Avontuurvrou vind stapmaats
Die Duitse voetslaner se staptog van 2 022 km van die Suide na die Noorde saam met twee donkies, skop vandag af.
Francoise Steynberg - Die Duitse avontuurvrou wat van die Oranje- tot by die Kunenerivier vir die bewusmaking van donkies wil stap, het haar twee langore in die diep Suide gevind en begin haar staptog vandag.
Ellen Horlebein (41), 'n kranige voetslaner en prokureur van Mörs, naby Düsseldorf, sê sy het verlede week haar twee beste vriende, Jimmy en Johnny, in die omgewing van Goodhouse se Poort in die ||Kharasstreek, net noord van die Oranjerivier, op mnr. Christian Abraham se plaas Sperlingspütz gekry.
“Hy het my gekontak ná hy die artikel oor my soektog na donkies in Republikein gelees het. Vandaar het ons hulle met 'n perdesleepwaentjie na die Oranjerivier vervoer. Dit was nogal 'n storie om die donkies in die sleepwa te kry,” vertel Ellen.
“Ons drie het mekaar goed leer ken. Ons het saam geoefen en onsself vir die staptog by Felix Unite Provenance Camp langs die Oranjerivier voorberei. Jimmy en Johnny loop mooi saam sonder enige probleme en hulle het sulke oulike persoonlikhede. Hulle is presies die soort donkies wat ek wou gehad het,” sê Ellen.
Sy vertel die twee hingste, waarmee sy 'n noue band gevorm het, is geensins veeleisend of lekkerbekkig nie.
“Hulle is tevrede met korrels en ek hoef nie eers 'n wortel of 'n peer voor hul neuse rond te swaai nie,” sê sy.
Ellen was verlede week nog besig met ander voorbereidings soos die installering van 'n satellietfoon.
Sy meen Jimmy en Johnny is gereed en goed met hul toerusting opgelei om die lang staptog van 2 022 km vandag vanaf Noordoewer na die Epupa-valle aan te pak. Sy beplan om sowat 15 km per dag te stap in meer as 134 dae, wat rusdae sal insluit.
“Die pas van die staptog sal van die donkies afhang en waar ek vir hulle water en kos op pad kan kry. Ek hoop die boere kom ons tegemoet sodat ons water en 'n veilige kampplek op plase kan kry,” sê Ellen.
Ellen, Jimmy en Johnny skop vandag hul tog by Noordoewer af, dan stap hulle deur die Suide tot by Solitaire en dan weswaarts kus toe. Daarna sal hulle die pad Uis toe vat, deur die voormalige Damaraland na Opuwo stap en by die Epupa-valle eindig.
Sy nooi ander voetslaners uit om van tyd tot tyd by haar staptog aan te sluit, “maar nie vir langer as 'n week nie en reëlings moet vooraf getref word”.
Ellen is 'n kranige voetslaner wat 880 km op die gewilde El Camino-staproete na Santiago de Compostela in Spanje in 29 dae voltooi het en 30 km per dag gestap het.
Sy het ook die bekende E5-staproete van Duitsland af via Oostenryk oor die Alpe na Italië gestap. Die idee vir haar staptog met langore het posgevat toe sy 'n veilige hawe vir donkies by Calitzdorp in Suid-Afrika besoek het en te hore gekom het van die wrede slagting van donkies vir die uitvoer van hul velle na China.
Nou is Ellen 'n kampvegter vir donkieregte en sy wil die staptog vir die bewusmaking van dié kwessie aanpak.
Volg Ellen op haar Facebook-blad, My Pink Bumper, en op Instagram by MyPinkBumper.
Stuur gerus 'n e-pos aan haar as jy die staptog wil meemaak by [email protected].

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie