Baanbrekerstudie oor dolfyngetalle
Dit is die eerste keer dat so 'n opname van die dolfyne gedoen is en bied 'n model waarop daar vir die res van die Benguela-seestroom gewerk kan word.
Die eerste getalleskatting van twee dolfynspesies in Namibië se eilande en mariene bewaringsgebied (Nimpa) gaan in die toekoms baie waardevol wees om te bepaal hoe gesond die bevolkings van Heaviside se dolfyne en Afrika-vaaldolfyne is.
Dit volg nadat baanbrekerswerk deur wetenskaplikes getoon het dié gebied is die tuiste van 'n groot bevolking van ongeveer 1 600 Heaviside-dolfyne en 3 500 Afrika-vaaldolfyne.
Dr. Morgan Martin, wat die navorsing as deel van haar PhD-proefskrif by die Universiteit van Pretoria doen, verduidelik dit is die eerste keer dat so 'n opname van die dolfyne gedoen is en bied 'n model waarop daar vir die res van die Benguela-seestroom gewerk kan word.
“Ek het die getalle van elke spesie as 'n gemiddeld vir die jare 2012 tot 2014 bereken, omdat dit die jare was wat ons die opname per boot gedoen het,” het sy verduidelik.
Volgens 'n mediaverklaring wat onlangs deur die Universiteit Stellenbosch (US) oor die studie uitgereik is, het die span van die jongste opname- en statistiese metodes gebruik gemaak om getalleskattings (bevolkingsgrootte) uit skeepsopnamedata te genereer.
Die dolfyne is gevind deur 'n kombinasie van visuele waarnemings van die skip se dek af, en deur middel van onderwater akoestiese opnames wat gemaak is van 'n stel hidrofone (onderwatermikrofone) wat 400 m agter die vaartuig gesleep is.
Die bevindinge is ook in die wetenskaplike joernale Frontiers in Marine Science en die African Journal of Marine Science gepubliseer.
Nimpa, wat oor sowat 25% van Namibië se kuslyn strek, is geleë in die noorderlike Benguela-stroom se opwellingsgebied, een van die mees produktiewe mariene ekostelsels ter wêreld.
TWEE SPESIES
Oor die twee spesies wat bestudeer is, sê dr. Simon Elwen, direkteur van navorsing by die Namibiese Dolfynprojek (NDP), dat Heaviside se dolfyne so effens kleiner as Afrika-vaaldolfyne is en ook duidelike wit merke op hul sye het, asook 'n duidelike, driehoekige rugvin.
“Hulle kom in kleiner groepe voor en spring met 'n duidelike rolbeweging uit die see.
“Afrika-vaaldolfyne kom gewoonlik in groter groepe voor – tussen 20 en selfs meer as 100 – en hulle spring 'platter' uit die see, asof hulle oor die seeoppervlak skuif,” verduidelik hy in 'n video wat die navorsingspan hieroor in die sosiale media gedeel het.
“Hul rugvin vorm ook 'n duidelike geboë driehoek.
“Hierdie dolfyne kom slegs in die Suidelike Halfrond voor, alhoewel daar baie soortgelyke spesies in die Noordelike Halfrond is. Hulle kom die meeste langs die kusgebied van suidelike Amerika asook westelike dele van suidelike Afrika voor, en by Nieu-Seeland. Elkeen van die groepe is hul eie subspesie,” sê hy.
“Heaviside se dolfyne is endemies tot die Benguela-stroom langs ons kus. Hulle kom dus net vanaf Kaapstad tot net-net in suidelike Angola se seewater voor.”
BEDREIGINGS
Elwen sê Suider-Afrika is gelukkig in die sin dat die impak van menslike bedrywighede op die see se ekostelsel heelwat minder as elders is.
“Dit word wel geraak deur aktiwiteite soos akwakultuur, oormatige hengelary, toerisme en die verstrengeling van seediere in allerhande mensgemaakte voorwerpe en besoedeling.
“Oormatige hengel is 'n probleem en die Benguela-seestroom gaan die afgelope dekades onder massiewe oormatige hengel gebuk. Klimaatsverandering bedreig ook die dolfyne omdat hulle in 'n geïsoleerde gebied van koue water woon,” sê hy.
Elwen, ook mededirekteur van Sea Search, sê die praktiese uitvoering van die studie was uitdagend.
“Ons het 24 uur per dag die hidrofone en navigasie gemonitor, en dit op 'n kleinerige boot in redelike rowwe seewater. Ons is egter baie tevrede dat ons nou uiteindelik die resultate kon publiseer.
ONDERWATER-ORE
Nog een van die outeurs, dr. Tess Gridley, mededirekteur van Sea Search en die NDP, het verduidelik die vermoë om die teenwoordigheid van diere te identifiseer terwyl hulle onderwater is, het die opsporingskoers verbeter en help om te verseker dat diere nie gemis word nie.
Sy sê dolfyne span klank in om kos te vind, maar ook om met mekaar te kommunikeer.
“Hulle gebruik dit ook om vas te stel waar voorwerpe is, wat prakties beteken hulle 'sien' hul omgewing deur polsklanke. Hulle prosesseer die eggo's wat van voorwerpe af terugbons – en dit is hoe hulle kos vind,” verduidelik sy.
Gridley is 'n nadoktorale navorsingsgenoot in die departement plant- en dierkunde by US en 'n navorsingsgenoot by die Universiteit Kaapstad.
“Alhoewel die visuele opnamespan bedags baie doeltreffend was, was ons deur die sleep van hidrofone ook in staat om diere in swak weerstoestande en snags waar te neem. Dit het die opname baie meer kostedoeltreffend gemaak.
“Die akoestiese opnamemetode het ook daartoe gelei dat navorsers Heaviside se dolfyne in veel dieper water waargeneem het as wat verwag is, wat nuwe insig bied oor hoe die dolfyne die gebied bedags en snags gebruik,” verduidelik sy.
“Terwyl die aantal dolfyne in die Nimpa goed vergelyk met soortgelyke bevolkings in ander gebiede, het ons nie toegang tot historiese data nie. Dit is dus moeilik om te sê of die Namibiese bevolking verminder of vermeerder het,” sluit die navorsers af.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie