uitgeklouter en ’n nedersetting gewaar.
“Ek het na hulle toe gestap en die mense daar het my na ’n plaashuis geneem waar hulle vir my kos en slaapplek gegee het.”
Hill is eers die volgende dag met sy ondersteuningspan herenig. Hy het daarna ’n tydjie tuis gaan aansterk en toe teruggekeer rivier toe om die res van die tog te voltooi, vertel Hill.
Hoewel sy mikpunt was om R3 miljoen in te samel en hy op die ou end net R50 000 kon kry, beplan hy reeds aan sy volgende avontuur.
“Dié keer wil ek om Mauritius gaan roei.” As alles volgens plan verloop, hoop hy om teen middel-Augustus daarmee te begin.
Mense kan sy avonture op Facebook volg (BeanExtremeOfficial).
– [email protected]
FOTO’s
Mnr. Edward-John (Bean) Hill op sy geel roeiboot waarmee hy 2 200 km op die oranjerivier afgelê het. Foto Facebook

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie