Baba brand dood
Baba brand dood

Baba brand dood

Verskeie selfmoorde en onnatuurlike sterftes het die naweek plaasgevind, wat onder meer ’n vrou insluit wat in ’n kerk ineengestort het.
Francoise Steynberg - 'n Babameisie het Saterdag in 'n hut doodgebrand ná haar ma haar alleen by 'n vyfjarige seuntjie gelos het.

“Asteria Johannes het omstreeks 08:00 in 'n hut in die Uuyoka-nedersetting naby Onayena in die Oshikotostreek doodgebrand,” lui die Namibiese polisie se misdaadverslag vir die naweek.

"Sy is na bewering alleen saam met ‘n vyfjarige seuntjie in die hut gelos toe haar ma en ouma gaan water haal het. Die seuntjie kon daarin slaag om uit die hut sonder enige beserings te ontsnap," sê die polisie.

Die polisieondersoek duur voort.



‘n Vrou wat in kraam was toe sy Vrydag om middernag by die Engela-staatshospitaal aangekom het, het gesterf.

“Me. Ndapewoshali Daniel het gesterf nadat die dokter glo vir haar ‘n inspuiting gegee het en haar toestand verswak het,” sê die polisie.

Op Otjiwarongo het ‘n 30-jarige vrou, me. Elizabeth Haihambo, Sondag omstreeks 12:30 in 'n kerk ineengestort en gesterf. 'n Nadoodse ondersoek sal die oorsaak van haar dood bepaal.

Dieselfde geld vir mnr. Roelof Swart (45), wat Sondag omstreeks 15:00 by die Engen-vulstasie op Okahandja in ‘n sittende posisie dood aangetref is.

‘n Man is in hegtenis geneem nadat mnr. Mike Hauta (33) Sondag omstreeks 20:00 in die Okandjatu-lokasie glo met ‘n mes in sy linkerskouer gesteek is. Hy het op die toneel gesterf.

ONGELUKKE

Twee ongelukke die naweek het die lewens van drie mense geëis.

Sondag omstreeks 07:00 het twee Suid-Afrikaners, mnr. John Felix Davids (65) en die 60-jarige me. Susan Julius, op die pad tusen Grünau en Keetmanshoop in ‘n ongeluk gesterf.

Volgens die verslag het die bestuurder, Davids, glo sowat 100 km van Keetmanshoop af beheer oor die voertuig verloor.

Albei het op die toneel gesterf en hul naasbestaandes is van hul dood ingelig.

Die ander ongeluk het Vrydag omstreeks 22:30 op die Iikokola-grondpad naby Tsandi plaasgevind.

“Die bestuurder, mnr. Sam Shafiishuna Negongo (29), het na wat verneem word beheer oor sy voertuig verloor en dit het omgeslaan. Hy is op die toneel dood,” sê die polisie.

Vier mense, wat drie mans en een vrou insluit, het die naweek glo selfmoord gepleeg.

BEWEERDE VERKRAGTINGS

Op die plaas Rooidak naby die Spitzkoppe in die Usakos-distrik is 'n negejarige meisie Dinsdag omstreeks 20:00 glo deur 'n 56-jarige beeswagter verkrag.

Hy is in hegtenis geneem en sou Maandag in die hof verskyn.

'n Twintigjarige vrou is Saterdag omstreeks 03:00 na bewering deur vier mans in Otjomuise in die hoofstad verkrag.

“Die vrou het glo aan die deur van 'n huis geklop toe die onbekende verdagtes haar glo gegryp en uit die erf na ‘n rivierbedding gesleep het. Hulle het haar glo met ‘n mes gedreig en aangehou voor hulle haar verkrag het,” sê die polisie.

Niemand is in hegtenis geneem nie.

Twee mense is Vrydag by die Uukwamatsi-kroeg in die Havana-woonbuurt in die hoofstad glo per ongeluk deur ‘n sekuriteitswag van Shilimela Security Services raakgeskiet.

“Die voorval het omstreeks 20:00 plaasgevind toe 'n groep mense in die kroeg amok gemaak het. Die sekuriteitswag aan diens het probeer om hulle uitmekaar te hou, maar hulle het na bewering gewelddadig geraak,” lui die verslag.

“Die sekuriteitswag het 'n waarskuwingskoot afgevuur. Een van die amokmakers het die sekureitswag glo geskop, waarná sy wapen glo afgevuur het.”

'n Veertigjarige vrou en 'n 24-jarige man is getref. Die verdagte is in hegtenis geneem en die polisieondersoek duur voort.

Kommentaar

Republikein 2025-04-07

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer